Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
G’n ‘almal’ wil terug kantoor toe nie

Werknemers is glad nie so gretig om terug te keer kantoor toe as wat sommige eiendomsmaatskappye voorhou nie.

Kantoorwerkers in talle stede moet een tot drie uur per dag in verkeer deurbring om by die werk te kom. Hulle is langtand om terug te keer kantoor toe as hulle eers sien hoe produktief hulle van die huis af kan werk.

Dis eerder meestal maar werkgewers en eienaars van kantoorgeboue wat mense terug op kantoor wil hê.

Só meen John Loos, eiendomstrateeg van FNB Commercial Property Finance.

Dis ’n verwysing na uitsprake deur maatskappye soos Redefine dat die vraag na kantoorruimte nie op lang termyn gaan daal nie.

LEES OOK: Redefine: Mense sál terugkeer kantoor toe

Loos het op ’n bespreking van FNB se makelaarspeiling oor eiendom in die tweede kwartaal gesê in baie stede van die wêreld mors mense een tot drie uur in die verkeer, met die gepaardgaande besoedeling, stres en verkeersopeenhopings. Dit is dus vanselfsprekend potensieel veel meer produktief om vol te hou om van die huis af te werk ná die Covid-19-pandemie.

In Londen wil tot die helfte van maatskappye voortgaan daarmee.

LEES OOK: Werk van huis af bly ná Covid, maar kan angel hê

Dis wel so dat die persoonlike interaksie van tyd tot tyd gemis word, maar dis waarskynlik werkgewers wat oordryf oor hoe graag mense wil terugkeer kantoor toe, meen Loos.

“Baie bestuurders soek beheer – hulle wil hul mense voor hulle sien.”

Wat ook misgekyk word in die debat oor die werk-van-die-huis-tendens is dat kantoorvraag ook daal weens indiensnemingsyfers wat gekrimp het, veral in die finansiële, eiendom- en sakedienste.

Loos beklemtoon die tendens van werk van die huis af is iets wat al oor ’n dekade aankom; verlede jaar was bloot ’n versnelling daarvan.

“Daar sal ’n normalisering kom, waar deeltydse maar ook heeltydse werk van die huis af ’n langtermyntendens sal word.”

Dis minder tydmors om onproduktief rond te ry na verskillende plekke in ’n stad om by verskillende vergaderings uit te kom. Hy verwag ’n toename in “hotdesking” waar kantoorruimte doeltreffender benut word. Dit behels dat ’n kantoor ’n aantal lessenaars het, minder as sy werknemers, en dat mense sit waar hulle plek kry wanneer hulle wel inkom kantoor toe.

Die dae van permanente persoonlike kantore vir individue is waarskynlik getel, meen Loos.

Terselfdertyd sal digter benutting van ruimte op mediumtermyn beperk word weens die vereiste vir sosiale afstand weens die pandemie.

Dit skep uitdagings vir prima-kantoornodusse in plekke soos Kaapstad en Sandton. Selfs in Sandton is daar nou ’n ooraanbod van wooneenhede, met ’n leegstaansyfer van tot 27%. Hulle sal iets moet doen om moontlike stedelike verval te keer, sê Loos.

Volgens Loos is Johannesburg op goud gebou, maar die stad sal homself moet herontdek. Dit is nou meer ’n dienstesektor-stad as ’n mynboustad, en verloor die meeste weens die semigrasie van sakelui wat na die kus skuif.

John Loos, eiendomstrateeg by FNB Commerial Property Finance.

Nywerheidsgeboue blom, hotelle ly

Net nywerheidshuurders het herstel tot die vlakke voor die pandemie, maar kantoor- en winkelhuurders het tot op ’n punt herstel en daarna begin water trap, wys die makelaarspeiling.

Hotelle en daarna kantore kry vanjaar die swaarste.

Hotelle se inkomste is steeds ver onder die vlakke van voor die inperkings. Die inkomstevlakke by hotelle was in April vanjaar steeds 57% laer as voor die inperkings.

Baie van die sakereise sal nooit weer terugkeer nie omdat videokonferensies nou algemeen raak.

In die kantoorsektor word misgekyk dat die afname in kantoorgebruik gedryf word deur die afname in indiensneming in die finansiële, eiendoms- en sakedienste.

Kleinhandel het byna herstel, maar is steeds effens laer as twee jaar gelede. Dis veral restaurante, koffiewinkels, wegneem-eetplekkke en spyseniers wat nog 8,4% minder inkomste ontvang as in April 2019.

Loos verwag die hotelsektor sal eers teen 2024 tot 2019-vlakke herstel, met nywerheid wat gouer sal herstel en die ander twee eiendomsektore, kantore en winkels, op sy hakke.

Platteland kry lewe

Malusi Mthuli, streekbestuurder van FNB Commercial Property Finance in KwaZulu-Natal, sê tesame met die werk-van-die-huis-tendens sal 5G-internettegnologie die eiendomsmark in plattelandse gebiede aanwakker.

Winkels en residensiële eiendom in kleiner dorpe staan stewig danksy dié tendens asook welsynstoelae wat nie tydens die pandemie gestaak is nie.

Mthuli wys daarop dat die druk op die kantoorsektor ’n meer buigsame huurkontrak-omgewing skep. Meer maand-tot-maand-kontrakte word gesluit eerder as langtermynkontrakte.

Dit is veral ook weens die Mededingingskommissie se stappe teen eksklusiewe handelsregte by groot winkelsentrums, wat selfs groot winkelgroepe nou dwing om meer buigsame huurkontrakte te sluit.

Nywerheidseiendom in die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal is steeds veilige beleggings, volgens Mthuli. Die bottelnekke en ondoeltreffendheid in die Durbanse hawe het in die guns van nywerheidseiendom getel, want goedere moet nou langer gestoor word as wat beplan is.

Meer oor:  Fnb  |  John Loos  |  Kantooreiendom  |  Werk Van Huis Af  |  Handelseiendom  |  Winkelsentrums  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.