Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Goedkoop huise ‘nie haalbaar’ in dié Kaapse gebou
’n Voorstelling van The Vogue wat FWJK Developments beplan om in Buitengracht in die Kaapstadse middestad te bou. Foto: FWJK

Die ontwikkelaar van ’n gebou van 39 verdiepings in die Kaapstadse middestad sê dit is eenvoudig nie haalbaar om goedkoop behuising by dié ontwikkeling in te sluit nie en dat ’n hofsaak om hom te dwing om dit te doen, duisende werkgeleenthede sal raak.

Die drukgroep Ndifuna Ukwazi het Vrydag ’n aansoek by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien om die metroraad se goedkeuring van The Vogue aan die Buitengracht te laat hersien en tersyde te laat stel.

Dave Williams-Jones, uitvoerende hoof van die ontwikkelaar, FWJK Developments, het Vrydag in reaksie gesê die ontwikkeling is net minder as ’n jaar gelede “onherroeplik” deur die metroraad goedgekeur.

“Die rede waarom ons nie bekostigbare behuising in ’n hoëtegnologiegebou van 39 verdiepings met parkering kan insluit nie, is omdat die struktuur geweldig duur is. Goedkoop behuising is meer gepas in ’n gebou van sowat vier verdiepings met parkeerplek op grondvlak.”

Volgens Williams-Jones stel Ndifuna Ukwazi duisende poste in gevaar in sy poging om die gemengde ontwikkeling van R1,4 miljard te vertraag. Die plan is om teen die eerste kwartaal van 2020 met bouwerk te begin.

“Die hofsaak teen die metroraad en FWJK kan moontlik die bouwerk met tot drie jaar vertraag.”

Williams-Jones sê hy is bewus van die krisis ten opsigte van bekostigbare blyplek in Kaapstad, maar meen daar moet ’n “redeliker benadering tot die behuisingskwessie wees”.

Hy sê sy aansoek vir die ontwikkeling was onderhewig aan ’n behoorlike hersiening en openbaredeelnameproses.

“Die ironie is dat Ndifuna Ukwazi veg vir bekostigbare behuising in die stad, maar uiteindelik verhinder dat ’n geraamde 9 000 poste regstreeks en onregstreeks tydens die bouwerk geskep word.”

Omdat die grond so duur is, moet ontwikkelaars soveel moontlik woonstelle bou om die projek haalbaar te maak, sê Williams-Jones.

“Die enigste ander opsie wat nou vir FWJK beskikbaar is, is om die residensiële gedeelte van die projek te verwyder – waarteen Ndifuna Ukwazi onder meer beswaar maak – en te fokus op ’n gemengde ontwikkeling wat net ’n hotel, kantore en winkels behels. Dit sal steeds lei tot vertragings omdat die ontwikkeling herontwerp sal moet word en goedkeuring daarvoor opnuut gekry sal moet word.”

Kaapstad ervaar ’n krisis ten opsigte van bekostigbare behuising. Armer inwoners bestee tot 40% van hul inkomste om lang afstande na die stad te reis.
Ndifuna Ukwazi

Ndifuna Ukwazi het Donderdag in ’n verklaring gesê hy wend hom tot die hooggeregshof om die metroraad se magte en verpligtinge uiteen te sit vir die bevordering van ruimtelike geregtigheid deur die verskaffing van bekostigbare behuising wanneer ontwikkelings op private grond goedgekeur word.

“Kaapstad ervaar ’n krisis ten opsigte van bekostigbare behuising. Armer inwoners bestee tot 40% van hul inkomste om lang afstande na die stad te reis. Die metroraad het die magte en die verpligting om goedkoop behuising in private ontwikkelings te bevorder om arm en werkersklasinwoners terug te bring na die stad, naby aan werkgeleenthede, beter gesondheidsorg, skole en ander geriewe.”

Ndifuna Ukwazi sê in die verklaring hy het reeds in September 2017 teen die ontwikkeling beswaar gemaak op grond daarvan dat dit “onbekostigbaar is vir sowat 90% van Kapenaars, waarvan die meeste arm en van die werkersklas is”.

“Die onbekostigbaarheid van dié ontwikkeling en ander soortgelykes verskans ruimtelike apartheid, waar bruin en swart mense altyd toegang tot die middestad ontneem is. The Vogue-ontwikkeling is simbolies van ’n beplanningstelsel wat blind teenoor ras en klas is. Elke nuwe ontwikkeling sonder bekostigbare behuising wat die metro goedkeur, verskans ’n stelsel van rassesegregasie en ongelyke toegang tot dienste.”

Meer oor:  Kaapstad  |  Behuising  |  Eiendom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.