Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Grit lewer robuuste resultate

Die Afrika-gefokusde Grit Real Estate, wat ’n primêre notering op die JSE het, ’n sekondêre notering in Mauritius en verlede jaar primêr op die Londense aandelebeurs (LSE) genoteer is, het ondanks uitdagende toestande ’n stel robuuste tussentydse resultate vir die ses maande tot einde Desember 2018 gelewer.

Die groep het ’n halfjaardividend van 5,25 Amerikaanse sent per aandeel verklaar, wat 87% van die uitkeerbare verdienste verteenwoordig wat gegenereer is. Sy bruto huurinkomste het met 25,9% geklim tot $18,7 miljoen en sy bedryfswins was 75,7% hoër op $7,3 miljoen.

Die Cads ll-kantoorgebou in Accra, Ghana, wat aan Tullow Oil verhuur word. Die kapitaal wat ingesamel is deur Grit se Londense notering is onder meer gebruik om die transaksie te voltooi.

Grit is die enigste genoteerde eiendomsgroep wat internasionale eiendomsbeleggers blootstelling bied aan hoë groeigeleenthede in Afrika-ekonomieë buite Suid-Afrika.

“Die groep het sy beleggingstrategie in die besige oorsigtyd voortgesit en het ’n robuuste strategiese, finansiële en bedryfsvertoning gelewer ná die suksesvolle notering op die LSE op 31 Julie 2018,” sê Bronwyn Corbett, stigterslid en uitvoerende hoof.

Toe die groep op die LSE genoteer het, was sy blootstelling aan beleggers in Londen 12%. Sedertdien het dit tot 15% toegeneem.

Bronwyn Corbett, stigterslid en uitvoerende hoof van Grit Real Estate.

Corbett sê Grit het die $132,2 miljoen kapitaal wat deur die notering ingesamel is, gebruik om strategiese verkrygings in Ghana en Mosambiek te voltooi. Dit sluit in ’n belang van 50% in die Cads ll-kantoorgebou in Accra, Ghana, wat volverhuur is aan Tullow Oil. “Die verkryging van Anadarko se korporatiewe verblyf en die Amerikaanse ambassade het ’n positiewe uitwerking op die groep se netto batewaarde teweeggebring.”

Die portefeulje is in lande in Noord-, Wes-, Oos-Afrika en in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG). Die lande word deur verskillende ekonomiese drywers aangedryf en volg nie dieselfde siklusse nie. Die eiendomme is in die kleinhandel-, die gasvryheid- en die finansiëledienstesektor.

92,3% van die huurinkomste is tans afkomstig van multinasionale huurders.

Corbett verwag dat die kleinhandeleiendomsektor uitdagend sal bly teen die agtergrond van die onseker ekonomiese vooruitsigte. “Deur die geleenthede wat die Londense notering meebring, is ons wel goed geplaas om selektief bates van goeie gehalte tot die portefeulje toe te voeg.”

Die fokus is op bates wat aan multinasionale korporatiewe ondernemings verhuur word wat huurstrome in harde valuta inbring en só verseker dat potensiële beleggings waarde toevoeg.

Meer oor:  Eiendomsbeleggings  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.