Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Gróót afslag op bates vir beleggers in Wiese se firma
Tim Vaughn, mede- uitvoerende hoof van Tradehold verantwoordelik vir die groep se Britse eiendomsportefeulje.

Aandeelhouers in Christo Wiese se eiendomsgroep Tradehold kry sy Britse bates teen ’n groot afslag, gegrond op die jongste waardasies.

Friedrich Esterhuyse, mede- uitvoerende hoof van Tradehold, het Donderdag verduidelik ’n onlangse transaksie rakende sy Suid-Afrikaanse eiendomsfiliaal Collins het dié bates op R9,60 per aandeel gewaardeer.

Teen die huidige aandeelprys op die JSE van R12,80, beteken dit dus die mark waardeer die Britse bates op R3,20 per aandeel.

Op grond van Tradehold se som-van-die-dele-waardasie per aandeel is die hele groep egter R23,50 per aandeel werd, bestaande uit R9,20 vir die Britse bates, R10,80 vir Collins, R1,80 vir die Namibiese eiendomme, R1,50 vir ander Afrika-bates wat nog nie verkoop is nie, en 40c vir die Britse onderneming wat gedienste kantoorruimte verhuur.

Esterhuyse het by ’n voorlegging aan ontleders oor Tradehold se syfers vir die boekjaar tot einde Februarie gesê hulle glo die Britse bates is eintlik soveel as R13 per aandeel werd.

Noteer as reit op JSE

Tradehold wil Collins teen 2022 as ’n eiendomsbeleggingstrust (reit) op die JSE noteer om verdere waarde aan aandeelhouers te ontsluit.

Esterhuyse is baie opgewonde oor die vooruitsigte vir sy Britse onderneming The Boutique Workplace Company, wat gedienste kantoorruimte verhuur.

Tim Vaughn, mede- uitvoerende hoof van Tradehold wat vir die Britse bedrywighede verantwoordelik is, sê die politieke omgewing in Brittanje is tans “heeltemal bisar”. Maar ondanks die politieke verwarring oor Brexit het die swakker pond meegehelp dat daar steeds beleggings na Brittanje stroom.

Volgens Vaughn is daar ’n ooraanbod van kleinhandel-eiendom in Brittanje. Eens bekende handelsmerke het nie meer soveel waarde as voorheen nie. Die groei in aanlyn-inkopies verg ’n nuwe benadering tot kleinhandelontwikkelings.

Daar is ook erge koste-inflasie vir eienaars van kleinhandeleiendom. Hy kla dat die eiendomsbelasting op sakepersele in sommige munisipale gebiede in Brittanje meer is as die huurinkomste wat op die perseel verdien kan word.

Friedrich Esterhuyse, mede- uitvoerende hoof van Tradehold verantwoordelik vir sy Suid-Afrikaanse eiendomsbates.

Leefstylervaring gesoek

Ondanks die uitdagings in die Britse kleinhandelsektor is daar volgens Vaughn geen bewyse dat daar ’n verlangsaming in verbruikersbesteding is weens Brexit nie. In Maart was Britse kleinhandelverkope die beste sedert April 2002, en het op ’n jaargrondslag met 6,6% gestyg.

Maar mense bestee wel hul geld op ander maniere as in die verlede. Tradisionele winkelsentrums kan nie meer oorleef nie, maar moet aanpas om ’n leefstyl-ervaring te bied.

Vaughn sê hoewel aanlyn-inkopies toeneem, gaan 86% van alle verkope steeds via ’n fisieke winkel. Mense soek meer outentieke ervarings. Daar is byvoorbeeld ’n vraag na onafhanklike koffiewinkels wat ’n ordentlike koppie koffie kan voorsit. “ ’n Skot wat bekend is vir sy spaarsamigheid is steeds bereid om £2 vir ’n koffie in ’n vingerhoed te betaal as £2 vir koffie in ’n emmer, as die eersgenoemde koffie ’n goeie ervaring bied.”

Moorgarth, Tradehold se Britse eiendomsfiliaal, is dus voortdurend besig om sy winkelsentrums aan te pas. Hy sal eerder buigsame korttermyn-huurkontrakte met onafhanklike winkels sluit as langtermyn-kontrakte met tradisionele handelsmerke wie se fut uit is. Die inkomstestroom is dan wel meer wisselvallig, maar dit is divers.

Vaughn sê jong mense se bestedingspatrone verander. Die Britse kleinhandelmark het in die 30 jaar wat hy in die bedryf was meer in die afgelope drie jaar verander as in die vorige 27 jaar. Hy vertel sy dogter sê byvoorbeeld sy sal eerder meer geld bestee om na die gimnasium te gaan as om iets by ’n winkel te gaan koop.

Meer oor:  Tradehold  |  Christo Wiese  |  Eiendomsgroep  |  Beleggers  |  Brittanje  |  Eiendomme  |  Bates
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.