Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Growthpoint ervaar moeilikste mark nóg

Die mark waarin genoteerde eiendomsgroepe bedrywig is, is tans die uitdagendste wat dit nóg was en die gebrek aan ekonomiese groei en swak sakevertroue is besig om sy tol te eis.

Norbert Sasse, groep- uitvoerende hoof van Growthpoint.

Nie net die kantoorsektor loop deur nie, maar ook gaan die ander twee subsektore van handelseiendom, kleinhandel- en nywerheidseiendom, gebuk onder swakker onderliggende beginsels, sê Norbert Sasse, groep- uitvoerende hoof van Growthpoint, die grootste genoteerde eiendomsfirma in die land.

“Een uit elke drie van ons huurders wat hul huurkontrakte moet hernieu, loer elders vir ’n beter transaksie.”

Hy sê huurders kraai tans koning in ’n erg mededingende mark en om nuwe huurders te lok en oues te hou, verg aanmoedigings soos ruimte wat spesiaal ingerig word na gelang van kliënte se behoeftes.

Ondanks die moeilike omgewing, het Growthpoint Woensdag ’n soliede stel resultate vir die jaar tot einde Junie bekend gemaak in ooreenstemming met die verwagting. Danksy streng kostebeheer het hy uitkeringsgroei van 6,5% per aandeel vir die boekjaar verklaar. Die uitkering van 208,6c per aandeel het vir die eerste keer 200c per aandeel oorskry. Sasse sê enige groei in die huidige mark is goeie groei en die groep is tevrede.

Growthpoint, wat ook eiendom in Oos-Europa en Austalië het, se bates het in die oorsigjaar met 8,7% tot ’n waarde van R132,9 miljard geklim en die meeste van die groei was afkomstig van die internasionale beleggings.

In die boekjaar het die reus meer as 1 miljoen m² se ruimte in sy Suid-Afrikaanse portefeulje van 454 eiendomme verhuur en tog het die totale leegstaansyfer opgekruip tot 5,4% van 4,4% die vorige jaar.

Die leegstand onder sy kantore was die hoogste op 8,6% oftewel 154 823 m², gevolg deur die nywerheideiendom met 4% en die kleinhandelportefeulje met 3,6%. Dié leegstaansyfers is laer as die bedryfsmaatstawwe.

Die nuwe No. 3 Silo in Kaapstad se ikoniese V&A Waterfront. Die Waterfront bly Growthpoint se stereiendom in Suid-Afrika.

Growthpoint besit 50% van die V&A Waterfront in Kaapstad en sy aandeel in dié bate het in die oorsigtyd 7% tot die verdienste voor rente en belasting (ebit) bygedra, vergeleke met 6,6% die vorige jaar.

Sasse sê die eiendom was ’n sterk vertoner vergeleke met die groep se ander beleggings. Die leegstaansyfer by die V&A is ’n lae 1,8% en daar is steeds ’n sterk vraag na ruimte, veral van voorkeurhuurders op die uitkyk vir korporatiewe kantore.

Hy sê Suid-Afrika het veelvoudige uitdagings, maar die genoteerde eiendomsektor en Growthpoint val nie oor die afgrond nie. “Die gehalte en aanbieding van ons portefeulje bly defensief.”

Estienne de Klerk, uitvoerende hoof van Growthpoint, sê hoewel die groep ’n sterk fokus het om in die buiteland uit te brei, belê hy steeds sowat R2 miljard per jaar plaaslik deur die bou van nuwe kantore en nywerheidseiendom en die opgradering van sy winkelsentrums.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.