Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Growthpoint se uitkering daal 1ste keer in 17 jaar

Growthpoint, die grootste genoteerde eiendomsfirma in die land, verwag dat sy uitkering per aandeel vanjaar minstens 15% laer gaan wees as verlede jaar.

Nuwejaar by die V&A Waterfront in Kaapstad... Sedertdien het sake dramaties agteruitgegaan met die koms van Covid-19.

Dit sal die eerste keer in 17 jaar wees dat Growthpoint, wat onder meer die helfte van die Victoria & Alfred Waterfront in Kaapstad besit, se uitkering laer as die vorige jaar is.

Growthpoint gebruik uitkering per aandeel as die belangrikste aanwyser van sy finansiële prestasie. Die daling in die uitkering word aan die impak van die Covid-19-pandemie toegeskryf, insluitend huurverligting wat aan huurders toegestaan is en agterstallige huur. Die maatskappy sê groot onsekerheid heers steeds oor die toekomstige impak van die krisis op die wêreldekonomie en op sy sake.

Histories is Growthpoint se beleid om 100% van sy uitkeerbare inkomste per aandeel uit te keer. Met die oog daarop om kontantvloei te beskerm oorweeg die maatskappy dit om hiervan af te wyk sonder om sy status as eiendomsbeleggingstrust (reit) in gedrang te bring. ’n Finale besluit hieroor word op 8 September geneem wanneer die direksie die resultate vir die 2020-boekjaar moet goedkeur.

Die resultate vir die boekjaar tot einde Junie word op 9 September uitgereik.

Growthpoint besit altesame 568 winkelsentrums, kantoorgeboue en nywerheidseiendomme ter waarde van nagenoeg R160,5 miljard. Dit sluit in die Brooklyn Mall in Pretoria, Die N1-stad-winkelsentrum, Paarl Mall, Bayside Mall in Table View en die kantoorgeboue The Edge en 144 Oxford in Sandton.

Donderdag se Sens-verklaring is een van talle handelsverklarings wat Growthpoint sedert die aanvang van die Covid-19-krisis uitgereik het om beleggers op hoogte te hou van die impak wat dit op sy sake het.

Die groep het op 23 Junie gesê die besoekerstalle na sy winkelsentrums styg soos die inperking verlig word, maar landwyd was dit steeds net 80% van wat dit in dieselfde tyd ’n jaar gelede was.

By die V&A Waterfront het die getal besoekers sedert die inperking van die normale 80 000 per dag tot so min as 3 400 per dag gedaal. Besoekerstalle was in Junie tussen 15 000 en 20 000 per dag.

Growthpoint sê die leegstand het verder gestyg van die halfjaar af in al drie die sektore waarin hy bedrywig is.

In Mei is van die rekeninge van R951,6 miljoen wat uitgestuur is net R689,1 miljoen of 72% betaal. In Junie is 83% of R795,4 miljoen van die rekening van R957,5 miljoen betaal.

Die maatskappy glo al hoe meer huurders van kantoorruimte gaan sukkel om hul huurverpligtinge na te kom en sal om sakeredding aansoek moet doen, vir verligting moet vra of hul kantoorruimte moet verklein.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.