Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Growthpoint sprei vlerke na Roemenië se ‘Sandton’
Norbert Sasse

Growthpoint Properties, die grootste genoteerde eiendomsreit in die land, het in die ses maande tot einde Desember sy buitelandse beleggingstrategie verwesentlik deur ’n aanvanklike belang van 26,9% teen 186,4 miljoen (sowat R2,8 miljard) in Globalworth met bates in Roemenië te koop.

Globalworth, die prominentste kantoorrolspeler in Roemenië, is op die alternatiewe beleggersmark (AIM) van die Londense aandelebeurs genoteer.

“Dié transaksie is deel van ons strategie om die uitkering wat ons uit nie-Suid-Afrikaanse bates verkry in die volgende drie tot vyf jaar te verdubbel,” sê Norbert Sasse, uitvoerende hoof van Growthpoint.

Die uitkering uit buitelandse bates verteenwoordig tans 15,9%, wat grootliks afkomstig is uit Growthpoint se belegging in Australië, en die oogmerk is om dit tot 30% op te stoot.

Sasse bestempel die transaksie as ’n konserwatiewe mark-toetrede tot ’n hoëgroei-beleggingsplatform.

Globalworth se 1 miljard-portefeulje behels grootliks moderne A- en P-graad kantore, nywerheidseiendomme, ’n residensiële kompleks en ontwikkelings. Die portefeulje is oorwegend in Floreasca, die hoofstad Boekarest se “Sandton” en word ondersteun deur lang huurkontrakte van tussen tien en 12 jaar met talle voorkeur- internasionale huurders.

Globalworth verteen-woordig ’n aanvanklike ekwiteits-opbrengs van 6% wat beduidend gaan toeneem oor die volgende drie jaar.
Norbert Sasse, hoof van Growthpoint

“Globalworth verteenwoordig ’n aanvanklike ekwiteitsopbrengs van 6% wat beduidend gaan toeneem oor die volgende drie jaar,” sê Sasse.

Growthpoint se stewige kapitaalinspuiting in die maatskappy sal opwindende nuwe groeistrategieë en vooruitsigte vir Globalworth ontsluit. Dit sluit in dat hy sy skuld wat tans op ’n vlak van 5% is tot tussen 3% en 4% kan herfinansier. Growthpoint voorsien ’n dividend van 0,22 per aandeel van Globalworth vir die 2017-boekjaar.

Sasse sê die groep wil sy blootstelling in Oos-Europa verder verhoog en lande soos Pole, Hongarye en die Tsjeggiese Republiek is in sy visier.

Die afgelope paar jaar het ekonomiese teenwinde en krimpende groeigeleenthede in Suid-Afrika genoteerde eiendomsmaatskappye op ’n streep na die groener weivelde in Sentraal- en Oos-Europa laat stroom. Dié lande, onder meer Pole, Kroasië, Montenegro, waarvan die meeste suksesvol uit die kommunistiese as verrys het, is ’n interessante alternatief vir vorige gunstelinge, Brittanje, Australië en Duitsland.

Die groot trekpleister in die lande is dat verkrygingsopbrengskoerse veel hoër is as skuldfinansieringskoste, wat dividendbetalings ’n onmiddellike hupstoot gee. In Suid-Afrika is dit nie die geval nie weens die hoër rentekoerse.

Estienne de Klerk, besturende direkteur van Growthpoint, sê transaksies in Roemenië kan tipies teen rentekoerse van 3% gefinansier word, terwyl verkrygingsopbrengskoerse tussen 6% en 9% beloop.

Uitkeringsgroei binne vooruitskouing

Growthpoint het gister uitkeringsgroei van 6,1% bekend gemaak vir die ses maande tot einde Desember, gerieflik binne sy vooruitskouing.

Sasse sê die groep se belang van 50% in die V&A Waterfront in Kaapstad, het 8,7% tot die uitkeerbare inkomste bygedra. In 2016 het 24,6 miljoen besoekers die V&A aangedoen, meer as ’n miljoen meer as die jaar vantevore. Die kleinhandelkomponent by die V&A het groei van 12,3% op ’n jaargrondslag in handelsdigtheid (omset per vierkante meter) ervaar.

Sasse bestempel die V&A as die waardevolste eiendomsbate in Afrika.

Meer oor:  Growthpoint Properties  |  Norbert Sasse  |  Reit  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.