Die eiendom wat deur die omstrede The New Age Media en Islandsite Investments gebruik is en in sakeredding is, gaan vir ’n tweede keer onder die hamer kom nadat die vorige transaksie deur die mat geval het.

Die eiendom in Midrand wat deur die omstrede The New Age Media en Islandsite Investments gebruik is en in sakeredding is, gaan op 9 April vir ’n tweede keer onder die hamer kom.
Park Village Auctions (PVA) en GoIndustry DoveBid Liquidity Services het in November verlede jaar ’n bod vir die eiendom aanvaar, maar daar kon nie voldoen word aan die waarborge vir die balans van die kopersom nie. Gevolglik het die sakereddingspraktisyn die transaksie gekanselleer en die afslaers die opdrag gegee om dit weer op te veil.
Clive Lazarus, ’n direkteur en hoofafslaer van PVA, wat weer eens die veiling gaan behartig, sê die eiendom word op 9 April 11:00 op die perseel opgeveil.
Die eiendom is in die Midrand Corporate Office Park in Lechwestraat in Midrand.
Dit bestaan uit drie halfvrystaande pakhuisgeboue, elk met ’n aangrensende dubbelverdieping-kantoorgebou. Die kantoorgeboue het elk ’n ontvangsarea, private kantore, ’n raadskamer, oopplankantore, ’n kombuis, kleedkamers en voldoende parkeerplek. PVA sê die eiendom is geskik vir een of drie individuele huurders.
“Die feit dat die eiendom weer in die mark is, is ’n bonus vir beleggers omdat dit groot waarde bied in ’n gebied wat gesog is onder huurders en kommersiële eiendomskopers,” sê Lazarus. Hy noem dat die vraag na kommersiële ruimte in Midrand die laaste paar jaar eksponensieel toegeneem het en dat verkoopsyfers daarop dui dat die neiging nog ’n ruk kan voortduur.
Hy sê die prominente ligging en sigbaarheid vanaf die N1-hoofweg dra tot die eiendom se trefkrag by.
Besigtiging vind op 8 April van 10:00 tot 16:00 op die perseel plaas. Meer besonderhede is beskikbaar op parkvillageauctions.co.za.