Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Hiér skuil die koste as jy huis koop

Dis die klein jakkalsies wat die wingerd opvreet, en met huiskoop is dit presies dieselfde.

Die versteekte koste van 'n huis koop kan dikwels net so groot, indien nie meer, as jou verband wees nie. Foto: Getty Images/Brand X

Vera Nagtegaal, uitvoerende hoof van versekeringsplatform Hippo.co.za, sê voornemende huiseienaars moenie die talle verskuilde koste wat met huiskoop gepaardgaan, onderskat nie.

Sy sê vir ’n huis van sowat R1,5 miljoen kan jou koste om in die huis te woon gemiddeld bykans 40% van jou verbandpaaiement beloop. Dit is dié koste wat mense onkant betrap.

Dis nie dat verskuilde koste ’n nuwigheid is nie, dit was nog altyd ’n realiteit van huiskoop, maar die probleem deesdae is die pas waarteen dié koste styg vergeleke met die styging in huispryse self.

’n Huis kan op die oog af bekostigbaar lyk, maar sodra byvoorbeeld jou diensterekeninge begin inkom, kan die werklike koste van huiseienaarskap die hoogte inskiet.

“Die koste van byvoorbeeld elektrisiteit speel tans die grootste rol in die agteruitgang van die nasionale indeks oor besteebare inkomste,” sê Nagtegaal.

Volgens die Suid-Afrikaanse Spaarinstituut se jongste syfers is Suid-Afrika se huishoudelike spaarkoers nou –0,5% van die bruto binnelandse produk – in der waarheid dus ’n ontsparingskoers. Dit was in Julie verlede jaar nog op ’n powere, maar minstens positiewe, 0,4%.

Huishoudings se skuldlas as persentasie van hul besteebare inkomste is nou gemiddeld 71,9%.

Met ander woorde, vir elke R100 wat ’n gesin verdien, word byna R72 gebruik om skuld af te betaal.

In hierdie ekonomiese klimaat vind Nagtegaal dit nie verrassend dat slegs 12,4% van huiseienaars dus nou onder die ouderdom van 30 is nie.

Só dok jy op

Nagtegaal gebruik as voorbeeld ’n huis wat R1,5 miljoen kos as basis vir ’n berekening van die koste van huiseienaarskap.

Indien jy ’n deposito van R200 000 neersit en ’n rentekoers van 10% op jou verband betaal, sal jou maandelikse paaiemente oor 20 jaar sowat R12 545 wees.

Eenmalige koste lyk so:

  • Deposito – R200 000
  • Verbandregistrasie – R25 607
  • Eiendomsoordragkoste – R27 760
  • Verband-aanvangskoste – R5 985
  • Prokureurskoste – wissel
  • Totaal: R259 352+

Só lyk die minimum maandelikse koste:

  • Verbandpaaiement – R12 545
  • Huisversekering – R400
  • Munisipale tariewe en belasting – R1 000
  • Lewensversekering – R200
  • Elektrisiteit – R2 000
  • Water – R500
  • Alarmstelsel – R500
  • Totaal – R17 145

Bogenoemde huisversekering is net vir die gebou self. Huisinhoudversekering moet nog afsonderlik bygereken word.

“Jou bank gaan vereis dat jy versekering het om enige strukturele skade aan die huis te dek. Al kan die bedrag wesenlik wissel, is dit belangrik om ook die inhoud van jou huis te probeer dek.”

Uiteindelik is daar nog koste wat kan bykom, van instandhouding tot aanpassings, en die koste om die eiendom op te gradeer.

Nagtegaal sê die belangrikste punt wat voornemende huiskopers in gedagte moet hou, is dat die verbandpaaiement net een deel van die koste van huiseienaarskap is.

Ongelukkig kyk die meeste voornemende kopers net na die prys op die geadverteerde bordjie en doen hul bekostigbaarheidsberekening op grond daarvan.

Ongelukkig is dit net die begin van wat ’n huis uiteindelik van jou sal eis.

Maar, sê Nagtegaal, “om ’n huis te besit bly steeds een van die grootste prestasies van ’n mens se volwasse lewe”.

Daar is dus geen beter rede om ’n mens se huiswerk behoorlik vooraf te doen nie.

  • Hierdie storie is opgedateer om 'n aanvanklike berekeningsfout te korregeer. Aanvanklik is die verbandpaaiement op 'n lening van R1,3 miljoen as R7 720 aangedui. Dit was inkorrek en is nou aangepas om die korrekte syfer van R12 545 aan te dui.
Meer oor:  Skuld  |  Verband  |  Huispryse  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.