Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Hoekom verkoper se prokureur?
In Suid-Afrika het die verkoper van ’n vaste eiendom die voorreg om die prokureur aan te stel om die registrasie van die oordrag van eiendomsreg in die aktekantoor te behartig. Foto: iStock

Sowat ’n jaar gelede het ek hieroor geskryf, maar dit is so ’n aktuele onderwerp dat ek dit weer in die soeklig wil plaas.

In Suid-Afrika, of in die meerderheid van provinsies, het die verkoper van ’n vaste eiendom die voorreg om die prokureur aan te stel wat die registrasie van die oordrag van eiendomsreg in die aktekantoor behartig.

’n Prokureur wat spesialiseer in die oordrag van vaste eiendomme word ’n aktevervaardiger genoem. ’n Aktevervaardiger is verantwoordelik om die oordrag van ’n vaste eiendom vanaf ’n verkoper na ’n koper te behartig.

’n Aktevervaardiger is ’n toegelate prokureur wat ’n addisionele eksamen geslaag het en deur die hooggeregshof van Suid-Afrika toegelaat is om as transportbesorger te praktiseer. Slegs ’n aktevervaardiger is geregtig om sekere aktes en dokumente wat in die aktekantoor ingedien word en geregistreer word voor te berei, te teken en uit te voer.

Die aktekantoor is die staatskantoor en vorm deel van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming.

Alle rekords van eiendomstransaksies en ander saaklike regte op onroerende goed word by die aktekantoor geregistreer en bewaar. Daar is verskeie aktekantore deur die land in die verskillende provinsies.

Die verkoper het die reg om ’n aktevervaardiger te nomineer.

Die verkoper het die reg om ’n aktevervaardiger te nomineer. Die verkoper en koper kan egter in die koopkontrak ooreenkom om die koper se aktevervaardiger aan te stel.

Alhoewel die reg om die aktevervaardiger aan te stel by wyse van ooreenkoms tussen die verkoper en koper gewysig kan word, is dit normale gebruik dat die verkoper die reg het om die aktevervaardiger te nomineer.

Ingevolge die gemenereg is ’n verkoper geregtig om die aktevervaardiger te nomineer en aan te stel.

In die saak van James vs. Liquidators of Amsterdam Township Company 1903 TS653 het die hof beslis dat die verkoper ingevolge die gemenereg geregtig is om die aktevervaardiger te nomineer. Dit, nieteenstaande die feit dat die koper die kostes van die registrasieproses betaal.

Hierdie beginsel is vandag nog van toepassing in al die provinsies in Suid-Afrika, behalwe in sekere gevalle in Kwazulu-Natal.

In Natal het die hof in die saak Kothandan vs. Arbuthnot 1920 NPD 223 erkenning gegee aan ’n bestaande gebruik in Natal dat by die weglating van ’n anders spesifieke bepaling die koper die reg het om ’n aktevervaardiger te nomineer. Daar kan aangevoer word dat dit net meer sin maak dat die verkoper die reg het om die aktevervaardiger te nomineer.

Die verkoper is ook gerus met die wete dat daar nie onnodige vertragings in die registrasieproses sal wees nie.

Die verkoper word gerusgestel deur die wete dat sy prokureur beheer het oor die transaksie en na sy of haar belange sal omsien. Die verkoper is ook gerus met die wete dat daar nie onnodige vertragings in die registrasieproses sal wees nie.

Die aktevervaardiger moet onder meer verseker dat die koper die volle koopprys betaal, verseker dat die koper die oordragskostes betaal en toesien dat die koper al sy/haar kontraktuele verpligtinge nakom.

Ferdi Verryn

’n Aktevervaardiger het ’n verantwoordelikheid om na sy kliënt, die verkoper, se belange om te sien. Die aktevervaardiger het egter ook ’n plig teenoor die koper om eerlik en hoflik op te tree.

Die aktevervaardiger is verplig om regverdig teenoor sowel die koper as verkoper op te tree.

Dit word algemeen aanvaar dat die verkoper as eienaar van die eiendom wat oorgedra word meer het om te verloor as dinge skeefloop en gevolglik ’n sterker reg het om die aktevervaardiger te nomineer.

Daar kan geargumenteer word dat die aanstelling van ’n aktevervaardiger deur die koper moontlik kan lei tot ’n botsing van belange en moontlike onetiese optrede.

Meer oor:  Eiendom  |  Prokureur  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.