Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Hokaai met skuld vóór registrasie van huis!
Daardie kredietkaarte en ander skuldkostes moet liefs nie lê en wag vir jou wanneer jy besluit om huis te koop nie. Foto: iStock

Huisleningskliënte weet dikwels nie dat sommige banke aanhou om hul kredietprofiele dop te hou en tot met verbandregistrasie bekostigbaarheidskontroles bywerk nie.

Dit beteken verbruikers wat nóg skuld aangaan nadat hul huislening goedgekeur is, kan vind dat die goedgekeurde bedrag verminder, die lening heeltemal afgekeur word of die rentekoers verhoog.

“Ons het gevind dat verbruikers dikwels nie daarvan bewus is dat die aangaan van verdere skuld kan lei tot ’n hersiening van die huisleningsaansoek nie,” sê Tommie Nel, krediethoof by FNB Huislenings.

“Ons hersien goedgekeurde lenings op ’n volgehoue grondslag tot met die verbandregistrasie by die aktekantoor wanneer die eiendom op die nuwe eienaar se naam oorgedra word.”

Enige nuwe ongunstige inligting wat teen enige van die applikante voor die verbandregistrasie gerapporteer word, soos betalings wat oorgeslaan word, wanbetaling of verdere skuld wat aangegaan word, kan tot hersiening lei.

Die hersiening sal die nuwe inligting op die applikant se profiel en enige nuwe skuldooreenkomste wat hy aangaan, in berekening bring.

Kliënte is geneig om ooroptimisties te wees wanneer dit by hul bekostigbaarheidsvlakke kom.
Tommie Nel van FNB

“Dit kan lei tot die herprys van die huislening, ’n laer bedrag wat aangebied word of, in sommige gevalle, die afkeuring van die voorheen goedgekeurde lening,” maan Nel. “Dit kan uiteraard ’n baie traumatiese ervaring wees. Die hersiening is egter nodig om die belange van die kliënt én die bank te beskerm.”

Die resultaat van oormatig verleende krediet beteken potensiële huiseienaars loop die risiko van opsegging van hul verband, waarvan sommige verbruikers nooit werklik herstel nie, omdat daar waarskynlik ’n tekort op die lening sal wees wat hulle steeds moet betaal. Dit kan boonop hul goeie kredietprofiel benadeel, wat hul vermoë om ’n eiendom te huur in die gedrang kan stel.

Nel sê kliënte is geneig om ooroptimisties te wees wanneer dit by hul bekostigbaarheidsvlakke kom en waarsku hulle om geen ekstra skuld aan te gaan nadat hul huisleningsaansoek goedgekeur is nie.

“Verbruikers maak nie altyd voorsiening vir onvoorsiene uitgawes of rentekoersstygings wanneer hulle hul huisbegroting opstel nie,” sê Nel.

“Dit benadeel hul vermoë om te herstel van dié uitgawes of styings en in sommige gevalle gaan kliënte dan ongesekureerde lenings aan om weer op hul voete te probeer kom.

Om te moet wag vir betaaldag om basiese huisitems te koop, kan ’n gevaarteken wees dat jy iets moet doen om die situasie te te verbeter.
Tommie Nel van FNB

“Sonder ’n gedissiplineerde oorsig van hul bestedingsvlakke sal dit egter op die lange duur meer skade as goed doen.”

Voordat jy enige verdere skuld aangaan – hetsy winkelkaarte, persoonlike lenings of voertuig-finansiering – neem jou algehele finansiële posisie in ag; maak seker jy het nie te veel skuld nie.

“Om te moet wag vir betaaldag om basiese huisitems te koop, kan ’n gevaarteken wees dat jy iets moet doen om die situasie te te verbeter.

“Dit is raadsaam vir nuwe huiseienaars om te wag tot ná die verbandregistrasie en eers ’n paar maande in hul nuwe huis te bly voordat hulle nuwe skuld aangaan,” is Nel se slotsom.

“Só kan hulle seker maak dat hul huisbegroting steeds balanseer nadat die verhoogde uitgawes wat met die koop van ’n nuwe eiendom gepaard gaan, geabsorbeer is.”

Meer oor:  Huiskoop  |  Huislening  |  Skuld  |  Huisverband
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.