Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Hotelgroep help in krisis én red poste

Terwyl die meeste hotelle in Suid-Afrika leeg staan weens die inperking, werk die Capital-hotelgroep aan ’n plan om sy hotelkamers te vul en sy personeel in diens te hou terwyl hy die land deur die koronakrisis help.

hotelkamer
Die Capital-hotelgroep neem toeriste in wat nie tans mag reis nie. Foto ter illustrasie: Pixabay

Soos die meeste ander hotelle het die besettingskoers van die groep se 1 600 kamers in nege hotelle in Johannesburg, Pretoria, Durban en Kaapstad oornag deur die vloer geval nadat pres. Cyril Ramaphosa op 15 Maart ’n ramptoestand aangekondig het.

Maar Capital het besluit om terug te baklei ter wille van die 550 mense wat hulle direk in diens het en nog 250 indirekte werkgeleenthede wat hul hotelle ondersteun. Hulle het toe reisigers ingeneem wat in Suid-Afrika aangekom het en 14 dae lank afgesonder moes word. Die hotelle bied suites, nie net kamers nie, wat beteken dit is goed ingerig vir langer verblyf.

Die groep het nuwe protokolle ontwikkel vir die reiniging en bestuur van die ruimtes, alles daarop gemik om gaste en personeel te beskerm teen Covid-19-besmetting.

“Ons hotelle het begin opvul en party was werklik nogal vol,” vertel Marc Wachsberger, besturende direkteur. Die groep het tans 800 kamers beskikbaar vir dié diens.

Intussen het belangstelling gegroei van gesondheidswerkers wat nie saans wil huis toe wil gaan en hul geliefdes aan die virus blootstel nie en ook van maatskappye soos versekeraars wat hul kernpersoneel wil beskerm deur hulle te isoleer. Hulle kan aanhou werk danksy die goeie internet in ’n gerieflike, gedienste ruimte.

Sedert Ramaphosa op 23 Maart die eerste inperking aangekondig het, kan net noodsaaklike dienste sake doen. Dis toe dat die groep besluit het om bo en behalwe die isolasie-geriewe vir gesonde mense, ook geriewe te bied vir mense wat positief getoets het vir Covid-19, maar geen simptome het nie.

Die departement van gesondheid het hulle die groen lig gegee om oop te bly, Discovery het aan boord gekom en die afgelope week is die eerste 124 kamers in die Capital Empire-hotel in Sandton vir dié doel beskikbaar gestel.

Die hotel bied ’n veilige tuiste vir mense wat Covid-19 onder lede het, maar geen simptome het nie en dus nie in die hospitaal hoort nie. “Mense wil nie huis toe gaan en die res van hul gesin aansteek nie,” verduidelik Wachsberger.

En dit teen ’n korting van 70% teenoor normale tariewe. “Dit gaan nie oor geldmaak nie. Ons net wil die land deur die krisis help en ons personeel se poste beskerm,” sê Wachsberger.

Die protokolle vir die geriewe vir positiewe mense is deur Discovery ontwikkel, wat ook verpleegdienste verskaf aan die perseel en R400 per nag van die akkommodasiekoste vir sy lede sal dek. As die gaste sieker word, sal daar vervoer wees om hulle hospitaal toe te neem. “Discovery se projeksies wys dat die virus Suid-Afrika in Mei baie swaar gaan tref. Die getal pasiënte wat positief toets vir Covid-19 gaan die hospitale na verwagting heeltemal oorweldig,” sê Wachsberger.

Dit beteken hospitaalbeddens gaan vorentoe al hoe skaarser word. Boonop word verpleegpersoneel nie aan onnodige risiko van positiewe, maar gesonde, pasiënte blootgestel nie.

“Een gas was so dankbaar vir die opsie want hy was in die hospitaal hoewel hy geen simptome het nie. Hy moes die volle prys vir ’n hospitaalbed betaal, maar sy mediese fonds wou dit nie dek nie,” vertel Wachsberger.

Wachsberger sê met soortgelyke planne kan die hele bedryf ’n bydrae lewer én werkgeleenthede beskerm.

“Ons skryf nou die resep daarvoor en hoop dat die hele bedryf dit sal navolg,” sê hy.

Volgens Lee Zama, uitvoerende hoof van Fedhasa, is die hotelbedryf gereed om sulke oplossings in die huidige krisis te bied, mits hulle minstens hul basiese koste kan dek.

Die fokus is tans daarop om kwarantyngeriewe vir die department van gesondheid beskikbaar te stel, maar die departement het streng vereistes. Dit sluit in dat net hotelle met meer as 100 kamers kwalifiseer en dat elke eenheid sy eie lugversorging moet hê, sê sy. As ’n eiendom vir kwarantyn in gebruik geneem word, neem die departement dit met die hulp van die polisie heeltemal oor.

Fedhasa se lede het potensieel sowat 66 800 kamers beskikbaar.

Meer oor:  Capital  |  Toerismebedryf  |  Inperking  |  Covid-19  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Toerisme  |  Hotelle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.