Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Huis bou is nie meer so belasting-slim
Dis die moeite werd om jou somme te doen voordat jy besluit om ’n nuwe huis te laat bou. Foto: iSTOCK

Om ’n nuwe huis te laat bou, hou baie voordele in, maar vir die meeste eerstekeerkopers is belastingbesparing nie een daarvan nie.

Baie jare was een van die grootste voordele om van-die-plan-af of in pas voltooide ontwikkelings te koop die feit dat “die prys wat jy sien, is die prys wat jy betaal”, met BTW wat by koopprys ingesluit is.

Dit het beteken dat kopers nie nog addisionele kontant moes opdok om die hereregte te dek nie, sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International Property Group.

“Met die hereregte-drumpel wat tans op R900 000 staan, is dit egter eenvoudig nie meer waar as dit kom by die meerderheid eerstekeerkopers wat tans ’n gemiddelde koopprys van tussen R750 000 en R800 000 betaal nie.

“Die werklikheid is dat daar tans geen belasting betaalbaar is op reeds bestaande eiendomme wat minder as R900 000 kos nie, maar 14% is steeds op nuut geboude huise in hierdie pryskategorie betaalbaar.”

Met ander woorde, kopers van nuwe huise sal prakties 14% minder vloerruimte vir hul geld kry as kopers van bestaande huise – en hulle sal boonop vorendag moet kom met kontant om die addisionele transaksiekoste soos regs- en verbandregistrasiegelde te dek, wat vir albei tipes eiendomme dieselfde is.

Boukoste

Boonop, as gevolg van die feit dat boukoste bly styg teen dubbel die koers van inflasie, is nuut geboude huise tans minstens 30% duurder as bestaande huise van dieselfde grootte.

Anders gestel, ’n nuut geboude huis sal waarskynlik minstens 30% kleiner wees as ’n bestaande huis teen dieselfde pryspunt.

“Dit beteken dat kopers wat vir minder as R900 000 koop, soveel as 44% meer vloerruimte kry as hul eweknieë wat ’n nuut geboude huis verkies,” sê Everitt.

“Ons glo dit het ook baie te doen met die huidige herlewing van belangstelling in baie van die ouer en meer bekostigbare woonbuurte in ons stede, veral as dit ook naby goeie skole, winkels, werkplekke en openbare vervoer is.”

Die voordele van nuwe huise sluit in die feit dat minder instandhouding betrokke is en die veiligheid en afwerkings beter is.

“Ons sien egter enorme belangstelling onder jong kopers in ouer wooneenhede in middestede wat uiteraard ruimer is as nuut ontwikkelde eenhede en wat by uitstek aantreklik is as dit onlangs gerestoureer of opgeknap is en in ’n stedelike verbeteringsgebied met goeie veiligheid en ’n lewendige naglewe geleë is.”

Bestaande meenthuise en kleiner huise in die ouer voorstede is eweneens in aanvraag, veral onder jong gesinne wat naby die nodige geriewe wil wees en verkies om van openbare vervoer gebruik te maak.

“Baie van hierdie kopers gee ook nie om om teen ’n laer prys huise te koop wat nie in ’n volmaakte toestand is nie, wat hulle mettertyd kan laat opknap of restoureer.

“So bring hulle nuwe energie na hierdie areas, want hulle is ook dikwels bereid om betrokke te raak by gemeenskaplike pogings om hul buurte te verbeter en te beveilig.

“Ons sien dit as ’n gesonde, positiewe tendens wat sal help om die verval in baie voorstede te voorkom en om die huisvoorraad in daardie gebied te bewaar en te verhoog, terwyl dit ook lei tot die skepping van klein besighede en werkgeleenthede,” is Everitt se slotsom.

Meer oor:  Huiskoop  |  Huismark  |  Nuwelingkopers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.