Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Huis in die mark? Foto’s kan maak of breek
Dis beter om ’n goeie kamera te gebruik eerder as ’n selfoon as jy jou huis afneem. Foto: iStock

Hetsy dit nou klere of eiendom is, almal koop op die ou end eintlik maar met hul oë. Daar is dus niks wat baie voornemende huiskopers meer afskrik as ’n aaklige foto van ’n eiendom as dit geadverteer word nie.

Volgens eiendomskenners is dit egter nie moeilik om dit suksesvol te doen nie. Daar is ’n paar eenvoudige wenke wat kopers moet volg ten einde hul eiendom in ’n japtrap deur middel van mooi foto’s te verkoop.

Só sê die indoena

Volgens Sandy Geffen, die uitvoerende direkteur van Lew Geffen Sotheby’s International Realty in Suid-Afrika, is alle huise nie dieselfde nie. Net so is alle fotograwe ook nie ewe talentvol nie. Dit is egter maklik om ’n fotograaf te vervang, maar nie so maklik om die voorkoms van die huis binne vir kopers aanloklik te maak nie.

Sy sê die grootste onding op foto’s is rommel, ’n huis wat deurmekaar is en bouvalligheid. Verkopers is geneig om vinnig te vergeet dat goeie foto’s van hul huis baie belangrik is.

“Daar is soms baie mooi huise met aaklige selfoonfoto’s op die verkooplyste. Aangesien die meerderheid van kopers hul soektog na ’n nuwe huis op die internet begin, is dit uiters belangrik om te verseker dat jy hoëgehaltefoto’s van jou eiendom het om die perfekte eerste indruk te maak,” verduidelik Geffen.

Sy meen dat onprofessionele foto’s nie net ’n paar duisend rand van die verkooptransaksie kan wegneem nie, maar ook uiteindelik ’n voornemende koper wegstoot.

Wenke van die agente

  • Volgens Geffen moet verkopers nooit toelaat dat foto’s wat uit fokus is, gebruik word om die betrokke eiendom te bemark nie. Foto’s wat uit fokus is, gee voornemende kopers miskien die indruk dat die verkoper iets wil wegsteek. Sorg dat foto’s van die mooiste dele van ’n huis in ’n advertensie gebruik word.
  • Herculene Visser, Lew Geffen Sotheby’s International Realty se gebiedskenner in die Kaapse woonbuurt Tokai, sê verkopers moenie te veel van hul persoonlike items op die foto’s hê nie. Dit laat ’n huis ongasvry en deurmekaar lyk.
Dit verkoop vinniger

Navorsing wat deur Redfin, ’n Amerikaanse eiendomsagentskap, gedoen is, dui daarop dat die gehalte van die foto’s van ’n huis wat in die mark is, wel ’n uitwerking op die verkoop daarvan kan hê.

Huise met professionele foto’s wat met ’n DSLR-kamera (digital single-lens reflex) geneem is, kry gemiddeld 61% meer bladbesoeke op ’n webwerf.

Die huise het ook ’n 47% hoër verkoopsprys per vierkante meter, volgens dié navorsing.

“Voordat dit afgeneem word, moet jy seker maak jou huis is skoon en netjies. Buite moet jy seker maak die tuin is goed versorg, en verwyder die swembad-skoonmaker voordat jy die swembad afneem.”

Sy beveel ook aan dat verkopers persoonlike en waardevolle items soos kunswerke wegpak voordat die binnekant van hul huis afgeneem word. Enig­iemand kan hierdie foto’s sien en jy wil nie ’n versoeking skep vir mense wat nie goeie intensies het nie.

“Sluit ook persoonlike dokumente in ’n kabinet weg en stoor versamelings in ’n veilige ligging weg van die huis.

“Hou jou motors se nommerplate, kredietkaarte en ander persoonlike identifikasie uit sig gedurende die fotosessie, sowel as op die dae wanneer jy die huis vir mense wys,” sê Visser.

Bêre foto’s en ander persoonlike items wanneer jy jou huis afneem.

Wys dít

Volgens Geffen moet jy ook foto’s van die gemeenskaplike areas soos die swembad, tuine en klubhuis in jou advertensie wys as jy ’n huis of woonstel in ’n kompleks of op ’n landgoed wil verkoop.

Gebruik die mees onlangse foto’s in jou advertensie – die foto’s kan nie oud wees nie. Moet ook nie foto’s wat in die winter geneem is vir bemarking in die somer gebruik nie.

“Feitlik alle huissoekers in die wêreld begin hul soektog op die internet. Aangesien hulle deur tientalle, indien nie honderde, eiendomme gaan, het jy ’n enkele sekonde om hul aandag te trek voordat hulle na die volgende advertensie aanbeweeg.

“Die enigste wyse waarop jy dit kan doen, is om goeie foto’s te hê,” sê Geffen.

Fotograaf se raad

Fiona Barclay-Smith, ’n fotograaf wat in luukse huise en argitektuurfotografie spesialiseer, sê goeie beligting is die sleutel tot goeie resultate.

Maak seker daar lê nie rommel op jou erf rond nie en dat die gras netjies gesny is.

“Die regte lig kan ’n eiendom groter laat lyk en aantrekliker maak. Ek hou daarvan om soveel ligte as moontlik aan te hê – selfs al is dit helder oordag, want dit skep ’n ander atmos­feer,” sê sy.

Volgens haar laat helder foto’s ’n huis vars lyk en lê dit klem op die gehalte van die eiendom. Sy waarsku egter dat jy die helderheid mooi moet balanseer ­sodat die foto nie uitgewas lyk nie.

Barclay-Smith se wenke om ’n huis lig en helder te laat lyk is:

  • Trek die gordyne oop;
  • Vervang swaar gordyne met blindings;
  • Gebruik gloeilampe met ’n ­laer watt-lading; en
  • Oorweeg dit om jou huis se mure ligte, neutrale kleure te verf.

Sy sê programme soos Photoshop kan ná die fotosessies ook help om die ligbalans in die foto’s aan te pas en ongewenste skaduwees te verwyder.

Huiseienaars moet egter vra om die foto’s te sien voordat dit geplaas word omdat foto’s wat te veel aangepas is, die verkeerde indruk oor die eiendom kan skep en tot teleurstelling lei.

“Onthou ook dat foto’s wat drasties verander is, soos ’n onaantreklike uitsig wat uit fokus gemaak is, as bedrog kan geld,” waarsku sy.

Meer oor:  Huismark  |  Foto  |  Huis Verkoop  |  Residensiële Eiendom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.