Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Huiskoop-manie laat pryse met 13,8% opskiet

Laer rentekoerse en ’n verandering in die soort woonplek wat in aanvraag is, het baie woema in die eiendomsmark geblaas.

Dít blyk uit die verbandvergelykingsfirma Ooba se jongste Oobarometer.

Home office
Die groter behoefte aan huise met aparte werkruimtes het gehelp om die eiendomsmark oor die afgelope jaar 'n hupstoot te gee, blyk uit die verbandvergelykingsdiens ooba se jongste oobarometer. Foto: Getty

Ironies genoeg is die laer rentekoerse en vraag na meer leefstyl-georiënteerde wonings juis deur die Covid-19-pandemie afgedwing.

Die gemiddelde huispryse van goedgekeurde verbande via Ooba was in die eerste kwartaal vanjaar 13,8% hoër as ’n jaar gelede, en die koopprys deur eerste huiskopers was ’n hele 15,1% meer.

“Die paradoks van dubbelsyfergroei in eiendomspryse vir residensiële eiendom te midde van ’n wêreldwye pandemie, tesame met die ergste internasionale en plaaslike ekonomiese insinking sedert die internasionale geldkrisis van 2008, is verbasend,” sê Rhys Dyer, uitvoerende hoof van Ooba.

In die eerste kwartaal van 2020 het Suid-Afrika pas die eerste harde inperking weens die pandemie betree. In daardie stadium was daar ’n inkrimping in eiendomspryse en was die toekoms onseker, met eiendomsagente oor die land heen wat nie sake kon doen nie. Dit is dus die syfers waarmee vanjaar se eerste kwartaal vergelyk word.

Nuwe kriteria

Maar binne ’n kwessie van ’n jaar het huiskopers ook hul kriteria vir die ideale huis aansienlik verander. Met die harde inperking is groot getalle werknemers, asook leerlinge en studente, gedwing om van die huis af te werk en te studeer. Vir ’n groot deel van die bevolking het dit ’n semi-permanente of selfs permanente maatreël geword. Gevolglik kyk huiskopers ook hierna wanneer hulle deesdae ’n nuwe eiendom soek.

huispryse

Eiendomme met afsonderlike werkruimtes, betroubare internetverbindings en meer ruimte vir gesinne wat langer tye saam by die huis deurbring, het dus in groter aanvraag gekom. Kopers vind ook groter eiendomme teen beter waarde vir geld in woonbuurte buite die middestede omdat hulle nie meer noodwendig elke dag hoef te pendel kantoor toe nie.

Gebiede wat voorheen as vakansiebestemmings beskou is, word nou opgesoek vir permanente huisvesting omdat mense geleenthede vind om te werk en te studeer van waar hulle ook al wil terwyl hulle ’n beter leefstyl geniet, verduidelik Dyer. Die huise in dié gesogte gebiede wat teen mededingende pryse bemark word, bly nie lank in die mark nie.

Deposito’s

Die ongekende lae rentekoerse en banke wat weer bereid is om lenings met lae of geen deposito’s toe te staan, dra ook by tot ’n ideale kopersmark, sê Dyer.

Ooba het in die eerste kwartaal vanjaar huisverbande vir 80,7% van sy aansoekers gevind, en 61% van hulle het nie eens ’n deposito nodig gehad nie. Byna 80% van die eerstekopers kon ’n huisverband kry sonder dat hulle ’n deposito moes neersit.

Eiendom is nou toegankliker vir eerstekopers wat voorheen net kon huur. Hulle mag vind hul huispaaiement is nou laer as wat hulle tans aan huurgeld moet bestee, sê Dyer.

Rentekoers

Die gemiddelde verbandgrootte was in die eerste kwartaal 13,3% meer as ’n jaar gelede, en verbande vir eerstekopers was 14,8% meer. Die gemiddelde rentekoers wat Ooba vir aansoekers kon vind, was die prima koers minus 0,05%, teenoor ’n jaar gelede se prima koers minus 0,02%. Die prima koers is egter in Januarie verlede jaar tot 9,75% verlaag en op 20 Maart verlede jaar tot 8,75%. Dit is daarna drie keer verlaag tot die huidige 7%.

Meer oor:  Ooba  |  Huispryse  |  Eiendomsmark
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.