Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Huiskopers langtand vir vakansie- en huurhuise

Huiskopers is steeds langtand om vakansiehuise of huise vir verhuring te koop, al is die toestande vir huiskoop tans nog baie goed.

Nie baie mense het op die oomblik aptyt vir ’n vakansiehuis nie. Foto: Pixabay

Rhys Dyer, uitvoerende hoof van Ooba, sê hoewel ideale toestande nog heers om huisverbande te kry is huiskopers nie gretig om eiendomme vir vakansiehuise of vir ’n belegging om te verhuur te koop nie.

“Dit mag weens die voortslepende ekonomiese en politieke onsekerheid, die groter leegstand en blywende kommer oor grondhervorming wees.”

Sowat 94% van huiskopers koop nog vir hulself.

Ooba se jongste kwartaallikse statistieke toon in die tweede kwartaal het huiskopers nog werk van die huis af in ag geneem wanneer ’n huis gesoek word.

LEES OOK: Huiskoop-manie laat pryse met 13,8% opskiet

Sy statistieke toon die gemiddelde huisprys het op ’n jaargrondslag in die tweede kwartaal vergeleke met die ooreenstemmende kwartaal verlede jaar met 16% gestyg. Dit is sterker as waarmee dit in die eerste kwartaal gestyg het.

Die gemiddelde koopprys is nou R1,4 miljoen.

Dyer meen dit dui daarop dat bestaande huiseienaars ook die lae koste om te leen benut om te verhuis na groter, veiliger of beter huise van waar hulle kan werk.

Hy meen die tendens sal voortduur namate die tuiswerkery al hoe meer vastrapplek kry.

Vlaag van eerste kopers taan

Die vlaag van huiskopers wat vir die eerste keer huis koop danksy die goeie toestande vir huislenings, het in die derde kwartaal van 2020 ’n piek van 54% van alle huislening-aansoeke bereik. In die tweede kwartaal het dit tot 48% van die totaal gedaal.

Die gemiddelde prys waarteen dié kopers ’n huis koop, het jaar tot jaar in die kwartaal met byna 11% tot R1,104 miljoen gestyg.

“Ten spyte van die vlakke van inperking wat nog ’n groot impak op baie sektore van die ekonomie het, verras die huismark steeds met die dubbelsyfergroei in pryse aan huiskopers wat die eerste keer ’n huis koop.”

Baie mededinging onder banke

Die mark word steeds as hoogs mededingend beskou en die besluite oor lenings en rentekoerse toon van bank tot bank groot verskille.

Ooba het ’n gemiddelde rentekoers van 0,14% onder die primakoers in die tweede kwartaal vir aansoekers bereik. Dit is 28 basispunte onder die primakoers plus 0,14% wat in die ooreenstemmende kwartaal verlede jaar bereik is.

Eerstekopers soek veral 100%-huisverbande. Byna 60% van dié huiskopers koop tans eiendom sonder ’n deposito.

Meer lenings goedgekeur

Volgens Dyer is daar nie ’n verskil in die aantal aansoeke wat in die tweede kwartaal ontvang is teenoor die eerste kwartaal nie. Die finale goedgekeurde verbande het egter met 12% op ’n kwartaalgrondslag toegeneem omdat banke meer verbande goedgekeur het en die gemiddelde verband groter is.

“Voortgesette mededinging tussen die groot banke om ’n groter aandeel in die huisleningsmark te kry, het tot ’n hoër goedkeuringsyfer, sowel as aantrekliker rentekoerse onder prima gelei. Die aptyt van die groot banke om lae- of geen-deposito-lenings aan te bied teen hoë lening-tot-waarde-verhoudings en kleiner afbetalingspaaiemente, het die ideale koop-omgewing geskep, veral vir die eerstehuiskopers.”

Die terugbetaling van ’n huislening van R1 miljoen het as gevolg van die 300 basispunte-daling in rentekoerse met 24% gedaal.

Meer oor:  Huurders  |  Vakansiehuise  |  Huurhuise  |  Huispryse  |  Eiendomsbeleggings  |  Huiskopers  |  Eiendomme  |  Eiendomsmark
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.