Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Huispryse: G’n skouhuis, maar dalk goeie tyd vir koop

Huispryse het in April steeds gestyg, maar met net 1,9%. Dit is die traagste groei sedert Desember 2009 toe Suid-Afrika sy pad uit ’n resessie baklei het.

Niemand mag trek nie. Dit kan voornemende kopers huiwerig kan maak om nou ’n huis te koop.

Dit is teenoor die hersiene groei van 2,5% in Maart, volgens FNB se maandelikse huisprysindeks.

Siphamandla Mkhwanazi, FNB se eiendomsekonoom, het gesê die impak van die staat van inperking op die huismark begin wys, maar dit word nog nie ten volle in April se syfers weerspieël nie.

Dit is omdat die syfers goedgekeurde huisverbande as grondslag gebruik. Tot 60% van die syfers is vir aansoeke om huisverbande wat gedoen is voordat die inperking op 27 Maart in werking getree het.

Voorlopige syfers dui daarop dat die aantal huisverbande in April met 60% getuimel het. “Dit stem ooreen met ons siening dat die pandemie ’n groter impak op transaksievolumes as op pryse gaan hê.”

Mkhwanazi het gesê die gebrek aan transaksies gaan dit oor die volgende paar maande moeilik maak om neigings in huispryse te bepaal.

Die aktekantoor mag op vlak 4 van die inperking weer sake doen, maar eiendomsagente se werk word steeds gekniehalter. Hulle mag nie skouhuise hê nie, maar huise mag aanlyn “vertoon” word.

Volgens Property24 koop mense wel huise, maar die koopaanbiedings bevat nou merendeels ’n klousule dat die aanbod onderhewig is daaraan dat die huis eers besoek word wanneer dit weer wettig word. Dit sal die deurvoer van transaksies waarskynlik vertraag.

Mense mag ook nie trek nie, wat hulle huiwerig kan maak om nou ’n huis te koop.

Hoewel aktekantore mag oopmaak, blyk dit aktekantore is nog nie gereed nie weens veiligheidsmaatreëls wat eers ingestel moet word.

LEES OOK: Eiendomsagente, aktekantore in 'n penarie

FNB verwag dat huispryse vanjaar uiteindelik met sowat 5% gaan daal, maar die aantal transaksies met 45%. In 2009 het pryse met 1,5% gedaal en volumes met byna 40%, maar huisprysgroei het in September 2008 selfs by -5,8% gedraai.

“Ons verwag vanjaar ’n dieper insinking weens die aard van die skok en die omvang van die impak op die arbeidsmarkte. Herstel sal waarskynlik uitgerek wees weens voorafbestaande swakheid in verbruikers se geldsake.”

FNB verwag dat minstens 750 000 mense hul werk gaan verloor weens die inperking en dat die ekonomie met tussen 7% en 10% gaan inkrimp.

Mkhwanazi is darem optimisties dat die histories lae rentekoers en die laer hereregte mettertyd die huismark sal ondersteun en dat dit vir ’n stewige groei in 2021 sal sorg. Geen hereregte is betaalbaar op eiendomme van tot R1 miljoen nie, volgens die Februarie-begroting. Dit was verlede jaar tot R900 000.

Die druk op die huismark gaan alle prysklasse raak, maar vanjaar gaan veral duurder en luukser huise se pryse daal. ’n Langdurige ooraanbod van eiendomme gaan hiertoe bydra.

Die mark vir huise met billike pryse gaan sterk bly omdat die vraag in dié mark groter as die aanbod is. Die vraag gaan selfs groei omdat mense wat voorheen in die middelsegment sou gekoop het, moet afgradeer, “wat algemeen in swak ekonomiese omgewings is”.

Meer oor:  Fnb  |  Huismark  |  Huispryse  |  Vlak 4  |  Inperking  |  Covid-19  |  Huiskoop  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.