Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Huispryse: Kopersmark hou dalk nie lank
Huispryse is besig om te herstel, maar ’n tweede daling dreig. Foto: Pixabay

Huispryse is besig om te herstel, maar kopers het nog tyd voordat die pryse weer te hoog raak. En daar gaan waarskynlik nóg ’n daling wees voordat dinge stabiliseer.

FNB sê vandeesweek dat huispryse in Julie met 1,4% op ’n jaargrondslag gestyg het teenoor die powere groei van Mei en Junie van onderskeidelik 0,6% en 0,7%.

Die bank is verras oor hoe gou huispryse herstel het.

Die staat van inperking was veronderstel om tot enorme dalings in huispryse te lei wat lank met die mark sou wees, maar dit is toe nie die geval nie.

Volgens FNB se jongste verslag oor huispryse het aansoeke vir verbande in Julie so noemenswaardig herstel dat dit nou die vlakke van selfs voor die staat van inperking oortref.

En dis nie net die vraag na eiendom wat pryse ’n hupstoot gee nie. FNB sê dat talle verkopers, veral in die hoër prysklasse, vanweë die historiese lae rentekoerse hul besluit om te verkoop hersien het.

Hierdie duur eiendomme word nou eerder herfinansier as om dit in die mark te sit vandat die Reserwebank rentekoerse met 3% verlaag het.

Waar kopers winskopies soek, is die duur huise nou nie meer beskikbaar nie; en dit het gehelp om die pryse van ander eiendomme ook op te stoot.

“Dit lyk dus of die pandemie nie soveel van ’n rampspoedige uitwerking gehad het as wat ons miskien gevrees het nie – ten minste in hierdie stadium,” sê Siphamandla Mkhwanazi, ekonoom van FNB.

“Die resultate van die FNB-eiendomsagente-opname het getoon dat hoewel totale aktiwiteit in die tweede kwartaal gedaal het, het die pandemie nog nie tot buitengewone afslag in die mark gelei nie.”

Dit lyk dus of die pandemie nie soveel van ’n rampspoedige uitwerking gehad het as wat ons miskien gevrees het nie – ten minste in hierdie stadium.

Die gemiddelde afslag wat tans gebied word op die vraagprys is 12% – nie veel anders as die 13%-gemiddeld van die eerste kwartaal nie.

Daar is dus tans ’n oorvloed mense, en veral eerste kopers, wat tot die mark toetree om lae rentekoerse en die steeds lae pryse te benut, en wat nou begin lei tot die herstel van huispryse.

FNB meen egter dat daar nog ’n bietjie tyd is voordat die herstel sy gang gegaan het. Volgens die mark is dit nou ’n uitstekende tyd om ’n huis te koop.

En vir verkopers is daar ook goeie nuus. FNB verwag dat die herstel van die mark ’n “W”-vorm sal aanneem.

Dit beteken dat pryse eersdaags sal styg, voordat dit weer daal, en dan eers daarna op hoër vlakke op mediumtermyn sal stabiliseer.

Kopers is tans gretig om in “sekondêre stede” groter eiendomme te koop. FNB reken dit is omdat die staat van inperking en werk van die huis af vir mense gewys het wat die waarde van ’n groter huis met meer geriewe kan wees.

Kopers is nou bereid om eerder in kleiner stede te koop waar hulle groter eiendomme kan kry teen dieselfde prys as ’n kleiner eiendom in die hoofstede.

Maar FNB sê die ware aandrywer van huispryse op mediumtermyn sal die arbeidsmark wees. Met historiese hoë werkloosheid en nog meer mense wat waarskynlik hul werk kan verloor, reken FNB die tweede daling in pryse kom nog, en dit kan waarskynlik groter wees as die aanvanklike daling toe die staat van inperking begin het.

Meer oor:  Ekonomie  |  Huispryse  |  Rentekoerse  |  Beleggings  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.