Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Huurders gesoek! Skerp styging in leë woonstelle

Verhuurders landwyd sukkel om huurders te kry en oor die hele Suid-Afrika het ’n enorme 12,9% van alle huureenhede teen Desember leeggestaan.

Die leegstaansyfer is die hoogste in minstens vyf jaar.

k

Veral mense wat billike behuising soos ’n kamer vir minder as R3 000 per maand verhuur, asook dié wat ’n luukse eiendom van meer as R25 000 per maand verhuur, sukkel tans om huurders te kry. Die leegstaansyfers vir dié twee uiterstes staan op 16% en 20,7%.

Verhuurders wat eiendomme vir tussen R7 000 en R12 000 per maand verhuur, staan die beste kans om huurders te kry, maar selfs in dié kategorie is die leegstaansyfer 10,3%.

Die kredietburo Tenant Property Network (TPN), wat die syfer saamstel, skryf die huurkrisis toe aan die finansiële probleme wat die Covid-19-krisis meegebring het. Na raming het byna ’n miljoen mense uiteindelik hul werk permanent verloor. Baie mense se salarisse, oortyd of bonusse het boonop verminder.

Geldelike probleme is die algemeenste rede wat huurders verskaf wanneer hulle nou hul huurkontrak vroeër kanselleer.

FNB het vroeër die week gesê die huurmark verkeer ook onder druk as gevolg van die verlaging in die rentekoers verlede jaar, wat baie huurders oorreed het om self huiseienaars te word.

Die hoër leegstaansyfer van luukse eiendomme kan ook daaraan toegeskryf word dat baie min internasionale toeriste Suid-Afrika tans besoek.

Altesame 3,7 miljoen huishoudings in die land huur die plek waar hulle woon, 3 miljoen van hulle in formele behuising soos huise, woonstelle, oumawoonstelle of kamers. Die res huur eiendom in tradisionele gebiede of informele nedersettings.

Provinsiaal is die laagste leegstaankoers in die Oos-Kaap, op 6,3%, en die hoogste in Gauteng, op 14,7%.

k

Gauteng

TPN skryf Gauteng se leegstaansyfer van 14,7% toe aan ’n rekordgetal huise en woonstelle wat in 2019 gebou is. In ander provinsies het die konstruksie van behuising stadiger gestyg.

Op 22,4% is Sandton se leegstaankoers die hoogste. Dit kan wees dat mense wat in dié mark huur, afskaal na billiker huureenhede of andersins hul eie woning koop.

Die ooraanbod van huureiendom beteken Gauteng se leegstaansyfer gaan nog lank hoog bly, meen TPN.

k

Wes-Kaap

Dele van die Wes-Kaap waar huur as betreklik billik beskou word, soos die noordelike voorstede van Kaapstad (onder meer Bellville, Brackenfell, Durbanville en Kraaifontein), het op 5,1% die laagste leegstaankoers.

Byna een uit vier (24,4%) van die huureiendom aan die Atlantiese seefront (wat Llandudno, Kampsbaai, Seepunt, Groenpunt en Clifton insluit) staan egter nou leeg.

Volgens TPN moet baie verhuurders in die Wes-Kaap steeds hul huur verlaag om huurders te kry nadat huur tot sowat 2018 buitensporig vinnig gestyg het.

k
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.