Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
In die sop met huisverband? Hier is raad

Dit maak nie saak hoe hard jy probeer nie, onverwagte dinge kan soms tot geldelike probleme lei. Maar wat doen jy as jy sukkel om jou verband te betaal? Tony Clarke van Rawson Property gee raad.

  

As jy begin noustrop trek, moet jy heel eerste jou begroting met ’n fynkam deurgaan om te kyk waar jy kan besnoei.

Ten spyte van ons beste pogings tref ons almal van tyd tot tyd ’n spoedhobbel in die pad.

En dit is nie altyd moontlik om te voorspel wanneer jy finansiële probleme gaan ervaar nie.

So, wat gebeur as ’n huiseienaar onverwags onder finansiële druk verkeer en die maandelikse huisverbandpaaiemente skielik onhanteerbaar word?

Dit is nie ’n unieke situasie nie en iets wat dikwels gebeur. Dit maak nie saak hoe hard banke probeer om te verseker dat verbandhouers hul maandelikse paaiemente betaal nie, daar gebeur steeds onverwagte dinge soos byvoorbeeld afleggings by werkplekke, onverwagte mediese uitgawes of rentekoersverhogings.

Daar is soveel dinge wat mense se finansiële omstandighede kan beïnvloed wat nie altyd voorspel kan word nie.

Ondanks die feit dat dit so dikwels gebeur, is daar gelukkig prosedures wat spesifiek ontwerp is om verbandhouers te help wanneer hulle hulself in finansiële moeilikheid bevind.

Dís wat jy moet doen

Net soos met iemand wat in ’n herstelproses is, is die eerste stap om te erken dat jy ’n probleem het. Doen dit so vroeg as moontlik.

Finansiële probleme is nie iets wat sommer net vanself weggaan nie, dus kan jy nie net jou kop in die sand druk en vir die beste hoop nie.
Tony Clarke van Rawson

Moenie wag totdat jy te min betaal het of ’n verbandpaaiement oorgeslaan het nie. Hou jou geldsake fyn dop en sodra dit lyk asof daar probleme gaan kom, moet jy planne maak om die finansiële skade te verminder.

Finansiële probleme is nie iets wat sommer net vanself weggaan nie, dus kan jy nie net jou kop in die sand druk en vir die beste hoop nie.

In baie gevalle is dit net genoeg om jou begroting te herprioritiseer, sodat jy die geld wat jy aan minder belangrike uitgawes bestee, kan aanwend vir jou huisverbandpaaiement.

Maar wat as dit nie die geval is nie? Dan moet jy so gou as moontlik jou bank kontak.

Jy en jou bank

Baie mense sal graag eerder hul finansiële probleme vir hul verbandgewer wil wegsteek. Dit is egter die ergste moontlike ding wat jy kan doen.

Dis in jou bank se beste belang om jou te help om jou huis te behou – niemand wen as ’n huis teruggeneem word nie. Die bank kan jou egter nie help as jy hom nie toelaat nie. En hoe vroeër hoe beter.

Die eerste ding wat jou bank sal doen, is om jou inkomste en uitgawes na te gaan, en jou dan raad te gee oor enigiets wat jy dalk oor die hoof gesien het toe jy jou begroting geprioritiseer het. As daar geen beweegruimte is nie, sal die bank ander dinge probeer.

Dit sal wissel van bank tot bank, maar soms sal hy die verbandhouer se paaiement vir ’n paar maande effens verlaag om die persoon toe te laat om terug op sy/haar voete te kom.

Jy kan dalk ook ’n kort ruskans van jou paaiemente kry ten einde jou geldsake weer in orde te kry.

Sommige banke herstruktureer ook die maandelikse paaiement oor ’n langer tydperk, sodat verbandhouers maandeliks minder hoef te betaal.

Meer oor:  Rawson  |  Tony Clarke  |  Huisverband  |  Huislening  |  Agterstallige Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.