Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Inwoners in Kaapse middestad kan verdubbel in 10 j.
Verskeie geboue wat omskep is in wooneenhede omring Groentemarkplein in die middestad van Kaapstad.Foto: CCID

Die getal mense wat in die Kaapse middestad woon, kan oor die volgende dekade verdubbel tot sowat 15 000 as al die eiendomsontwikkelingsprojekte wat tans op die tafel is, werklikheid word.

Carola Koblitz, redakteur van ’n verslag oor die middestad, sê meer as R22 miljard se nuwe beleggings kan oor die volgende drie jaar na die strandgebied van die middestad kom.

Sy het gepraat op die jongste terugvoersessie van die Kaapstadse sentrale stadsverbeteringsdistrik (CCID).

As daar wel met die beoogde bouprojek vir die gebied tussen die onvoltooide snelweg-oorbrûe in die strandgebied begin word, sal dit volgens Koblitz die getal wooneenhede in die middestad van sowat 4 000 tot 8 000 verdubbel.

Syfers wys egter die huurgeld vir woonstelle in die middestad het in die jaar tot dusver gedaal. Koblitz skryf dit toe aan die hele aantal wooneenhede wat eienaars aanvanklik as gemeubileerde korttermyn-eenhede wou verhuur, soos as Airbnb-blyplek vir toeriste. Maar nou wil hulle dit eerder op lang termyn verhuur. Waar daar in Desember 2017 150 wooneenhede in die middestad was wat te huur was, is dit nou 280.

Die gemiddelde huurinkomste het van R12 186 per maand in 2017 tot R11 286 vanjaar gedaal.

Nog ’n neiging is dat die wooneenhede in die middestad al hoe kleiner word. In 2013 was die gemiddelde grootte van ’n woonstel in die middestad 82 m², maar dit het tot vanjaar tot 60 m² gekrimp.

Waarde van Kaapse middestad

Waardasies:

In 2006 was al die eiendomme in die middestad op R6,1 miljard gewaardeer; in 2017 het die waardasie geklim tot R30,6 miljard.

Nuwe beleggings:

  • R3,548 miljard se nuwe eiendomsontwikkelings is in 2017 in die middestad voltooi;
  • R4,55 miljard se projekte is tans in aanbou;
  • R1,63 miljard se projekte word beplan;
  • R13,136 miljard se projekte word voorgestel wat van 2020 af gebou kan word.

Kommersieel:

Wat kommersiële eiendom betref, verander die grondgebruik van die middestad gedurig. Wat vir Koblitz opmerklik is, is die toename in mediese geriewe. Waar daar ’n jaar gelede 95 mediese kantore in die middestad was, meestal by die ou Christiaan Barnard-hospitaal, is daar nou 193 nadat die nuwe Netcare Christiaan Barnard Gedenkhospitaal in die strandgebied voltooi is.

Konferensiegeriewe in die middestad het ook aansienlik gegroei. Die CCID het op sy webwerf ’n spesiale afdeling geskep waar al die konferensiegeriewe in die middestad gelys word waar mense kan sien presies waar die geriewe is, hoeveel gaste geakkommodeer kan word, en watter hotelle en restaurante in die omgewing is.

’n Lugfoto van die Kaapse middestad.Foto: JOHAN DEMPERS

Verkope per m² van wooneenhede

Die gemiddelde verkoopprys per m² vir wooneenhede in die middestad was in 2013 R17 500. Teen verlede jaar het dit tot R41 287 gestyg, maar tot dusver vanjaar het dit afgeneem tot R39 038.

Die laer pryse word toegeskryf aan die sukkelende ekonomie wat die bekostigbaarheid van eiendom raak, maar ook die Dag Zero-vrese rakende die waterskaarste in Kaapstad

    Meer oor:  Kaapstad  |  Ontwikkeling  |  Eiendom
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.