Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Is Buurman wel sy broeder se hoeder?

In die lig van die tragedie wat hom onlangs by die Hoërskool Driehoek afgespeel het, ondersoek Gustaf Pienaar versuim en aanspreeklikheid, en bespreek ’n hofsaak wat uit ’n rooftog op ’n beveiligde landgoed gespruit het. 

Eiendomme
Eiendomme. Skets: Hanlie Malan

Maandagoggend stuur buurman Chris ’n Whats­App-boodskap: “Julle motorhuisdeur is nie heeltemal toe nie. Pasop vir slange.” 

Buurmanskap op sy heel beste; broeder se hoeder.

Maar sê nou ’n pofadder het wel daar ingeseil en een van ons gepik, en sê nou ons kan bewys dat ons wellewende buurman vroegoggend al die oop deur gesien het, maar ons nie laat weet het nie: Kan ons hom regtens aanspreeklik vir die pofadderpik hou?

Ek sien jy skud jou kop: natúúrlik nie. 

Kom ons verstel die feite so ietwat: Gestel Buurman kan nie slaap nie, en hy gaan sit drie-uur die oggend op sy balkon. 

Hy merk ’n inbraak by sy buurhuis op, maar doen niks nie. 

In die rooftog word die huis­eienaar doodgeskiet en Buurman sit met gevoude hande. 

Wat sê jy: Behoort hy nóú vir skadevergoeding deur die weduwee aanspreeklik gehou te word?

Ek merk ’n vraagteken op jou voorkop. Miskien tog wel, dink jy.

Maar wat is die prinsipiële verskil tussen buurman se versuim om van die oop motorhuisdeur te vertel, en sy versuim om die rooftog by die veiligheidswagte aan te meld? 

Dit lyk my die antwoord lê in wat regsgeleerdes die boni mores noem – die regsopvattinge van die gemeenskap; die gemeenskap se beskouing van wat ”reg” en “verkeerd” is. 

Dit is ’n objektiewe redelikheidsmaatstaf: Was Buurman se versuim in die twee gevalle – die slangbyt en die rooftog – onredelik of nie? 

Dit plaas ’n swaar las op ’n hof om die belange tussen Buurman se “reg” om met gevoude hande te sit op te weeg teen die slagoffers se aanspraak dat hy darem íéts moes gedoen het. 

Hoe vrae soos dié in die praktyk beantwoord word, blyk uit ’n onlangse skerpsinnige uitspraak deur regter Unterhalter van die Johannesburgse afdeling van die Gautengse hooggeregshof. 

’n Sekere meneer en mevrou Van der Bijl was die eienaars van ’n woning op die peperduur Featherbrooke Estate aan die Wesrand. 

Dit is ’n sogenaamde “veiligheidsbuurt” met, onder meer, streng toegangsbeheer. 

Die huiseienaarsvereniging het ’n bekende veiligheidsmaatskappy aangestel om oor inwoners se veiligheid te waak. 

Nogtans was daar laataand op 8 April 2014 ’n rooftog in die Van der Bijls se huis. Mnr. Van der Bijl is in die maag geskiet en sy eggenote is erg aangerand.

Die Van der Bijls het daarna ’n skadevergoedingseis teen die Featherbrooke Estate se huiseienaarsvereniging – waarvan hulle nogal lede was! – en die veiligheidsmaatskappy ingestel. 

In hul dagvaarding het hulle aangevoer dat albei verweerders regtens verplig was om die inwoners te beskerm, en grof nalatig was in hul versuim om geskikte maatreëls te tref om die inwoners van die landgoed teen rooftogte van dié aard te beskerm.

Anders gestel: Daar het geen regsplig op die vereniging berus om die Van der Bijls se belange te beskerm nie.

Die veiligheidsmaatskappy verdedig tans die saak, maar die huiseienaarsvereniging het ’n eksepsie teen die eis ingestel. 

Dit beteken dat hulle aangevoer het dat die eis nie ’n skuldoorsaak teen spesifiek die vereniging geopenbaar het nie – in die besonder, dat daar geen regsplig op die vereniging berus het om die Van der Bijls teen so ’n rooftog te beskerm nie.

Kom ons gaan net ’n stappie terug: Om met ’n deliktuele eis (“skadevergoedingseis”) te slaag moet die eiser ’n paar elemente bewys, waarvan ek net drie noem: 1. ’n positiewe handeling (byvoorbeeld, ’n motorkar wat nalatig bestuur is) of ’n versuim (soos in al die voorbeelde hierbo);  2. onregmatigheid: die aantasting – hetsy deur ’n positiewe handeling, hetsy deur ’n versuim – van iemand se belang(e) wat regtens beskerm word; en  3. skuld – in die gedaante van opset of nalatigheid – aan die kant van die dader, of die ou wat versuim om op te tree toe hy móés. 

Die Featherbrook-huiseienaarsvereniging se eksepsie teen die Van der Biljs se eis het verband gehou met die tweede element hierbo genoem: Hulle het aangevoer dat hul versuim nie onregmatig was nie. 

Anders gestel: Daar het geen regsplig op die vereniging berus om die Van der Bijls se belange te beskerm nie. 

Daarmee het Unterhalter saamgestem. 

Daar was geen kontrak tussen die inwoners en die vereniging dat laasgenoemde hulle sal beskerm nie, en aangesien daar geen algemene plig op bure in so ’n landgoed rus om mekaar teen rooftogte te beskerm nie, kan sodanige plig ook nie op die vereniging afgewentel word nie. 

Anders gestel, om die vereniging met so ’n plig te belas, beteken dat elke inwoner stilswyend met sy mede-inwoners ooreenkom dat “broeder se hoeder” eintlik ’n regsplig word. Immers: as ’n skadevergoedingseis teen die vereniging slaag, beteken dit dat álmal – selfs die slagoffers – moet opdok, nie waar nie? 

So ’n regsplig, sê die regter, kan nie sommer afgelei word in die afwesigheid van ’n kontrak met sulke bepalings nie.

Die departement van openbare werke as moontlike eienaar van die skoolgebou? Of die onderwysdepartement? Of die skool self?

Hoërskool Driehoek: ’n Paar gedagtes rondom aanspreeklikheid

By die skryf hiervan gaan die gemeenskap van Vanderbijlpark nog deur diep waters ná die skokkende instorting van ’n brug by die Hoërskool Driehoek wat etlike jong lewens geëis of ernstig geskend het. 

Die oorsaak word tans ondersoek. Wat vasstaan, is die volgende: Niemand het byvoorbeeld met ’n motor teen die brug se pilare gebots en dit laat intuimel nie. Daar was dus nie ’n voorafgaande “positiewe handeling” nie.

Dalk is daar met die ontwerp of konstruksie van die brug drooggemaak, maar dit kan ook wees dat dit oor die jare heen verweer het en dat “iemand” versuim het om dít agter te kom en iets daaraan te doen. 

Weer die kwessie van versuim, dus.

Op die hipotese dat verwering die oorsaak was, ontstaan verskeie regsvrae: Watter instansie is ter sprake? 

Die departement van openbare werke as moontlike eienaar van die skoolgebou? Of die onderwysdepartement? Of die skool self? 

Sou die gemeenskap – die boni mores – in so ’n geval oordeel dat daar ’n regsplig op wie ook al gerus het om deurlopend na die veiligheid van die spesifieke brug om te sien? Anders gestel: sou dit redelik wees om so ’n enorme las op wie ook al te plaas? 

Word hierop “ja” geantwoord, is die kwessie van prinsipiële aanspreeklikheid – onregmatigheid – uit die weg geruim: Die betrokke instansie kán weens ’n versuim aanspreeklik gehou word. 

Maar dan bly die vraag oor skuld nog onbeantwoord: Was die versuim nalatig? 

Die toets is: Wat sou ’n redelike mens onder hierdie omstandighede gedoen het – die betrokke loopbrug gereeld (en straks ten duurste) met gesofistikeerde apparaat ondersoek het ten einde verborge swakplekke te ontbloot? Regtig? 

Die vrae is legio; die antwoorde min.

Laat Driehoek egter ’n waarskuwing vir elke skool wees: Moenie wag dat een of ander owerheidsinstansie kom kyk of als veilig is nie: Doen dit self; doen dit dééglik; doen dit deurlopend – al kos dit geld. Daar kan immers nie ’n prys op jong lewens geplaas word nie.

Bron: Van der Bijl and Another v Featherbrooke Estate Home Owners’ Association (NPC) 2019 (1) SA 642 (GJ). 

Meer oor:  Gustaf Pienaar  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.