Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Is ’n 100%-verband ’n goeie plan?
Om te spaar vir ’n deposito vir jou huis is altyd ’n goeie idee. Foto: iStock

Die onlangse verlaging in die rentekoers het die kole in die eerstekopersmark laat gloei.

Vir minstens die volgende twee maande, tot die volgende aankondiging oor die rentekoers, is huiseienaars verseker van laer maandelikse paaiemente as in die vorige kwartaal.

Maar, is dit wys om ’n 100%-verband uit te neem net om die eiendomsmark te betree terwyl die rentekoerse laag is?

“Baie eerstekeerkopers wil voordeel trek uit die onlangse rentekoersverlaging, maar hulle het nie genoeg spaargeld vir ’n deposito om dit te doen nie.

“Ons raad aan hulle is om professionele finansiële raad te soek om só ’n realistiese kykie te kry van hul finansies en om te bepaal of hulle wel die implikasies van ’n 100%-verband verstaan en kan bekostig,” sê Adrian Goslett, streeksbestuurder en uitvoerende hoof van Re/Max Suider-Afrika.

Vir die finansiële jaar wat geëindig het op 21 Maart 2018 was 42,76% van alle huislenings geregistreer deur BetterBond uitgewerk op 100% van die verkoopprys.

Dit lyk asof finansiële instansies al hoe gewilliger is om dié soort huislenings toe te staan, en dit is nie moeilik om te verstaan waarom nie.

Banke kan dit regverdig om ’n hoër rentekoers te vra op 100%-verbande omdat die risiko wat hulle dra op dié soort verbande hoër is as op ’n verband met ’n deposito.

Kopers wat ’n deposito betaal, bewys hul finansiële stabiliteit en verlaag die algehele bedrag wat geleen word. Dus is die bank se buigbaarheid verhoog wanneer dit kom by die onderhandeling oor ’n laer rentekoers op die verband.

“Kopers moet die krag van saamgestelde rente op hul huislening oorweeg.

“Byvoorbeeld, aan die einde van die 20-jaar-leenperiode sal jy bykans R50 000 uitgegee het net op rente op ’n R1 miljoen-verband as jy koop sonder ’n deposito.

“Tog, in vandag se taai ekonomiese klimaat, om R50 000 oor 20 jaar te spaar klink relatief min as jy oorweeg hoe lank dit jou sou neem om R100 000 te spaar vir die deposito én om te begroot vir ’n ekstra R40 000 of so om te betaal vir oordrags- en verbandregistrasiekoste en ander verwante geld,” meen Goslett.

Hy stel as ’n oplossing voor ’n soort “huwelik” tussen die twee opsies: “Eerstekeerkopers moet die opsie oorweeg om eers te spaar vir ’n deposito en om dan daardie geld te kanaliseer in die maandelikse terugbetalings op ’n 100%-verband.

“Op dié manier hoef kopers nie noodwendig die volle 10% van die verkoopprys te spaar voordat hulle kan koop nie.

“Ook, as die huiseienaars ooit finansieel in die moeilikheid kom, of hulle het die geld nodig om herstelwerk aan die eiendom te doen, het hulle toegang tot die geld in hul verband. Dit is ’n opsie wat nie so geredelik beskikbaar sou wees as hulle ’n vasgestelde verband met ’n deposito uitgeneem het nie.”

Die realiteit is, meen Goslett, dat al word voornemende kopers aangeraai om ’n redelike deposito gespaar te hê wanneer hulle aansoek doen vir ’n huislening, sal elk van die verskeie beskikbare finansieringsopsies die behoeftes van verskillende kopers pas.

“Byvoorbeeld, om ’n 100%-verband uit te neem, kan daardie kopers help wat graag die eiendomsmark gouer eerder as later wil betree, en wat nie wil wag om ’n deposito te spaar nie. Kopers moet die voor- en nadele van elke opsie versigtig opweeg en besluit watter oplossing pas die heel beste by hul unieke behoeftes,” sê Goslett.

    Meer oor:  Re/Max  |  Adrian Goslett  |  Huisverband  |  Huiskoop
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.