Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
John Vorster en die flitslig-teken

Gustaf Pienaar se nostalgiese rubriek oor langspeelplate verlede week het soveel positiewe lesersreaksie uitgelok, dat hy verder daaroor geskryf het.

Platemaatskappy
’n Platemaatskappy se reklame vir Afrikaanse plaatopnames in Die Brandwag van 9 Desember 1938.

Rubriekskrywer weet nooit vooraf hoe die lesers sal reageer nie. 

Soms dink jy dié een gaan die poppe laat dans en dan is daar ’n dawerende stilte. 

Ander kere skryf jy iets wat in jou eie gemoed maar so-so is, en dan bars jou rekenaar se “in-boks” figuurlik uit sy nate. 

Verlede week se nostalgiese rubriek oor langspeelplate – wat ook enkele herinneringe aan die “ou” SAUK ingesluit het – was nogal ’n affêre, in die sin van die reaksie wat dit uitgelok het. 

Dankie vir almal se mooi briewe. Ek kan ongelukkig nie elke skrywe hier erken of selfs agterna almal beantwoord nie. 

Ek sonder dus net twee uit vir vermelding. 

Gert van Niekerk het vertel dat sy ma “seker so van 1955 af” in die Asaf-koor in Johannesburg gesing het. Dit, na aanleiding van my vertelling van die SAUK-transkripsieplaat in my besit waarop die Asaf-koor, bygestaan deur die Cantare-mannekoor, ’n voortreflike uitvoering van “Die Stem” gelewer het. 

Wat my al lank interesseer is waarvoor die akroniem – of so het ek gereken – “Asaf” staan. Ek het my bes probeer om dit te ontrafel – veral omdat ons, soos die Amerikaners, lief is om akronieme (letterklankwoorde) te maak: Pansat, Sarvu, Unisa, Sasol, Vigs – tot die onlangse Sona vir State of the Nation Address.

Ek vra vir Gert of hy weet, en toe stuur hy vir my ’n uittreksel uit Die Brandwag van 9 Desember 1938 – dit wil sê aan die einde van die landwye historiese Ossewa-gedenktrek, en ’n paar dae voor die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument. 

Dit is ’n fraai artikel deur S. Ign. Mocke oor die ontstaansgeskiedenis van die Asaf-koorbeweging aan die Rand. 

Dit is ’n fraai artikel deur S. Ign. Mocke oor die ontstaansgeskiedenis van die Asaf-koorbeweging aan die Rand.

Die groot dryfveer was ene Fanie Buys wat destyds in Melville, Johannesburg, gewoon het. 

Die eerste “ere-voorsitter” van die beweging (dit was in 1920) was ds. J.V. Coetsee van die Gereformeerde gemeente in Mel-ville. Hy is ook die persoon wat die naam “Asaf” voorgestel het. 

Dit is toe nie ’n akroniem nie, maar die naam van die Ou-Testamentiese koning Dawid se “oppersangmeester”. Asaf het 12 psalms gedig: 50 en 73 tot 83. 

Daar was dus meerdere kore in wat die “Asaf-koorbeweging” geword het. By die skryf van die Brandwag-artikel was daar al agt sulke kore, versprei oor die Rand. Hul voedingsbodem was kerkkore. Bestaan daar nog iewers in die land ’n (Afrikaanse) kerkkoor wat gereeld optree? 

Gert vertel dat sy ma in ’n Asaf-koor gesing het wat ongeveer in 1960 Handel se Messias in die Johannesburgse Stadskouburg uitgevoer het. Die dirigent was Anton Hartman. 

Dit laat my dink aan die simfonie-seisoene van die Nasionale Simfonie-orkes van die SAUK, dikwels met Hartman of Edcar Cree op die podium. Sulke simfoniekonserte is gereeld in die “ou” Suid-Afrika op Donderdagaande – as ek dit nie mis het nie – om die beurt regstreeks oor die Afrikaanse en Engelse senders uitgesaai. 

Ek het een aand as jong omroeper saam met Nic de Jager na die Johannesburgse stadsaal gegaan, vanwaar hy die vooraf-aankondigings by ’n simfoniekonsert regstreeks sou doen. 

En toe het die orkes met sy uitvoering begin.

Ons het links op die verhoog – buite sig van die gehoor – in ’n klein houtafskortinkie skuiling gehou. Daar was ’n mikrofoon en twee stelle oorfone vir ons. Toe daar stiptelik om agtuur uit die ateljee van die Afrikaanse radiodiens in die ou Uitsaaihuis na die stadsaal oorgeskakel is, het Nic op sy gebruiklike rustige manier – en in daardie voortreflike radiostem – die luisteraars by die konsert verwelkom. 

Hy het iets oor die aand se program en die deelnemende kunstenaars vertel en toe met ’n flitslig, van alle dinge, ’n teken gegee vir die dirigent, wat geduldig – ook buite sig vir die gehoor – aan die ander kant van die verhoog gewag het. 

Edcar Cree, geklee in sy swierige swaelstert en met dirigeerstokkie in die hand, het na die podium gestap; die gehoor het begin hande klap, en Nic het vir oulaas gesê: “Applous vir die dirigent, Edcar Cree.” 

En toe het die orkes met sy uitvoering begin. 

Ek beskou dit nog altyd as ’n enorme verlies dat die SAUK die simfonie-orkes afgeskaf het (ek wil amper sê “nek omgedraai” het). 

Nie alleen het dit talle van ons land se heel beste uitvoerende kunstenaars van ’n loopbaan beroof nie, maar ook het die SAUK na my beskeie oordeel sy vermoë verloor om ’n tegnies uitdagende uitsending soos ’n simfoniekonsert te kan bemeester. 

As ek reg onthou, was daar minstens agt mikrofone wat op verskillende plekke bokant die orkes gehang het, en om daardie spul met mekaar in klankbalans te bring het nie in elke hierjy se broek gesit nie. 

Ons land het tans darem nog ’n paar simfonie-orkeste wat egter almal sukkel om liggaam en siel bymekaar te hou. Wat ’n onvermengde skande!

So van regstreekse uitsendings gepraat. Op 1 Maart 1978 – byna-byna 41 jaar gelede – het die SAUK my gestuur om die uitsending te behartig uit die stadsaal van Heidelberg (Gauteng) ter viering van die digter A.G. Visser se honderdste verjaardag. Die gasspreker was premier John Vorster. 

Pierre was passievol oor sy werk, wat hy met sy kenmerkende deeglikheid goed onder die knie gekry het.

My uitsaaipunt was op die galery – ver van waar Vorster sou praat. Ek moes met die oorskakeling iets oor die feesvieringe vertel en dan vir Vorster aan die woord stel; daar was ook ’n SAUK-mikrofoon op die verhoog.

Ek het met Vorster gaan beraadslaag en vir hom vertel van die prosedure wat gevolg sou word: Hy moes rustig naby die mikrofoon sit en ek sou ná my vooraf-storie vir hom ’n teken gee om te begin praat: met ’n flitslig! Dit was hoogs suksesvol; Vorster was ’n “maklike” student . . . 

Amanda Wilson (voorheen Marais) skryf in ’n ander heerlike geselsbrief dat sy in 1961 met die begaafde jong omroeper uit die Boland, Pierre Marais, getroud is. 

“Pierre was passievol oor sy werk, wat hy met sy kenmerkende deeglikheid goed onder die knie gekry het,” skryf sy. 

“Onder dié belangstellings was musiek hoog op Pierre se lys. Tydens sy SAUK-loopbaan het hy talle musiekreekse saamgestel en aangebied. Ten tyde van sy dood (hy was maar 48) het ons private musiekversameling tot ’n goeie 3 000 plate aangegroei. 

’n Groot getal van hulle is oorsee aangekoop en die omslae is dan deur die kunstenaars – met wie Pierre vir sy musiekprogramme onderhoude gevoer het – geteken. 

“Onder dié spesiale ‘aandenkingsplate’ tel opnames van Rita Streich, Luciano Pavarotti, Dietrich Fischer-Dieskau, Joaquín Rodrigo, en vele ander beroemde musici van hulle tyd.”

Dankie, Amanda, vir jou herinneringe. Ai tog: Pierre Marais – wát ’n verlies vir die Afrikaanse radio was sy vroeë afsterwe nie! Ek het self net die aangenaamste persoonlike herinneringe aan hom. Klou vas aan daardie kosbare, onvervangbare, getekende plate! 

  • Pienaar is ’n niepraktiserende advokaat van Vleesbaai. Hy het ’n opvolgartikel oor Harry Dousemetzis se Tsafendas-biografie vir LitNet geskryf. Lees dit op www.litnet.co.za. 
Meer oor:  Gustaf Pienaar  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.