Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Jou ‘nuwe’ kombuis

Jou kombuis is die hart van jou huis. Die plek waar gelag, gehuil, gekuier en gekook word. Dit is ’n lekker voorreg om jou kombuis oor te kan doen, maar ook ’n groot uitgawe.

Hier volg wenke om die koste so laag as moontlik te hou sonder dat gehalte prysgegee word.

Die heel eerste stap is om ’n betroubare skrynwerker aan te stel. Ons stel voor dat jy iemand aanstel wat geregistreer is by die KSA (Kitchen Specialist Association), ’n onafhanklike beheerliggaam wat sowel die verskaffer as verbruiker beskerm.

Vra vir verwysings by vriende en kollegas wat onlangs van ’n skrynwerker gebruik gemaak het. Indien moontlik, gaan kyk ook na werk wat die skrynwerker reeds voltooi het om ’n aanduiding te kry van die gehalte van hul werk.

Klein veranderings soos nuwe deurkaste kan ’n groot verskil aan jou kombuis maak.Foto: DEZIGN A DOOR

Nog ’n manier om op koste te bespaar is om die bestaande kaste te gebruik. Jy kan ’n heel “nuwe” kombuis kry deur slegs die deure te verander, die kleurskema aan te pas of nuwe handvatsels te gebruik. Nuwe, moderne werkoppervlakke kan ook bydra tot die transformasie van jou kombuis.

Vir kombuiskasdeure is die “Venice”-deur, ook bekend as ’n “shaker”-deur, tydloos met skoon lyne. Die deure kan gemaak word in ’n natuurlike houtafwerking of ’n MDF (medium density fibre) geverfde afwerking. Nog ’n gewilde opsie is deure met geïntegreerde (ingeboude) handvatsels.

Dis belangrik dat jou kombuis by die res van jou huis pas en jou persoonlike styl weerspieël.

Indien die res van die huis meer tradisioneel is, kan ’n nuwe, ultramoderne kombuis onvanpas lyk. Indien die kombuis deel vorm van ’n oopplanarea, maak seker die kombuis pas by die res van dié area. Dieselfde geld die nuwe tweekleur-tendens: Hout wat afgewerk is, maar nog rou lyk, word gekombineer met grys geverfde komponente. Dis mooi en modern, maar as dit nie jou persoonlike styl is nie, bly eerder weg.

Indien jy besluit om slegs die deure te vervang, stel ons voor dat jy die bestaande deure se mates gebruik om seker te maak die nuwe deure pas 100%. Gebruik ’n maatband wat in millimeters gemerk is. Meet die agterkant van die deur; dit het gewoonlik reghoekige kante wat dit akkurater maak om te meet.

Die een ding waarmee jy nie suinig moet wees nie, is die ysterware: die skarniere vir die deure en die laaie se gly-meganismes. Die gemiddelde lewensduur van ’n kombuis is 15 jaar. Die ysterware werk hard. Niks is meer frustrerend as laaie wat nie wil oopmaak nie of deure wat skeef aan die skarniere hang. Die prysverskil tussen goedkoop en duur ysterware is net eenvoudig nie die frustrasie werd nie.

Nog ’n bekostigbare plan is ’n nuwe laag verf vir die hele kombuis.

Indien jou huidige kombuis nie baie laaie het nie, kan dit nou die ideale tyd wees om die verhouding tussen laaie en kaste aan te pas. Met kaste moet jy op jou knieë staan om agter in die kas te soek. Laaie maak alles soveel toegankliker.

Nog ’n manier om jou kombuis op te kikker, en wat baie in die mode is, is ’n nuwe fokuspunt soos ’n eiland, wat die indruk gee dat die verandering baie meer intensief was. ’n Mens kan ook graniet vir die eiland gebruik, en goedkoper hout of gelamineerde werkoppervlakke vir die res van die kombuis.

Om jou eie deure te installeer, is makliker as wat jy dink. Koop gehalte-skarniere en gebruik “euro screws” om die skarniere te installeer. Die skroefies trek nie los of skeur uit nie. Dié skarniere kan tot 3 mm op en af en in en uit verstel word. Vra jou verskaffer om die gate in die deure te boor vir die skarniere. Handvatselposisies is ’n persoonlike keuse; dit word gewoonlik deur die skrynwerker op die perseel gedoen.

Nog ’n bekostigbare plan is ’n nuwe laag verf vir die hele kombuis. Een aksentmuur in ’n ander kleur kan ’n heel nuwe dimensie aan die kombuis gee, sonder om te veel te kos. Nuwe teëls by die stoof of opwasbak gee ’n nuwe gevoel. Koop nuwe stoeltjies vir jou ontbythoekie, of verf die bestaande stoeltjies in dieselfde kleur as die aksentmuur.

Nuwe krane, ligte en bybehore kan ook oorweeg word.

  • Inligting verskaf deur Arnold Jardim, besturende direkteur van Dezign A Door. Vir selfhelp-brokkies volg Dezign A Door op Facebook.
Meer oor:  Herstelwerk  |  Kombuis  |  Eiendomme  |  Huisopknapping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.