
Jy het heelwat meer papierwerk nodig om aansoek te doen vir ’n huislening as jy vir jouself werk. Illustrasie: iStock
Daar bestaan ’n wanpersepsie dat dit weens banke se streng leningskriteria haas onmoontlik is vir entrepreneurs of individue wat vir hulself werk om toegang tot die eiendomsmark te kry.
Om huisfinansiering te bekom as jy vir jouself werk, is egter nie onmoontlik nie.
So sê Careen McKinon, provinsiale verkoopbestuurder by die verbandtussenganger ooba, wat byvoeg dat dit belangrik is dat hierdie segment in die eiendomsmark verteenwoordig word.
“Banke beskou in die algemeen individue wat vir hulself werk as ’n hoë risiko. Die gebrek aan ’n gewaarborgde inkomste van ’n enkele bron kan finansiële instellings huiwerig maak om verbandfinansiering toe te staan.
“Daarom verg die aansoekproses ’n bietjie meer moeite as wat die geval sou wees met iemand wat ’n vaste werk het,” sê sy.
Die aansoek-proses vverg ’n bietjie meer moeite as wat die geval sou wees met iemand wat ’n vaste werk het.
Careen McKinon
McKinon raai voornemende applikante aan om deskundige bystand van ’n verbandtussenganger te kry om ’n vooraf goedgekeurde verband te bekom wat hulle beter sal voorberei om tot die eiendomsmark toe te tree.
“Dit neem onmiddellik die grootste gesukkel uit die proses,” sê sy. “As jy besluit om jou aansoek self te hanteer, loop jy die risiko dat jou aansoek afgekeur sal word, wat jou kredietrekord negatief kan beïnvloed.”
So, hoe kan jy jou kans verbeter dat jou huislening goedgekeur word? McKinon sê die eerste stap is om te sorg dat jou papierwerk in orde is.
As jy vir jouself werk, stel sy voor dat jy die volgende dokumentasie indien wanneer jy om ‘n huislening aansoek doen:
- Vergelykende finansiële opgawes wat ’n handels- of werktydperk van die laaste twee jaar dek.
- ’n Brief van jou ouditeur wat jou persoonlike inkomste bevestig.
- As jou finansiële state meer as ses maande oud is, moet jy die jongste ondertekende bestuursrekeninge indien.
- ’n Kontantvloei-projeksie vir die volgende 12 maande.
- ’n Persoonlike staat van bates en laste.
- Persoonlike bankstate, asook dié van saketransaksies – vir ses tot 12 maande, afhangende van die bank se vereistes.
- Jou jongste IT34, wat bevestiging is van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens dat jou belastingsake in orde is.
- Maatskappy-, BK- of trustdokumente.
- ID-dokumente van al die direkteure, lede of trustees.
Die lys lyk weliswaar skrikwekkend, sê McKinon, maar dit is juis des te meer rede om ’n kenner te kry om jou deur die proses te help.
“Dit is deurslaggewend belangrik om jou belastingsake en finansies in orde en op datum te hê. Daarbenewens is dit raadsaam om jou persoonlike en sake-uitgawes te skei,” sê sy.
Sy wys verder daarop dat applikante wat vir hulself werk, ’n langer goedkeuringsproses deurgaan as individue wat permanente poste het.
“Hou ’n goeie kredietstatus in stand en maak seker dat jy al die vereiste papierwerk het. Dit sal die kans dat jou huisleningsaansoek vinniger goedgekeur word, verbeter,” sê McKinon.