Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Kaapse eiendomme bly maar goeie nuus
Woonstelle bly veral gesogte wooneenhede in die stadskom. Foto: Pixabay

Vergeet maar vir eers van al die slegte nuus oor die land se ekonomie, die Guptas en die Springbokrugbyspan, want wanneer dit by die Kaapse huismark kom, hou die goeie nuus net nie op nie, meen eiendomskenners.

Dit maak nie saak waar jy deesdae kyk nie – daar word oraloor berig oor hoe goed die Wes-Kaap en die Kaapstad-metro in vergeleke met die ander groot huismarkte in Suid-Afrika vaar.

Tony Ketcher, Seeff se streekhoofbestuurder vir die suidelike streke, verduidelik in ’n verklaring dat hoewel die Kaapse mark tog vatbaar vir ekonomiese druk is, dit baie goed bly vaar.

Altesaam R11,232 miljard se eiendom is al sedert die begin van die jaar tot Julie in Kaapstad verkoop. Dit is effens minder as die R11,5 miljard wat in dieselfde tyd verlede jaar behaal is.

Dit neem nou gemiddeld agt weke om ’n huis in Kaapstad te verkoop, in vergeleke met verlede jaar se tien weke.

Die gemiddelde tydperk wat ’n eiendom op die mark bly voordat dit deur ’n koper opgeraap word, is egter nou 14 dae korter.

Dit neem nou gemiddeld agt weke om ’n huis in Kaapstad te verkoop, in vergeleke met verlede jaar se tien weke.

Volgens Ketcher het FNB onlangs in ’n verslag bekend gemaak dat die nasionale gemiddeld nou meer as 15 weke (105 dae) is. Dit is twee weke langer as verlede jaar se gemiddeld en drie weke langer as die gemiddelde 12 weke wat as die maatstaf in die bedryf dien.

Ketcher sê dat woongebiede egter altyd van mekaar gaan verskil.

Dit is dus belangrik vir ’n verkoper om te weet hoe lank dit in ’n sekere gebied neem vir eiendom om te verkoop, en wat die gemiddelde verskil tussen die vra- en verkoopspryse is.

Die stadskom van Kaapstad. Foto: Pixabay

Hy verduidelik dat ligging, gerief, waarde, sowel as veiligheid baie belangrike faktore vir kopers is.

Pasop egter daarvoor om kanse te vat en jou vraprys te hoog te maak.

Hy sê dat hoewel kopers tussen 20% tot 40% meer vir ’n Kaapse eiendom sal betaal, hulle verby sal hou as dit lyk asof die huis oormatig hoog geprys is.

Hier is ’n blik op Kaapstad se topbuurte wat die spoed van eiendomsverkope betref.

  

1. Kaapse stadskom

Hierso gaan jy letterlik jou oë knip, en dan is jou huis verkoop! Die Kaapse stadskom is die buurt in die metro waar eiendomme die vinnigste verkoop. Dit neem net gemiddeld sowat 36 dae vir ’n koper om ’n eiendom hier op te raap – amper drie keer so vinnig as die nasionale gemiddeld. Verlede jaar was dit 44 dae.

Die gemiddelde verkoopsprys hier is nou R3,9 miljoen.

  

2. Bloubergstrand

Dié Kaapse kusbuurt het vanjaar ’n tweede plek behaal.

Hier neem dit gemiddeld 49 dae vir ’n huis om te verkoop. Die gemiddelde verkoopsprys is tans R2 miljoen – sowat 11% meer as verlede jaar.

Volgens Clinton Martle, Seeff se lisensiehouer vir hierdie gebied, help die bekostigbaarheid van eiendom en die instroming van kopers van oor die land heen om huise hier te verkoop.

  

Pasop egter daarvoor om kanse te vat en jou vraprys te hoog te maak.

3. Suidelike woonbuurte

Hierdie gewilde woongebied bly ook vooruitboer wat eiendomsverkope betref.

Ondanks moeilike ekonomiese omstandighede in die land, verkoop huise in hierdie buurte twee keer so vinnig as verlede jaar. Luidens Seeff se verklaring neem dit gemiddeld 50 dae om ’n huis hier van die hand te sit. Die gemiddelde verkoopsprys het ook effens vanaf R3,4 miljoen verlede jaar tot R3,5 miljoen gestyg.

  

4. Constantiaberg

Huisverkope in Constantiaberg vaar ook goed, sê James Lewis van Seeff. Hier neem dit gemiddeld 51 dae om ’n huis van die hand te sit, terwyl die gemiddelde verkoopsprys nou op R4,5 miljoen staan.

  

5. Atlantiese kus

Dié kusgebied staan as die speelplek van die rykes en een van die duurste woonplekke in die stad én die land bekend en dié mark bly goed vaar, sê Billy Rautenbach, Seeff se verkoops­direkteur vir hierdie gebied. Sy sê gegewe die hemelhoë eiendomspryse aan die Atlantiese kus sou ’n mens verwag dat hierdie gebied laer af op die ranglys verskyn.

Die gemiddelde tyd wat dit vir eiendom neem om hier te verkoop, is nou 68 dae, terwyl die gemiddelde verkoopsprys R9 miljoen is.

  

6. Valsbaai

Eiendomme aan die Valsbaaise kus neem nou gemiddeld 77 dae om te verkoop, lui Seeff se verklaring.

Volgens Gary Grobbelaar, die hoof van Seeff in die gebied, word kopers al hoe meer bewus van hierdie area – iets wat beslis tot voordeel van verkopers is. Die eiendom hier is ook relatief bekostigbaar in vergeleke met die ander kusgebiede in Kaapstad.

Die gemiddelde verkoopsprys is nou R2,8 miljoen – ’n styging van 27% sedert verlede jaar.

Meer oor:  Kaapstad  |  Kaapse Eiendom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.