SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Eiendomme
Kaapse skole lok kopers

Ons het dit al eintlik tot vervelens toe gehoor: Dis die leefstyl en lewensgehalte, geriewe, die see en natuurskoon, die toerisme en goeie stadsbestuur, asook die ligging van Kaapstad wat dit so gesog onder huiskopers maak.

Volgens die Seeff Property Group is daar egter nóg ’n faktor wat die huismark in die Kaap ’n hupstoot gee: die goeie skole, universiteite en ander tersiêre instellings wat jy hier, asook in die res van die provinsie kry.

In Rondebosch:Dié moderne huis is na aan Bishops geleë en het vyf slaapkamers, groot leefruimtes, gehalte-afwerkings, ’n swembad en ’n ingerigte buite-area. Die eiendom is vir R13,75 miljoen in die mark.

Wes-Kaapse skole is jaarliks onder die bes presterende skole in die land.

Volgens eiendomskenners is die mededinging vir toelating tot goeie skole en universiteite straf en daarom het dit uiters gesog geword om naby sulke instellings te woon.

Boonop het verkeersdruk en tydsbeperkinge dit ook ’n voorste prioriteit vir gesinne gemaak om naby ’n skool of ’n universiteit te woon.

Só lyk die syfers

Samuel Seeff, voorsitter van die Seeff Property Group, sê in ’n verklaring dat kopers tot soveel as 20% tot 40% meer vir ’n huis sal betaal wat naby aan ’n topskool geleë is. Hy sê buurte na aan goeie skole en universiteite vaar ook beter as daar ’n daling in die eiendomsmark is.

Hy meen die Kaap se skole is ’n groot trekpleister vir veral huishoudings wat na die Kaap “semigreer”, asook vir huiskopers van oor die vasteland en die res van die wêreld heen.

Volgens ’n studie deur Lightstone koop al hoe meer buitelanders eiendom in Suid-Afrika (hoofsaaklik ekspats) en dit is interessant om te sien dat dit hoofsaaklik in of naby aan buurte is waar daar topskole is, soos Rondebosch, Seepunt, Tamboerskloof, Century City, Sunningdale en Table View, voer Seeff verder aan.

Kaapstad se suidelike woonbuurte mag dalk as die stad se sogenaamde “akademiese gordel” bekend staan, maar daar is egter goeie skole in die hele Kaapse metropool en in die Boland geleë.

Wat private skole betref, is daar ook heelwat om van te kies en te keur. Daar is byvoorbeeld ’n paar internasionale skole in onder meer Parklands, Claremont en Houtbaai geopen, ’n Duitse skool in Tamboerskloof en ’n Franse skool in die stad self.

Baie Kaapse buurte beplan of het ook reeds hul eie private Curro-skole – dit sluit selfs kusdorpe buite die Kaap soos Langebaan en Hermanus in.

Wat tersiêre opleiding betref, is daar die Universiteit van Kaapstad, die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van Wes-Kaapland, die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie en hele ’n paar ander kolleges en tersiêre instellings wat groot trekpleisters vir kopers hier is.

In die Paarl:Dié drieslaapkamerhuis is in De Kleine Molenstraat – ’n gesogte woonbuurt in die Paarl – en het van die mooiste uitsigte op die dorp. Die huis is vir R3,95 miljoen in die mark. Foto’s: VERSKAF

Blik op die suide

’n Studie wat deur die Seeff Property Group gedoen is, het bevind dat daar sowat 160 skole net in die suidelike woonbuurte is, sê James Lewis, Seeff se besturende direkteur vir Houtbaai, Llandudno en die suidelike woonbuurte, in die verklaring.

Dit is glo die hoogste konsentrasie skole, asook die hoogste konsentrasie bes presterende skole in die land, luidens die studie.

Net in Rondebosch is daar 18 goeie skole, asook die Universiteit van Kaapstad.

Volgens Lewis is gesinshuise en studenteverblyf uiters gesog in dié buurt. Vir ’n gesinshuis naby aan Bishops, byvoorbeeld, kan kopers verwag om tussen R8 miljoen en R12 miljoen te betaal.

In Nuweland kos die huise naby aan skole weer gemiddeld tussen R5 miljoen en R15 miljoen.

Atlantiese kus, stad

Volgens Ian Slot, Seeff se besturende direkteur vir dié gebiede, is daar nie ’n tekort aan private skole hier nie.

Kopers kan verwag om gemiddeld tussen R5 miljoen en R15 miljoen vir gesinshuise in die stadskom op te dok en sowat R8 miljoen tot R18 miljoen in buurte soos See- en Groenpunt.

In Fresnaye en Kampsbaai gaan so ’n huis jou gemiddeld tussen R12 miljoen en R22 miljoen uit die sak jaag.

En in Bloubergstrand?

Volgens Clinton Martle, van Seeff Blouberg, is daar sowat 20 skole in die gebied – insluitend ’n aantal private skole. Die jongste toevoeging daar is die private skool Curro Parklands-Noord.

Volgens Martle lok die skole buitelandse kopers na die gebied. Kopers kan verwag om daar tussen R1,8 miljoen en R2,8 miljoen vir ’n mooi gesinshuis met ’n swembad naby aan ’n skool te betaal.

O, die Boland!

Pierre Germishuys, besturende direkteur van Seeff in die Kaapse Wynland, sê die Boland is nóg ’n gebied wat in groot aanvraag is vanweë al die topskole daar.

Dorpe soos Stellenbosch, die Paarl en Wellington het almal skole met uitstekende matrieksyfers.

Volgens Germishuys kos ’n gesinshuis in Stellenbosch gemiddeld tussen R2,8 miljoen en R5,8 miljoen. As jy egter naby ’n topskool daar wil woon, sal jy tussen R8 miljoen en R14 miljoen moet opdok.

In die Paarl is daar ’n goeie verskeidenheid gesinshuise vir tussen R1,8 miljoen en R2,8 miljoen beskikbaar.

As jy egter ’n gesinshuis in ’n top-ligging wil koop, kan dit jou sowat R6 miljoen kos, sê Germishuys.

’n Gemiddelde gesinshuis in Franschhoek word weer vir tussen R5,5 miljoen en R8 miljoen verkoop.

Meer oor:  Kaapstad  |  Skole  |  Eiendomme  |  Huiskoop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.