Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Kaapstad klim op ranglys van wêreldstede

Kaapstad het sy posisie met 20 plekke op die Schroders’ Global Cities Index verbeter en is nou nr. 438 op die 2020-ranglys.

Kaapstad se punte vir innovasie het beduidend vanaf 4,3 tot 5,3 gestyg, en die stad het ’n stewige telling van 7 vir sy omgewingsevaluering gekry.

Die Covid-19-pandemie was nie net nadelig vir wêreldstede soos Kaapstad nie. Volgens Schroders kan die effek daarvan ook die ontwikkeling van oop ruimtes en groener geboue in stede aanmoedig. Foto: Unsplash

Die indeks help beleggers om ’n blik te kry op die beste stede vir eiendomsgeleenthede oor die wêreld heen. Die indeks werk op vier maatstawwe, naamlik die ekonomie, omgewing, innovasie en vervoer.

Die rangorde lig stede uit wat ’n goeie kombinasie van die vier het.

Belangrikheid van vervoer

Vervoer is vanjaar vir die eerste keer as maatstaf bygevoeg en fokus veral op stelsels wat massas reisigers en goedere kan vervoer. Die vervoertelling ontleed data van vyf metodes van vervoer, naamlik op see, pad, trein, bus en in die lug.

Kaapstad se telling vir vervoer is 5,4.

Die stad se vervoertelling is gedryf deur die toeganklikheid en kwaliteit van sy hawe- en lughawefasiliteite.

Die spoorwegnetwerk het die stad hier in die steek gelaat. Dit, saam met ’n lae gemiddelde besteebare inkomste van die stad se bevolking, het die punte laat daal.

Volgens Schroders is ’n werkende en doeltreffende spoorvervoerstelsel aan die heup van ’n stad se ekonomie geheg. Inwoners moet kan reis om by hul werkplekke uit te kom.

In Kaapstad se geval belemmer die spoorvervoerstelsel goedkoop vervoer van mense en goedere.

Kaapstad se ondoeltreffende spoorwegnetwerk en die onvolhoubare koste daarvan het ook tot gevolg gehad dat die meeste inwoners eerder in hul motors as met die trein pendel.

Kaapstad se internasionale lughawe, tans die tweede besigste in Afrika, het die stad se puntetelling ’n hupstoot gegee.

As Kaapstad se Metrorail-treindiens betroubaarder was, sou Kaapstad ’n beter beleggingsbestemming gewees het. Foto: Jaco Marais

Die ligging van die stad se hawe het ook bygedra tot beter punte omdat dit op een van die besigste handelsroetes ter wêreld is. Dit het ook die tweede grootste houerhawe in Afrika.

Die nuwe vervoertelling gebruik eie navorsing om stede se verskillende vervoermiddels te ontleed. Die navorsing kan byvoorbeeld looptye na bus- en treinhaltes en reistye op paaie bereken. Dit meet ook passasiers- en vragvolumes deur hawens en lughawens.

Dié belangrike aanpassing aan die indeks behoort ’n meer volledige prentjie te gee van hoe doeltreffend ’n stad werklik is.

Beste stede ter wêreld

Die vervoertelling en die maatstaf vir omgewing het die klem wat in die verlede op die ekonomiese evaluering geplaas is, verminder. Stede wat dus digbevolk is en in die verlede hoër op die lys was, het gedaal.

Dit is deels waarom sommige Noord-Amerikaanse stede afgeskuif het.

Los Angeles het vanjaar sy eerste posisie van verlede jaar aan Londen afgestaan – ’n posisie wat die Amerikaanse stad vier agtereenvolgende jare beklee het.

San Francisco se tweede plek is grootliks te danke aan die stad se gewildheid as belangrike tegnologiese middelpunt, met van die wêreld se tegnologiereuse wat daar gevestig is.

San Francisco se universiteite, soos Stanford, het ook vir baie hoë punte gesorg.

Volgens die inkomste per capita bly San Francisco se welvaartpunt baie hoog.

Boston het derde met sy wêreldbekende navorsingsentrums soos die Massachusetts Institute of Technology en Harvard geëindig. Die stad se vervoerinfrastruktuur bly mededingend as gevolg van afstande tussen busse en spoorvervoer.

Effek van Covid-19 op wêreldstede

Hugo Machin, portefeuljebestuurder en medehoof van Schroders, sê as ’n aktiewe bestuurder van ’n fonds is dit belangrik om die werklike effek te verstaan wat hulle beleggingsbesluite op die samelewing en die omgewing het.

“Stede is verantwoordelik vir meer as 70% van die wêreld se koolstofdioksied wat vrygelaat word. Hoe stede dus op die eise van wêreldwye verstedeliking reageer en optree om omgewings- en maatskaplike kwessies die hoof te bied, bly ’n uitdaging, maar dit skep ook geleenthede vir beleidmakers, inwoners en beleggers.”

Hy meen die beste stede sal ten spyte van die effek van die wêreldwye Covid-19-pandemie voortgaan om te ontwikkel.

“Die Covid-19-krisis het ’n groot invloed gehad op wêreldstede soos wat baie mense noodgedwonge van die huis af moes werk.

“Die eienaars van kantoorgeboue sal nou meer aggressief om kliënte meeding. Die verbeterde breëbandspoed, kommunikasieplatforms wat deur maatskappye gebruik word en buigsame werkure hou ’n bedreiging vir die tradisionele manier van die verhuring van kantoorgeboue in.”

Meer oor:  Schroders  |  Kaapstad  |  Vervoer  |  Eiendomme  |  Buitelandse Beleggers  |  Investering  |  Beleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.