Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Kantooreienaars raak kreatief

Eienaars van kantooreiendom word gedwing om skeppend te werk te gaan om hul blootstelling aan die sukkelende kantoorsektor te verminder, asook om huurders te lok.

’n Kunstenaarsvoorstelling van hoe Emira se sjiek The Bolton in Rosebank gaan lyk wanneer dit voltooi is. Die gebou het Sasol vantevore gehuisves.

Dié sektor gaan gebuk onder hoë leegstaansyfers aangedryf deur ’n gedempte vraag na ruimte in ’n swak ekonomiese omgewing en ook ’n vlaag van groot korporasies wat hul ondernemings in een enorme nuwe eiendom konsolideer en dan verskeie geboue leeg agterlaat. Talle huurders verkies ook deesdae kleiner ruimtes, wat veral ’n uitdaging is in die B- en C-graad-kantoorsektor, waar die leegstaansyfers in sekere gebiede tot 25% geklim het, sê Keillen Ndlovu, hoof van Stanlib se genoteerde eiendomsfondse.

Hy verwag dat die uitdagende kantoormark tyd gaan neem om te herstel. “Die vooruitsig vir die herstel is waarskynlik tussen twee en drie jaar.”

Hy sê sakevertroue en ekonomiese groei moet eers verbeter om die vraag na kantooreiendom ’n hupstoot te gee.

Die kantoorsektor is tans ’n absolute huurdersmark waar huurders sterk bedingingsvermoë het. “In die B- en C-graad-kantoorsektor bied sommige kantooreienaars gratis huurperiodes vir tot een jaar om huurders te lok.” Hy sê ander bied 50% afslag op huurgeld per jaar vir die volgende twee jaar.

Een van die tendense op die oomblik is die omskakeling van onbenutte kantoorgeboue in residensiële verblyf.

Ndlovu sê dit hou die risiko in dat daar ’n ooraanbod van residensiële verblyf in sekere gebiede kan ontwikkel.

Hy glo dat van die ou kantore ook in bergingseiendomme omgeskakel kan word omdat ’n toename in residensiële eenhede die vraag na bergingsruimte kan opstoot.

’n Uitstekende voorbeeld van ’n maatskappy wat suksesvol nuwe lewe in ou kantoorbates blaas, is die Emira Property Fund.

Dié fonds het vroeër vanjaar sy debuut in die residensiële eiendomsbeleggingsektor gemaak deurdat hy begin het om die kantore wat Sasol vantevore gehuisves het, in ’n sjiek residensiële ontwikkeling, The Bolton, om te skakel. Die projek kom daarop neer dat 10 000 m² se ou kantore 280 verhuurbare residensiële eenhede word. Die eerste huurders is reeds vroeër in Augustus verwelkom en die projek gaan na verwagting in Januarie 2019 voltooi wees.

Die projek kom daarop neer dat 10 000 m² se ou kantore 280 verhuurbare residensiële eenhede word.

Geoff Jennett, uitvoerende hoof van Emira, sê die toetrede tot residensiële eiendomsbeleggings is goeie diversifikasie vir Emira se portefeulje en die fonds is aktief op die uitkyk vir verdere geleenthede in die sektor. “Ons wil graag saam met sektorkundiges, wat op die laermiddelklas-eiendomsmark gemik is, belê.”

Hy sê die maatskappy oorweeg ook verdere kantooromskakelings, namate geleenthede na vore kom.

Emira se oogmerk is om sy residensiële blootstelling tot tussen 5% en 10% van sy totale portefeulje uit te brei.

Emira het in die jaar tot einde Junie sy blootstelling aan kantore tot 35,7% van die totale bates verminder, deur onder meer sewe kantooreiendomme van die hand te sit.

Die nasionale kantoorleegstaansyfer het aan die einde van die tweede kwartaal van vanjaar op 11,1% gestaan, blyk uit die nuutste kantoorleegstaanverslag van die Vereniging van Eiendomseienaars van Suid-Afrika (Sapoa).

Dit is steeds hoog, maar 0,4 persentasiepunte laer as die vorige kwartaal.

Onder die vyf groot metropolitaanse gebiede het die Kaapse metro die laagste kantoorleegstaansyfer van 7% gehad en die eThekwini-metro die hoogste van 13,2%. Die middestedelike gebied van Durban bly die hoofaandrywer van die oorhoofse leegstaansyfer in die metro en het die laaste kwartaal op 19,4% gestaan. Die Johannesburgse metro het die naashoogste leegstaansyfer gehad: 12,4%.

Aan die einde van die tweede kwartaal was kantoorontwikkelings in aanbou 512 000 m², heelwat minder as die hoogtepunt van 982 000 m² in die vierde kwartaal van 2015. Uitgedruk as ’n persentasie van bestaande kantoorvoorraad, beloop ontwikkelingsaktiwiteit 2,8%.

Meer oor:  Veilings  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.