Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Kantore, winkels, huise: Nuwe wêreld kom ná Covid
Die tuiskantoor is hier om te bly – selfs ná die Covid-19-inperkings opgehef word. Dit beteken baie maatskappye sal hul kantoorruimte probeer verklein. Foto: Unsplash

Suid-Afrikaanse maatskappye het gesien werk van die huis af, aanlyn vergaderings en webkonferensies wérk – en dit kan die toekoms van die eiendomsbedryf vir ewig verander, selfs nadat die Covid-19-verwante inperkings opgehef word.

Nie net gaan maatskappye dalk hul kantore verklein nie, hulle gaan ook minder hotelle en konferensiegeriewe gebruik.

Op hul beurt het duisende verbruikers die wonder van aanlyn inkopies ontdek of dit baie meer begin gebruik, wat ’n vraagteken plaas oor die toekoms van winkels en winkelsentrums. Hulle gaan ook hul tuistes beter kies of inrig vir werk van die huis af.

John Loos, FNB se eiendomstrateeg, het Donderdag op ’n webkonferensie oor die eiendomsbedryf verskeie tendense uitgelig wat waarskynlik die norm gaan word in ’n post-Covid-landskap. Dis egter nie soseer nuwe tendense nie as ontluikende tendense wat net heelwat vinniger gaan posvat.

“Werk van die huis af en aanlyn inkopies was ontluikende temas voor Covid-19. Dit het dié tendense net ’n groot hupstoot gegee,” sê hy.

Loos sê die beste vergelyking vir hoe lank dit die eiendomsbedryf gaan neem om van die Covid-19-krisis te herstel, is die 2009-resessie ná die wêreldwye finansiële krisis.

Ná die 2009-krisis het eiendomswaardasies jare geneem om te herstel. Die persentasie huurders van handelseiendom wat op datum was met hul huur het eers in die laaste kwartaal van 2010 die onderste draaipunt, van 66%, gehaal, en dit het tot die eerste kwartaal van 2013 – dus meer as drie jaar – geduur voordat die vlakke van vóór die krisis (83,3%) gehaal is.

Daarom waarsku Loos dat dit drie tot vir jaar kan duur voordat verhuurders van handelseiendom weer op die vlakke voor die Covid-19-krisis is. Talle ondernemings het die afgelope tyd gevou en onderhandelinge tussen verhuurders en ondernemings duur voort oor die vermindering of uitstel van huur.

Daar is egter ook groot verskille tussen 2009 en 2020. Tydens die vorige krisis het die waarde van handelseiendom – kantore, winkelsentrums en nywerheidspersele – die storm deurstaan. Dié keer gaan handelseiendom nie so lig daarvan afkom nie, glo hy.

Loos verwag dat kapitaalgroei op eiendom nie voor 2022 beleef gaan word nie, maar dat dit dan nie eens inflasie sal klop nie.

Kantoorgeboue

  • Die Covid-19-inperking het baie maatskappye gedwing om geld aan tegnologie te bestee sodat personeel van die huis af kan werk. Die meeste maatskappye is onder erge druk en hulle sal koste probeer besnoei. Dit kan meebring dat kantoorruimte verklein word soos al hoe meer mense meer gereeld van die huis af werk.

Hotelle en konferensiegeriewe

  • Die inperking het gewys hoe duur en tydrowend sakereise, met gepaardgaande hotelverblyf, is. FNB verwag dat reisbegrotings besnoei gaan word en heelwat sakereise bloot nie meer sal plaasvind ná die inperking nie.
  • Die era van webinare het aangebreek, wat beteken dat baie minder sakekonferensies waar mense fisiek teenwoordig moet wees, in die toekoms gehou sal word.

Winkels en winkelsentrums

  • FNB glo groot winkelsentrums gaan die hardste getref word deur die skuif na aanlyn inkopies. Kleiner sentrums in woonbuurte gaan waarskynlik aanhou floreer omdat hulle noodsaaklike goed soos kos verkoop en so naby is dat mense eerder sal ry om iets te gaan koop as om te wag vir aflewering.
  • Om voete te lok, sal meer winkelsentrums fokus op “ervarings” en “vermaak” as op inkopies. Loos sê dit sal ’n groot uitdaging wees in ’n land met geen ekonomiese groei nie en verbruikers wat noodsaaklike inkopies eerste moet plaas.

Residensiële eiendom

  • FNB sê dié sektor gaan nie die resessie vryspring nie en huispryse gaan waarskynlik vanjaar skerp daal. Maar mense moet immers steeds êrens woon.
  • Kleiner huise in komplekse en woonstelle – sogenaamde “residensiële verdigting” – en die ontwerp daarvan gaan al hoe belangriker word in die lig daarvan dat mense al hoe meer by die huis gaan bly, ook om te werk.
  • Loos verwag ’n oplewing in opknappings en verbouings soos mense ouer wonings inrig om tuiskantoorruimte te skep, en meubels wat as ruimtebesparend beskryf word, kan ’n gonswoord word.
  • Hy verwag ook dat heelwat méér kantoorgeboue na woonstelkomplekse omgeskakel gaan word oor die volgende paar jaar. Dis reeds ’n tendens in stadskerns landwyd.

“Oor ’n paar dekades kan die samestelling van die voorraad eiendom merkbaar anders lyk as vandag. Die belangrikste eienskap is dat ’n kleiner deel van die totaal sal winkels en kantore wees en ’n selfs groter deel sal residensiële eiendom wees as tans.”

Meer oor:  Huiskoop  |  Ekonomie  |  Kommunikasie  |  Huispryse  |  Genoteerde Eiendom  |  Covid-19  |  Tegnologie  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.