Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Kikker jou badkamer op met min geld

Daar is min dinge wat ’n huis se inwoners, sowel as potensiële huiskopers, só kan afsit (én laat skrik) soos ’n ou, verwaarloosde badkamer. Eiendomme het by ’n kenner gaan kers opsteek oor hoe om ’n badkamer op ’n beperkte begroting op te knap.

’n Badkamer is altyd ’n gewilde kandidaat vir ’n mooimaakprojek – veral omdat dit, benewens die slaapkamer, die vertrek in die huis is wat amper die meeste deur sy inwoners benut word.

Dit kan ook in sekere gevalle ’n toevlugsoord wees as dit reg ingerig word.

Volgens Kim Hogben, hoof van die Leapfrog Property Group se tak in Durban-Sentraal, is ’n badkamer wat goed onderhou is ’n bate vir enige eiendom.

Badkameropknappings is egter bekend daarvoor om duur te wees en die hulp en vaardighede van kundiges soos loodgieters, elektrisiëns, skrynwerkers en bouers is dikwels nodig as jy só ’n projek wil aanpak, sê sy in ’n verklaring.

Tog is daar heelwat maniere waarop jy jou badkamer in ’n lushof kan omtower sonder dat dit jou ’n plaas se geld kos.

“Kosmetiese veranderings kan baie doen om die voorkoms en gevoel van ’n ruimte te verander. Dit sluit nuwe afwerkings en toebehore, spieëls en ander bykomstighede in. Só kan jy die badkamer onmiddellik opgradeer sonder om aan enige van die strukturele elemente van die vertrek te raak,” verduidelik Hogben.

Hier is raad vir huiseienaars wat só ’n badkamerprojek wil aanpak:

1. Werk met wat jy het

Pasop daarvoor om met die intrapslag sommer die baba met die badwater uit te gooi.

Oorweeg eers mooi wat in die badkamer jy met ’n tikkie verbeelding, ’n blitsbesoek aan jou plaaslike hardewarewinkel en ’n bietjie poetswerk kan verfris en opknap.

“Deesdae kan jy teëls, badkamerkaste en selfs toebehore soos krane maklik net verf.

“Dit is ’n baie meer kostedoeltreffende alternatief as om dit heeltemal te vervang,” sê Hogben.

Wenk: Onthou om die oppervlak wat jy wil verf, eers vooraf goed voor te berei. Dit sal verseker dat die verfwerk professioneel lyk. Klop by ’n plaaslike verfwinkel aan vir verdere raad.

2. Tweedehands kry waarde

As jy werklikwaar van die sanitêre ware en vaste toebehore in die badkamer moet vervang, oorweeg dit om tweedehandse ware te koop.

Ontwerpers en professionele huisopknappers verkoop dikwels die sanitêre ware en ander items wat hulle uit die huis verwyder waaraan hulle werk teen ’n goeie prys.

As jy bereid is om ’n bietjie tyd te neem en vir só ’n winskopie rond te snuffel, kan jy nie net geld bespaar nie, maar ook iets kry wat nog in ’n goeie toestand is.

Die geklassifiseerde afdeling van koerante of selfs webwerwe soos Gumtree is ’n goeie beginpunt.

Wenk: Hou net in gedagte dat hoewel jy geld op die tweedehandse ware gaan bespaar, jy dalk steeds vir ’n loodgieter en/of bouer gaan moet opdok om die bad, toilet of wasbak vir jou in te sit, sê Hogben.

3. Hou omgewing in gedagte

As jy ’n vertrek soos die badkamer gaan opknap, is dit die ideale tyd om sommer iets goeds vir die omgewing te doen.

Kry ’n laevloei-spoeltoilet, -wasbak en -stortkop vir jou badkamer. Installeer ook LED-ligte.

Wenk: Dit mag jou dalk nou ekstra geld kos, maar op lang termyn bespaar jy water én jy doen jou deel vir die bewaring van die omgewing.

4. Die bykomstighede

Skep ’n speelse of luukse atmosfeer in jou badkamer deur ’n aksentmuur van mooi muurpapier te maak.

Jy kan ook ’n fokuspunt in jou badkamer skep deur die gedeelte van die muur agter jou toilet ’n helder kleur te verf, of ’n muurskildery op die plafon te verf.

Gebruik dan aksent-dekorstukke om die prentjie af te rond.

Wenk: Dekorstukke en bykomstighede is nie vaste toebehore nie en kan dus maklik vervang of verander word om by die jongste tendense, die seisoene of veranderende smake en voorkeure te pas. ’n Plant in ’n mooi pot kan baie doen om ’n lewendige ruimte te skep. Geraamde afdrukke van kunswerke en foto’s maak die vertrek weer ’n tikkie meer persoonlik.

5. Stimuleer die sintuie

Volgens Hogben het ons sintuie baie te doen met hoe ons ’n ruimte of vertrek ervaar. Buiten vir hoe ’n badkamer lyk, is dit ook belangrik om seker te maak dat dit lekker voel én ruik.

Wenk: Inkorporeer sagte teksture in jou badkamer deur ’n sagte of katoenbadkamermat voor jou stort te gooi of sagte, donserige handdoeke in jou badkamer op te hang.

Oorweeg ook lekkerruikmiddels en lugverfrissers in jou badkamer om dit meer sensueel te laat ruik.

Gegeurde kerse, oliebranders of ’n diffusor (wat die lekkerruikmiddel in die vertrek versprei) werk baie goed.

Meer oor:  Opknappingswerk  |  Badkamer  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.