Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Kleiner huise word ál gewilder

Hoewel welaf Suid-Afrikaners oor die algemeen aan groter huise gewoond is, is daar deesdae ’n toenemende vraag na kleiner, kompakte huise by kopers oor die land heen, aldus eiendomskenners.

Dié tendens kan onder meer toegeskryf word aan faktore soos finansiële beperkings of leefstylbehoeftes. Volgens Jill Lloyd, ’n spesialisagent vir Lew Geffen Sotheby’s International Realty in Kaapstad se suidelike woonbuurte, is doeltreffende ruimte-benutting een van die hooffaktore wat kopers oorweeg as hulle besluit om af te skaal.

“Al hoe meer mense omarm die idee om in ’n kleiner huis te woon wat minder van ons immer kwynende ontspanningstyd en spaargeld verg om in stand te hou. Daar is egter ’n aantal bekommernisse – soos dat die huis te beknop gaan wees of ’n tekort aan stoorplek gaan hê,” sê Lloyd in ’n verklaring.

Sy meen egter dit is belangrik om te onthou dat net omdat ’n huis kleiner is, dit nie noodwendig beteken dat dit donker en beknop gaan wees nie. “Ek dink ons hoef net na die soort huise te kyk wat jy in Londen aantref om te bepaal in watter rigting Kaapstad se veranderende eiendomslandskap op pad is. Ek het al ’n aantal jong mense gesien wat uit die buiteland terugkeer, en met vernuftige idees vir stoorplek en ruimte-benutting vorendag kom wat hulle in Brittanje gesien het,” sê sy.

Volgens Lloyd is dit belangrik om voordat jy in ’n kleiner, kompakte eiendom belê, eers te bepaal wat jou ruimtelike behoeftes is. Dit is ook slim om ’n plan op te stel oor hoe jy daardie ruimte gaan benut.

Hier is ’n paar van haar riglyne oor hoe om die ruimte in ’n kleiner huis optimaal te benut:

Liefs lig en helder

Verf die huis se mure in ligte kleure, sodat dit groter lyk. Oorweeg ook ligte vloere soos blonde hout. Deur klein vensters groter te maak, hoë vensterbanke te verlaag of selfs van jou vensters met iets soos Franse deure te vervang, laat jy meer natuurlike lig in en lyk die huis sommer dadelik mooier, sê Lloyd.

Onthou net: Helder vertrekke lyk oor die algemeen groter.

Wees slim met stoorplek

Bou laaie vir pakplek onder jou trappe of monteer mooi swewende rakke teen jou huis se mure. Meubels soos beddens en sitkamerbanke met laaie wat kan uittrek, is ook slim oplossings.

Dink anders oor ruimte

Identifiseer ruimtes in jou huis wat jy kan aanpas en inrig, sodat jy dit vir ’n ander doel kan gebruik. Een voorbeeld is daardie leë, ongebruikte hoekie in jou huis. Rig dit as kindervriendelike sitplek of stoorplek in.

Op klein skaal

Wanneer jy jou huis meubileer en versier, moet dit by die grootte van jou huis pas. ’n Sitkamerbank wat te groot (of te klein) is kan dadelik die hele vertrek snaaks laat lyk en voel.

Dit is uiters belangrik om die verhouding van die meubels teenoor die ruimte in ag te neem wanneer dit ’n klein ruimte is.

Dit is ’n goeie idee om voorwerpe van verskillende groottes wat met mekaar verband hou, in een vertrek te kombineer.

As jy ’n groot meubelstuk in ’n vertrek het, moet jy kleiner items soos lampe en sytafels op die regte plekke hê om balans in die vertrek te skep.

Jou tuin

Volgens Lloyd kan ’n klein tuin wat goed uitgelê is, ’n wonderlike buite-area word.

Plant byvoorbeeld struike en klein bome wat voëls lok.

’n Stoep met ’n ingeboude braaiplek kan weer byvoorbeeld toegebou word, sodat dit deel van die huis word.

Daarbenewens kan ’n klein plonspoel ook by die buite-area ingesluit word as daar genoeg plek is.

“Swembaddens is egter deesdae minder gewild vanweë die lopende koste en water wat jy daarvoor nodig het.”

Só sê kenner

Volgens Lloyd gaan moderne kompakte huise vir die afsienbare toekoms een van die beste eiendomsbeleggings bly. Dís waarom:

  • Eiendomspryse in veral Kaapstad is nie net nog steeds baie hoog nie, maar die skerp styging in eiendomsbelasting en ander munisipale tariewe maak dit gek vir mense om geld te mors op kamers in ’n huis wat hulle skaars gebruik of ’n swembad waarin hulle nooit swem nie, sê Lloyd.
  • Waterbeperkings en stygende waterkoste maak dit moeilik om groot tuine in stand te hou.
  • Daar is ’n toename in leënes-egpare wat nie meer dink dit is die moeite en geld werd om ’n groot eiendom in stand te hou wanneer hul kinders uit die huis getrek het nie.
  • Talle millenniër-kopers vandag verkies uiters moderne huise wat min instandhouding verg.

Meer oor:  Eiendomme  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.