Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Kleiner winkelsentrums bult hul spiere

Suid-Afrika se gemeenskapwinkelsentrums het in die tweede kwartaal van vanjaar die beste groei in omset behaal, blyk uit die nuutste kleinhandeldigtheidsindeks van MSCI se Investment Property Databank (IPD).

Sandton City in Sandton, een van die suksesvolste superstreeksentrums in die land.

Die handelsdigtheid (omset per vierkante meter) van dié sentrums was in die kwartaal 11,9% hoër as ’n jaar tevore, wat die gemiddelde jaarlikse handelsdigtheid op R3 197 per m² per maand te staan gebring het.

Anton de Goede, eiendomsportefeulje-bestuurder by Coronation, skryf die vertoning toe aan die geriefsaspek van dié sentrums, waar maklik ingeloer kan word.

Buurtsentrums

Buurtsentrums het ook goed vertoon met jaarlikse groei in omset van 8,8%, wat die gemiddelde handelsdigtheid op R3 004 per m² per maand te staan gebring het.

Gemeenskapsentrums beslaan tipies tussen 12 000 m² en 25 000 m² en buurtsentrums is kleiner as 10 000 m².

Die groei is aangedryf deur die voedselkleinhandelaars in gemeenskapsentrums wat in dié kwartaal ’n gemiddelde omset van R4 591 per m² per maand behaal het en dié in buurtsentrums R4 218 per m² per maand.

Kleiner gemiddelde winkel-groottes bring ’n groter verskeidenheid en ’n toename in die besteding per vierkante meter.

Phil Barttram, MSCI se uitvoerende direkteur van eiendom, sê dit kan ’n gevolg van hoër voedselinflasie wees, maar ook ’n toename in die inkopies van gerieflikheidskos.

“Die resultate kan ’n verandering in die gedrag van inkopiegangers in ’n uitdagende omgewing weerspieël,” sê hy.

Hy sê dit begin voorkom asof inkopiegangers hul besoeke aan superstreeksentrums afskaal en meer gereeld by kleiner gerief­sentrums vir hul daaglikse behoeftes aandoen. “Hulle sal egter meer bestee tydens ’n besoek aan ’n superstreeksentrum.”

Die gewildheid van kleiner sentrums het ook te make met die feit dat hulle hul huurderkombinasie aangepas het. “Kleiner gemiddelde winkelgroottes bring ’n groter verskeidenheid en ’n toename in die besteding per vierkante meter.”

Hy sê nog ’n skuif in die huurderkombinasie was ’n groter allokasie aan spesifieke kleinhandelkategorieë, onder meer gesondheid en skoonheid. “Winkels wat op dié kategorieë fokus, verhandel oor die algemeen teen ’n hoër handelsdigtheid as die sentrum se gemiddelde, so deur hul ruimte te vergroot, het ’n positiewe impak,” sê hy.

Superstreeksentrums

Die handelsdigtheid van superstreeksentrums (sentrums groter as 100 000 m²) was in die tweede kwartaal 6,4% hoër as ’n jaar gelede, wat die jaarlikse gemiddelde op R3 273 per m² per maand te staan gebring het.

Die kleinhandelkategorie in dié sentrums wat die beste vertoon het, is restaurante, kroeë en kitskosafsetpunte met ’n gemiddelde handelsdigtheid van R3 533 per m² per maand.

Klerewinkels vaar ook goed met ’n gemiddelde handelsdigtheid van R3 320 per m² per maand.

De Goede voorsien dat superstreeksentrums wat oorheersend in hul gebied is en kleiner geriefsentrums goed gaan vaar in die toekoms.

*Die indeks is gegrond op ’n databasis van 102 winkelsentrums landwyd met ’n bruto verhuringsruimte van meer as 4,4 miljoen m².

Meer oor:  Handelseiendom  |  Winkelsentrums
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.