Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Kommer oor ‘inkommers’ op die JSE

Miskien voel Norbert Sasse, uitvoerende hoof van Growthpoint, die grootste genoteerde eiendomsfonds in Suid-Afrika, ’n bietjie jaloers of bedreig.

Norbert Sasse, uitvoerende hoof van die genoteerde eiendomsfonds Growthpoint.

Maar hy het straks goeie rede om besorg te wees oor wat hy die koorsagtigheid oor internasionale eiendomsfondse noem wat op die JSE noteer.

Sasse sê die internasionale fondse – soos die Britse fonds Hammerson wat die afgelope week op die JSE genoteer het – voldoen aan die skynbaar onversadigbare vraag van plaaslike institusionele beleggers om in enigiets te belê solank dit nie in rand-gedenomineerde bates is nie.

Sasse is egter besorg dat Suid-Afrika net ’n beperkte poel beleggingskapitaal het vir plaaslike eiendomsfondse. As beleggers eerder hul geld in buitelandse eiendomsfondse belê, is daar minder geld in die poel oor om in plaaslike eiendomsfondse te belê.

Die notering van Hammerson beteken natuurlik beleggers kan in oorsese eiendom belê sonder dat hulle hul toelae vir buitelandse belegging hoef te gebruik.

Sasse meen dit word uiteindelik ’n valuta-verhandeling – d.w.s. beleggers wil wegkom van blootstelling aan die rand se wisselvallige koers teen ander geldeenhede.

Sasse meen die toestroom van buitelandse fondse wat beleggersgeld hier ontvang en die kapitaal as’t ware uitvoer om dit in Europa of elders te gaan belê, kan dalk nog die rooi ligte by die Reserwebank laat afgaan.

Hy meen ook dit is nie op lang termyn volhoubaar nie.

Hammerson het Donderdag 1 September teen R112,11 op die JSE genoteer en op die eerste dag tot R115,75 opgeskiet. Dit was Vrydag 1,4% laer op R114.

Hammerson is wat markwaarde betref teen R91,4 miljard nou die grootste genoteerde eiendomsfonds op die JSE, gevolg deur Intu Properties teen R81 miljard. Intu is ook ’n buitelandse fonds wat winkelsentrums in Brittanje en Spanje besit.

Growthpoint het self ook buitelandse bates, in die vorm van Growthpoint Australië wat in die boekjaar tot einde Junie met R772 miljoen 15,2% van sy uitkeerbare inkomste gelewer het.

Growthpoint is steeds die grootste Suid-Afrikaanse eiendomsfonds met sy primêre notering op die JSE, het Sasse by ’n aanbieding oor sy jaarresultate by die V&A Waterfront gesê. Sy aandeelprys was Vrydag 1,5% hoër op R25,28, en sy markwaarde is R70 miljard.

Meer oor:  Growthpoint  |  Norbert Sasse  |  Genoteerde Eiendom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.