Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Konstruksie skepties oor al Cyril se projekte

Selfs al realiseer net ’n paar van die 55 infrastruktuurprojekte wat pres. Cyril Ramaphosa onlangs gesê het gereed is vir die mark, sal dit ’n groot hupstoot vir konstruksie gee.

’n Kunstenaarsvoorstelling van hoe die Redstone-sonkragaanleg by Postmasburg sal lyk wanneer dit voltooi is. Dit is glo een van die infrastruktuurprojekte wat beoog word, het Business Insider berig. Foto: Verskaf

Dis nou ás die projekte wel die lig sien, sê Siphamandla Mkhwanazi, senior ekonoom van FNB.

Ramaphosa het op 23 Junie op die simposium oor volhoubare infrastruktuurontwikkeling gesê die land het groot planne vir infrastruktuurontwikkeling.

“Die Covid-19-pandemie het infrastruktuurinvestering nog belangriker en selfs dringender gemaak,” het Ramaphosa gesê.

“Daarom het ons infrastruktuur in die middelpunt geplaas van die stimulus wat ons ekonomie nodig het om ’n volhoubare herstel te bewerkstellig.

“Reeds voor die pandemie het Suid-Afrika se investering in infrastruktuur etlike jare gedaal, wat onder meer groot swaarkry vir die konstruksie- en verwante bedrywe veroorsaak het.

“Maar nou het die koronavirus ’n baie ernstige invloed op die verskaffers van infrastruktuurdienste.”

Weens die pandemie het talle projekte tot stilstand gekom en is tenders nie uitgereik nie, terwyl leners en beleggers op hul beurt besluite hersien om in infrastruktuurprojekte te belê.

Tito Mboweni, minister van finansies, het ook Woensdag in sy aanvullende begrotingsrede klem gelê op infrastruktuur as aandrywer van ekonomiese groei.

Mkhwanazi sê dis egter nié die eerste keer wat die staat groot beloftes oor infrastruktuurontwikkeling maak nie. Voorheen het niks daarvan gekom nie.

Ramaphosa het reeds in 2018 aangekondig dat ’n gesentraliseerde infrastruktuurfonds ter waarde van R400 miljard geskep gaan word om die sektor te steun.

LEES OOK: Cyril se R400 mjd. vir infrastruktuur ‘nie nuwe geld’

Luidens FNB en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek se vertrouensindeks vir siviele konstruksie het vertroue in die tweede kwartaal van 2020 tot ’n historiese laagtepunt gedaal. Die indekspunt is nou net vyf punte.

Dit beteken 95% van respondente wat aan die peiling deelgeneem het, het nie tans vertroue in die sektor nie.

Die indeks se maksimum punt is 100. ’n Punt van 50 dui daarop dat die respondente gelyk verdeel is tussen dié wat tevrede en dié wat ontevrede is.

Die veldwerk vir dié peiling is tussen 13 Mei en 1 Junie gedoen.

Elna Moolman, ekonoom van Standard Bank, skryf in ’n nota soos dit vir haar lyk, weet sy nie hoeveel geld die staat beskikbaar gaan maak vir die ontwikkeling van infrastruktuur nie.

Moolman sê dit lyk asof die staat eerder kapitaaluitgawes gaan besnoei om só geld beskikbaar te stel vir ander fokuspunte, soos die stryd teen die pandemie.

Lys van projekte wat beplan word

Business Insider berig hoewel daar nog geen duidelikheid is oor presies watter projekte die staat binnekort bekend wil stel nie, is daar reeds talle waar werk al begin het, of wat beplan word. Dit sluit in:

  • Mokolo-Krokodil-wateraanvullingsprojek naby Lephalale;
  • Ontwikkeling van die groter Cornubia naby Durban;
  • Die Orange Riet-kanaalprojek in die Vrystaat;
  • Die Greenbay-projek in Gordonsbaai;
  • N3-opgradering: Ashburton-wisselaar na Murray Road in KwaZulu-Natal;
  • ’n Lugvaartpark by die Upington-lughawe in die Noord-Kaap;
  • Lanseria-slimstad; 
  • Port Elizabeth Waterfront-projek;
  • Ruimte-infrastruktuurnaaf; en
  • Die Limpopo Wetenskap-en-tegnologiepark in Polokwane.

Wat betref paaie, het die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) reeds gewaarsku hoewel daar tussen nou en 2023 altesame 1 209 projekte is wat hy beplan, die tenderdokumente vir baie daarvan nog nie eens uitgereik is nie. Dis weens die invloed van die staat van inperking op die sektor.

Dumi Nkabinde, bedryfs- en instandhoudingsbestuurder van Sanral, sê ook dat Sanral nie die mark met projekte wil oorval nie, en dus die getal projekte gaan beperk wat elke jaar uitgereik gaan word. 

LEES OOK: Pandemie bring groot onsekerheid in konstruksie

Nog ’n groot terugslag vir die konstruksiebedryf gedurende die staat van inperking, is die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) se aankondiging dat hy vir eers nié gaan voortgaan met groot konstruksieprojekte wat hy beplan het nie.

Tenders vir projekte soos ’n nuwe eindpuntgebou vir binnelandse aankomste, ’n nuwe eindpuntgebou vir internasionale vertrekke (R1,4 miljard) en ’n nuwe aanloopbaan op die Kaapstadse Lughawe (R3,2 miljard) asook tenders vir meer parkeerplek vir vliegtuie (R1,3 miljard) en die uitbreiding van eindpuntgebou A op die O.R. Tambo gaan nie meer uitgereik word nie.

LEES OOK: Acsa se planne vir lughawens vir eers aan skerwe

Mohau Mphomela, uitvoerende direkteur van die Meesterbouersvereniging Noord, skryf in ’n meningstuk vir Fin24 ook dat die staat al jare lank beloftes maak oor groot infrastruktuurontwikkeling, maar dat daar dan niks van kom nie.

Hy is ook bekommerd, dat sou die projekte wél aan die gang kom, in hóé ’n mate konstruksiemaatskappye dan gaan deurloop onder die sogenaamde “konstruksiemafia” wat die sektor ontwrig.

Dié “mafia” word beskryf as “gewapende bendes” wat maatskappye met geweld teister en geld by hulle afpers.

Dit was juis konstruksiemafias se optrede by die Mtentu-brugprojek van R1,65 miljard in die Oos-Kaap wat

daartoe gelei het dat die konstruksiemaatskappye Aveng en Strabag International op 4 Februarie 2019 force majeure verklaar het weens geweld en dreigemente van geweld deur lede van die plaaslike gemeenskap.

Dié projek is nóg ’n projek waarvoor ’n nuwe tender uitgereik gaan word. Sanral het voorheen bevestig dat hy gaan voortgaan met die bou daarvan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.