Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Koop dié kuns vir waarde

Kunsversamelaars of -beleggers wat na langtermynwaarde op soek is, kan gerus werke deur ’n handjievol Suid-Afrikaanse skilders oorweeg wie se werk op die oomblik ver onder hul waarde verhandel.

Só sê dr. Alastair Meredith, senior kunsspesialis van die veilinghuis Strauss & Co. Hy was een van die kenners wat verlede week lesings oor Suid-Afrikaanse kuns by Strauss & Co in Johannesburg aangebied het.

Meredith, wie se spesialisgebied waterverfskilderye, sketse, afdrukke, beeldhouwerk en Suid-Afrikaanse en Britse skilderkuns is, sonder vier kunstenaars uit:

Erich Mayer se klein waterverfskildery Campsite (St Helena). Mayer het ’n groot invloed op die vroeë werke van Walter Battiss gehad.

Erich Mayer

Erich Mayer (1876-1960), wat in Duitsland gebore is en in 1898 na Suid-Afrika verhuis het, se waterverfskilderye haal tans tipies R30 000 tot R50 000 op Strauss-veilings, hoewel sy vername werk al uitskieterbedrae van R200 520 (in 2011) en R94 690 (2009) behaal het.

Op aanlyn veilings kan ’n mens van sy kleiner werke en herhalende temas teen ’n weggeeprys kry. Sy waterverfskildery The Hikers is op 16 Julie vanjaar vir ’n skrale R2 580 op Strauss & Co. se aanlyn platform verkoop.

Talle faktore speel natuurlik ’n rol wanneer die waarde van ’n skildery bepaal word, onder meer “provenance” (’n chronologiese rekord van die eienaarskap van ’n werk: waar kom dit vandaan, waar is dit uitgestal, wie het dit gekoop teen watter prys, ens.); die toestand van die werk; en die pryse wat vir soortgelyke werke deur die kunstenaar betaal is.

Mayer is volgens Meredith nie net ’n skouspelagtige waterverfkunstenaar nie, sy werke is ook van geskiedkundige belang. Campsite (St Helena) is ’n buitengewone skildery omdat die getekende datum “1901” daarop dui dat Mayer dit as krygsgevangene op St Helena moes geskilder het. Dié klein werk, wat maar 10 cm x 16 cm groot is, is einde verlede jaar vir R20 463 opgeveil.

Pieter Wenning

Nog ’n kunstenaar wat onderwaardeer word, is Pieter Wenning, sê Meredith. Soos Mayer het Wenning, wat in Den Haag gebore is, sy kunsopleiding in Europa ontvang. Hy het kort ná die Anglo-Boereoorlog na SA gekom en in ’n skryfbehoeftewinkel in Pretoria gewerk. “Wenning was brandarm, maar hy het van die asemrowendste vroeë 20ste eeuse landskappe in Suid-Afrika geskep.”

’n Retrospektiewe uitstalling van Coetzee se werk word in Oktober in die Standard Bank-galery in Johannesburg gehou en Meredith voorspel dat dit ’n paar mense gaan skok.

Wenning se potlood-en-waterverfskets Apiesrivier, Pretoria van 1916 toon die uitsig na die Uniegebou met Meintjieskop aan die linkerkant en Government House wat na regs op die horison uitsteek. Die werk het twee jaar gelede R107 996 gehaal.

Christo Coetzee

Volgens Meredith is Christo Coetzee (1929-2000) een van die land se belangrikste kunstenaars. Coetzee was in die 1960’s ’n toonaangewende eksponent van abstrakte ekspressionisme in Suid-Afrika én Europa, wat die kunswêreld in 1975 verstom het toe hy sy kunswerke ’n dag ná die opening van sy solo-uitstalling in Kaapstad in stukke gesny het. Weens die kulturele boikot tydens die latere apartheidsjare was hy van die internasionale kunsfront geïsoleer.

“Ek dink as hy in Europa gebly het, sou hy vandag ’n huishoudelike naam in oorsese kunskringe gewees het,” sê Meredith.

’n Retrospektiewe uitstalling van Coetzee se werk word in Oktober in die Standard Bank-galery in Johannesburg gehou en Meredith voorspel dat dit ’n paar mense gaan skok.

Andrew Verster

Meredith sonder ook die kunstenaar en kostuumontwerper Andrew Verster (1937- ) uit, veral vir sy 1990-werke Fragile Paradise en Hillside no. 9. Dit is volgens Meredith in dieselfde klas as werke deur post-impressionistiese skilders soos Pierre Bonnard, Paul Sérusier en Maurice Denis wat estetika en gehalte betref. Fragile Paradise, wat oor ses panele geskilder is, is in 2016 vir R261 464 verkoop. Die kleiner Hillside no. 9 het ’n jaar tevore R43 199 gehaal.

Meer oor:  Beleggings  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.