Een van die mobiele huise wat aan die koning van rock en roll, Elvis Presley, behoort het, gaan môre deur GWS Auctions opgeveil word.

Die mobiele huis van die rocklegende Elvis Presley, wat die komende naweek onder die hamer gaan beland. Foto: GWS Auctions

Presley het in dié vergulde bad gebad.
Die “nederige” tweeslaapkamerhuis op wiele het op Presley se plaas, Circle G Ranch, in Memphis, Tennessee, gestaan.
Hy en sy vrou, Priscilla, het ’n deel van hul wittebrood in dié huis deurgebring.
Die plaas is ’n klipgooi ver van sy Graceland-landgoed geleë.
Die binnekant van die mobiele huis is onlangs gerestoureer presies soos hoe dit gelyk het toe Presley daarin gebly het.
Hy het die plaas as ’n wegbreekplek gebruik en dié is een van agt mobiele huise wat hy in die sestigerjare vir die perseel aangeskaf het.
Die huis is saam met die oorspronklike dokumente beskikbaar, wat Presley self onderteken het.
Die veiling kom kort nadat ’n private straler wat ook aan Presley behoort het, per veiling verkoop is.
GWS Auctions sê die huis is ’n stukkie rock en roll-geskiedenis, wat die hoogste bieër die kans bied om ’n deeltjie van die lewe van die sanger te besit.
Presley is 41 jaar gelede op 16 Augustus 1977 dood.