Barbara Mundell, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en tegniese deskundige by die Financial Planning Institute in Suider-Afrika (FPI), wys op ses uitgawes wat in ag geneem moet word voordat jy die koopkontrak vir ’n nuwe huis onderteken.

Jy het ’n vet spaarvarkie nodig as jy huis opsit. Illustrasie: iStock
1. Eiendoms- en verbandkoste
Daar is baie verborge koste betrokke by die aankoop van ’n eiendom, sê Mundell. Daarom is dit belangrik dat vir hierdie onvoorsiene uitgawes voorsiening gemaak word. Van die meer voor die hand liggende uitgawes wat dikwels oor die hoof gesien word, is die oordragkoste, hereregte vir eiendomme bo R900 000, verbandregistrasie en die moontlikheid van okkupasiehuur.
Daar is nou ’n tendens dat banke net ’n deel van die huisprys as verband toestaan. Min finansiële instellings gee 100%-lenings, en die koper moet die oorblywende gedeelte as ’n deposito betaal.
2. Verhuisingskoste en deposito’s
Nog uitgawes waarvan nuwe huiseienaars dikwels vergeet, is die koste van verhuising en verpakking, asook deposito’s vir water, elektrisiteit en telefoon.
Vra die eiendomsagent vir ’n lys van die gemiddelde maandelikse koste van elektrisiteit en water, en doen navorsing oor die foonlyn-pakkette wat in jou area beskikbaar is en wat jou begroting pas.
3. Verf en herversiering
Om ’n pas gekoopte huis soos ’n tuiste te laat voel, wil jy dalk ’n bietjie herversier. Doen navorsing oor verf, asook vaste toebehoorsels voordat jy die finale koopkontrak onderteken en maak seker jy kan die veranderings bekostig.
Gesels met die verkoper en vind uit of oorverf by die koopprys ingesluit kan word en of hulle jou inset oor die kleurskema sal aanvaar om koste te bespaar.
4. Verkoop om te koop
As jy jou bestaande eiendom verkoop om ’n nuwe een aan te skaf, onthou dat jy ’n munisipale klaringsertifikaat moet kry.
Party stadsrade vereis ’n deposito van tot ses maande se gereelde water- en elektrisiteitsverbruik voordat hulle die sertifikaat uitreik, wat op ’n aansienlike bedrag te staan kan kom.
Nog ’n uitgawe is ’n elektrisiën wat ’n voldoeningsertifikaat moet uitreik.
Hou in gedagte dat die eiendomsagent se kommissie tot 7% van jou eiendom se verkoopwaarde kan beloop.
5. Instandhouding
Instandhouding behoort onmiddellik af te skop om te verseker dat jou eiendom se waarde behou word. Stel ’n oorsiglys op en beplan om dit gereeld na te gaan, insluitend dinge soos verf, moontlike daklekke, nuwe matte en tuinuitgawes.
As jou nuwe eiendom ’n swembad het, moet jy ook vir die instandhouding daarvan en bykomstighede begroot.
Die beste manier om vir hierdie gereelde instandhouding voorsiening te maak, is om elke maand geld opsy te sit daarvoor. Bring boonop ook ’n noodfonds op die been te vir noodgevalle soos ’n gebarste geiser of daklekke in die reënseisoen.
6. Versekering en veiligheid
Om jou eiendom te verseker, is uiters belangrik, en as jy ’n verband het, sal dit verpligtend wees.
Premies is dikwels goedkoper indien jy, byvoorbeeld, jou motor met jou huishoudelike inhoud en geboueversekering kombineer.
Doen navorsing oor die verskillende sekerheidsmaatskappye in die area en die steun wat hulle verskaf.