Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Koop of huur - dit is die groot vraag

Moet jy ’n huis koop of ’n woonplek huur – dís die vraag.

Foto: PIXABAY

Volgens eiendomskenners hang die antwoord van ’n hele paar verskillende faktore af, wat insluit:

  • ’n Individu se finansiële omstandighede;
  • Sy of haar werkstatus en -vooruitsigte;
  • Die samestelling van die gesin; en
  • Leefstylvoorkeure, stokperdjies en aktiwiteite.

Volgens dr. Andrew Golding, uitvoerende hoof van die Pam Golding Property Group, is daar ’n sterk kultuur onder Suid-Afrikaners dat hulle hul woonplek wil besit, vanuit ’n beleggings- en ’n leefstylperspektief. Daarom bly dit die oorheersende tendens in die mark.

“Dit is egter so dat die huurmark die laaste paar jaar voordeel getrek het uit die groeiende getal mense wat om watter rede ook al nie ’n huis kan koop nie en moet huur.

“Dié mark bly baie aktief en word verder aangevuur deur ’n jonger generasie van enkellopendes, paartjies en gesinne wat nog nie in die finansiële posisie is om hul eerste huis te koop nie,” verduidelik Golding in ’n verklaring.

Dié indoena sê koop!

Carol Reynolds, Pam Golding Properties se bestuurder vir die Durbanse kusgebied, glo daarin om so gou moontlik ’n vastrapplek in die eiendomsmark te kry.

“Een opsie om te oorweeg is om ’n gesinshuis te huur, maar dan in ’n meer bekostigbare intreevlakwoonstel te belê wat jy as ’n belegging kan verhuur. So kan jy ’n ekstra maandelikse inkomste verdien en op lang termyn kapitaalgroei op jou belegging kry,” sê sy.

Dit is egter so dat as jy ’n verband uitneem, jy soms maandeliks meer sal moet betaal as wat dit jou sou kos om net die eiendom te huur. “Die uiteindelike beloning is egter dat jou maandelikse verbandpaaiemente beteken dat jy ’n eiendom besit – iets wat op medium- tot lang termyn in waarde gaan groei.

“My advies sal wees om ’n kleiner eiendomsbelegging te doen en ’n huurinkomste daaruit te verdien en dan ’n groter huis as ’n woonplek te huur.”

Sy maan voornemende kopers om te onthou dat daar altyd ekstra koste is as hulle ’n huis koop.

Dit sluit ’n deposito, oordrag- en regskoste, huisversekering, bankkoste en munisipale heffings in.

As jy byvoorbeeld in die verkeerde buurt koop, kan dit baie tyd en geld verg om jou fout reg te stel. Dit is egter nie die geval met huureiendom nie.

En as jy wil huur?

Volgens Dexter Leite, verhuringsbestuurder van Pam Golding Properties in die Wes-Kaapse metrogebied, is bekostigbaarheid nie die enigste rede waarom mense besluit om ’n woonplek te huur pleks daarvan om ’n huis te koop nie.

Daar is baie wat graag die buigsaamheid wil hê wat ’n huureiendom bied.

“ ’n Goeie voorbeeld is Suid-Afrikaners wat lank in die buiteland gewerk en dan weer na die land terugkeer – met ander behoeftes en omstandighede as wat hulle voorheen gehad het.

“Die stede of dorpe waar hulle voorheen gewoon het, het dalk heeltemal verander en daarom kan dit ’n goeie idee wees om eers vir ’n tyd lank te huur sodat hulle hul nuwe behoeftes en vereistes te evalueer, verskillende buurte te oorweeg en byvoorbeeld ’n gevoel te kry van hoe lank dit gaan neem om van die een plek na die ander te pendel,” sê Leite.

Dit is ook ’n goeie opsie vir diegene wat onseker is van hoe lank hulle in ’n sekere gebied gaan aanbly en waar hulle gaan werk.

Volgens Leite is huiskoop ’n duur, langtermyn-verantwoordelikheid. Daar is ook baie faktore wat bepaal watter soort eiendom jy koop en waar dit geleë is.

“As jy byvoorbeeld in die verkeerde buurt koop, kan dit baie tyd en geld verg om jou fout reg te stel. Dit is egter nie die geval met huureiendom nie.”

Hy meen dat om ’n eiendom te huur ook goedkoper is as om een te koop omdat jou kapitaal nie in verbandpaaiemente, deposito’s, oordragskoste en ander uitgawes soos instandhouding opgesluit word nie.

Munisipale tariewe en heffings, huisversekering, eiendomsbelasting en die instandhoudingskoste is die huiseienaar se verantwoordelikheid.

Dit is baie belangrik om goed huiswerk te doen oor ’n buurt voordat jy besluit om daar te huur of koop.

Twee kante van muntstuk

Volgens Retha Schutte, Pam Golding Properties se streekshoof in Pretoria, is daar baie goeie argumente vir altwee opsies.

Die besluit hang egter heeltemal van jou persoonlike omstandighede af.

Sy sê hoewel ’n huureiendom nie met enige ekstra uitgawes soos instandhoudingskoste en munisipale heffings gepaardgaan nie, is eiendomseienaarskap weer ’n belegging in ’n persoon se toekoms omdat die waarde daarvan groei.

“Dit is baie belangrik om goed huiswerk te doen oor ’n buurt voordat jy besluit om daar te huur of koop.

“Oorweeg onder meer hoe na dit aan jou werk en ander geriewe is, watter skole daar in die gebied is, die veiligheid van die buurt, asook die potensiaal vir prysgroei in die gebied,” sê sy.

Die volgende ou eiendoms­gesegde is steeds waar, meen Schutte: Dit is beter om die goedkoopste huis in ’n duur buurt te koop, as om die duurste huis in ’n meer bekostigbare woongebied te koop.

Meer oor:  Koop  |  Huur  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.