Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Lesers soos besige bye oor ‘bulk’

’n Storm van e-posse oor wat ’n gangbare Afrikaanse woord vir “bulk” is, het Gustaf Pienaar se inmandjie die afgelope week getref. Hy deel ’n paar van die interessante bydraes. 

  

Gustaf Pienaar besing die wonders van Afrikaans. Illustrasie: Hanlie Malan

Sjoe! Ek moes die afgelope week skoon koes vir al die inkomende e-posse oor my onskuldige opmerking dat “dekking” vir my na ’n lekker kort Afrikaanse woord vir die Engelse “bulk” voel.

Dankie vir al die werklik hoflike teregwysings van soveel van julle.

Met dié dat my matriekwiskundepunt (vanjaar net mooi 50 jaar gelede) swakker was as wat Julius Malema vir houtwerk in matriek gekry het, besef ek net weer eens: Skoenmaker, hou jou by jou lees!

Dis moeilik om te kies uit al die weldeurdagte bydraes wat ontvang is. Adv. Werner Zybrands – landwyd bekend as ’n kundige oor plaaslike bestuursaangeleenthede – se bydrae “lees” vir my die lekkerste.

Hy skryf: “Die vertaling van ‘bulk’ na ‘dekking’ is foutief. Dekking het betrekking op die begrip ‘cover­age’. Dit beteken welke oppervlak van ’n erf op gebou mag word. Dit is gewoonlik ’n persentasie van die erfgrootte. Op kleiner erwe is dit tipies hoër en omgekeerd op groter erwe.”

Erwe se benutting, verduidelik Werner, word op verskeie wyses beperk: 

  • Boulyne: Dit kan in die titelakte en ’n munisipaliteit se grondgebruikskema (land use scheme) beperk word. Die grondgebruikskemabeperking kan in bepaalde omstandighede deur die munisipaliteit verslap word. ’n Titel-aktewysiging is ook moontlik, maar is ietwat meer kompleks en vereis soms ’n hooggeregshofaansoek.
  • Hoogte: Dit kan in meter of in die getal verdiepings wees. ’n Kelderverdieping is normaalweg uitgesluit.
  • Dekking: Soos hierbo verduidelik.
  • VRV: Die afkorting vir “vloerruimteverhouding” (soos Jaap van Lille verlede week verduidelik het.
  • Die gebruiksone: Soos bepaal in die grondgebruikskema of soos deur die titelakte beperk. Afwykings is soms wel toelaatbaar deur ’n hersonering (rezoning) of toestemmingsgebruik (consent use).
  • Serwitute: Dit kan byvoorbeeld vir munisipale dienste wees of ander serwitute, soos ’n reg van weg of ’n waterleidingsreg.
  • Parkeervereistes: Dit geld veral besigheidserwe waar, byvoorbeeld, ses parkeerplekke vir elke 100 m² bruto verhuurbare oppervlak voorsien moet word.

Werner noem ’n paar voorbeelde:

  • ’n Woonerf van 1 000 m² het, sê hy, ’n dekking van 50%; ’n vloerruimteverhouding van 0,6 en ’n hoogte van twee verdiepings. Die eienaar kan dus ’n dubbelverdiepinghuis met 300 m² op elke verdieping bou. Indien die hoogtebeperking drie verdiepings is, kan hy tot 200 m² op elk van die drie verdiepings plaas. Vir bogenoemde word onbruikbare gedeeltes as gevolg van serwitute en/of boulyne buite rekening gelaat.
  • ’n Besigheidserf van 1 000 m² met ’n 90%-dekking (dus 900 m²), ’n vloerruimteverhouding van 3 (dus 3 000 m²) en ’n hoogtebeperking van drie verdiepings, laat toe dat 900 m² van die erf toegebou kan word (weer die sg. footprint), met ’n totale vloeroppervlakte van 3 000 m². In die praktyk kan die eienaar egter net 2 700 m² oprig, want dis 900 m² per verdieping maal drie verdiepings.

Werner sluit sy waardevolle bydrae af met die volgende opmerking: “Ek hoop dit help, maar help my koes teen enige kritiek!”

Let asseblief op e-posadres

Lesers, let asseblief daarop dat Gustaf Pienaar se e-posadres guspienaar@gmail.com is. Dit was voorheen c.gustafpienaar@gmail.com.

Moet asseblief nie e-posse stuur gaan gustafpienaar@gmail.com nie - dit was nog nooit hierdie Gustaf Pienaar se e-posadres nie en land by verkeerde persoon!

Jy kan bloot klik op die e-posadres in ons rubriek en die e-pos sal by die régte Gustaf uitkom.

Sal so maak, Werner. Ek weet immers nou hóé.

Baie dankie ook vir Johan en Elsa Basson (ou vriende uit ons George-dae) asook Johan Conradie, Johan Prinsloo, Jacobus le Grange en Francois Viviers vir jul bydraes wat met Werner se uiteensetting ooreenstem.

Ek het ook groot waardering vir Hannes Krynauw, ’n stadsbeplanner van Oostersee in die Kaap en sy kollega Willie Steyn van die Paarl vir hul glashelder uiteensettings.

Onder Hannes se naam verskyn ’n aanhaling wat my nogal laat grinnik het: Common sense is not a gift, it is a punishment . . .

Ek hoop dat André Coetzee, Jack Smith en James Thomson – wat vrae oor Jaap van Lille se som verlede week gevra het – ook baat sal vind by Werner se uiteensetting.

O ja, en dan het Dolf Botha van Heiderand, Mosselbaai, ’n voorstel vir ’n Afrikaanse kort woord vir bulk. Hy meen “omvang” sal die pyp rook. Dolf, moenie nou weer begin nie! (grappie.)

Kom ons sluit dié debat maar hier af – soveel hoofde, soveel sinne.

Laat ons nie vergeet nie: Almal wat bydraes gelewer het om ’n gangbare Afrikaans vir bulk te vind, is klaarblyklik lief vir ons mooi taal.

Afrikaans is vandag, jammer genoeg, weer onder enorme druk.

Ek vind dit nogal interessant dat die lewendige briewewisseling hierbo plaasgevind het teen die agtergrond van GRA-dag wat jaarliks op 14 Augustus gevier word om die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners in 1875 in die Paarl te herdenk.

Ek onthou dat ons as skoolkinders in 1959 met oorgawe aan die landwye Die Wonder van Afrikaans-feesvieringe deelgeneem het.

Die FAK het dit gereël om die 50ste bestaansjaar van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns te vier.

Afrikaanse leerlinge het elk ’n fraai wapentjie ontvang wat ons met trots aan ons klere vasgespeld het. Ek het vir Hanlie gevra om dit vir ons te skets. My wapentjie het, tot my spyt, tussen neus en ore verdwyn.

Vandag – helaas na sovéél jare – stel ek belang om te weet of ook bruin Afrikaanse skole destyds by die Die Wonder van Afrikaans-vieringe betrek is. Indien nie, sal ons dit vandag as ’n gruwelike mistasting beskou. Gelukkig het tye verander.

Soos wat ons oor ’n gawe Afrikaanse woord vir bulk kopkrap, was daar natuurlik oor die jare heen die mooiste nuutskeppings waarvoor instansies soos, onder meer, die Afrikaanse pers en die Afrikaanse radiodiens van die SAUK (deesdae RSG) lof verdien. Elkeen van julle het seker sy eie gunsteling.

Myne is “bromponie” vir scooter wat, wil ek my verbeel, die skepping van Fanus Rautenbach is.

Afrikaans is vandag, jammer genoeg, weer onder enorme druk.

Daarom is dit hartseer dat so baie taalgenote in veral die sakewêreld sonder slag of stoot Engels as hul voorkeurtaal gekies het.

Afrikaans is by diesulkes by die kombuisdeur uitgeboender (hy word selfs nie meer as die vermaledyde “kombuistaal” gereken nie). Daar is nie eens iets so eenvoudig soos ’n hartlike Afrikaanse verwelkomswoord as jy talle (hoofsaaklik Afrikaanse) sakeondernemings bel nie.

Bygesê: Dikwels maak Afrikaans plek vir swak Engels. “Swak Engels”, skryf Tim du Plessis onlangs, “het Suid-Afrika se 12de amptelike taal geword.”

’n Klein voorbeeldjie: Ek stap nou die dag in ’n oorwegend Afrikaanse buurt by ’n bouperseel verby. Daar is ’n netjiese Engelstalige kennisgewingbord waarop staan wie die bou-aannemer, argitek en ingenieur is (almal kêrels met bekende Afrikaanse vanne). Só ook word gemeld wie die site-voorman is en, lees ek – hou vas! – die klaarblyklik Afrikaanse loodgieter is ’n kêrel wat sy onderneming XXX Plumping Services noem.

Dit herinner aan daai grappies oor Plompie die paddatjie van so ’n paar jaar gelede.

Dit is tyd dat ons weer skouer aan die wiel sit om die “wonder” van Afrikaans te laat herleef. En om dit te vermag hoef ons niemand se taalregte te misken, ons swak te gedra of andersins aanstoot te gee nie. 

  • Pienaar is ’n niepraktiserende advokaat van Vleesbaai. Hy gee nie persoonlike regsadvies nie, maar beantwoord graag vrae van ’n algemene aard. Stuur e-pos vir hom na: guspienaar@gmail.com.
Meer oor:  Gustaf Pienaar  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.