Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Liefde seëvier straks ook by diere

Ná ’n jong kransvalkkuiken onlangs vir ’n wyle by Gustaf Pienaar op Vleesbaai ‘tuisgegaan’ het, het Pienaar begin wonder of diere ook ’n emosionele lewe het. 

Die jong kransvalkkuiken wat onlangs voor Gustaf Pienaar se voordeur beland het. Foto: Gustaf Pienaar

Twee weke gelede se rubriek oor Paulus se ode aan die liefde (1 Korintiërs 13) het interessante reaksies van lesers uitgelok.

Dankie daarvoor. Die soort liefde waaroor Paulus skryf is eintlik ’n daad, maar daar is ook die verskyningsvorm van liefde wat – so het ek altyd geglo – ’n menslike emosie is. Dit lyk egter nie of alle sielkundiges met my saamstem nie.

Volgens Wikipedia het ene Paul Ekman slegs die volgende ses emosies erken: woede, walging, vrees, geluk, hartseer en dit wat jy ervaar as jy deur iets of iemand verras word. Sy lys het dus nie liefde ingesluit nie. Wallace Friesen en Phoebe  Ellsworth het ’n lys saamgestel na aanleiding van dit wat tipiese menslike gesigsuitdrukkings verraai: woede, vrees, geamuseerdheid – noem maar op. Ook hul lys sluit egter liefde uit, want – het hulle straks gereken – hoe kan jou gesig nou liefde uitstraal?       

Die lys wat my egter die meeste interesseer is dié van ’n kêrel met die naam Parrott wat ses primêre emosies identifiseer: liefde, vreugde, verrassing, woede, hartseer en vrees. Elkeen van hierdie primêre emosies huisves, volgens hom, ook nog sekondêre en selfs tersiêre emosies.

So byvoorbeeld sal die woede-emosie onder meer die volgende sekondêre emosies met hom saamdra: geïrriteerdheid, ergerlikheid, raserny, walging, jaloesie en foltering. Tipiese tersiêre emosies rondom woede sluit in haat, verbittering, wraakgierigheid, kleinlikheid (“spite”) en doodgewone knorrigheid (“grumpiness”).Gedurende die afgelope somervakansie het daar iets hier by ons huis gebeur wat my by herhaling laat wonder het of diere ook ’n emosionele lewe het. Vroulief Corlina kom vertel opgewonde: By die voordeur sit ’n donsbedekte jong kransvalkkuiken. Sy geel kloue en snawel is al goed ontwikkel, maar hy het nog bitter min vere. Hy is eintlik “mooi van lelikgeit”, soos my ouma sou sê. Hy het sonder twyfel uit een van twee neste in ons omgewing – waar kransvalke (Falco rupicolus) toe aan’t broei was – geval. Hoe hy by ons voordeur beland het is ’n raaisel, want om dit te vermag moes hy ’n skotige entjie van albei neste af gestap het.                           

’n Mens se eerste instink is om die diertjie te versorg: skuiling en kos te gee, want hier is rondloperkatte in ons buurt. Om hom te probeer terugplaas in een van die twee neste is buite die kwessie: Hulle is albei te hoog en jy is nie seker by watter een hy hoort nie. Ek bel vir Kei Heins van die Fransmanshoek-bewarea – hy sal raad hê – maar die foon bly net lui. Uiteindelik trek ek my oorlede pa se sweishandskoene aan en takel die protesterende kuiken daarmee. Hy probeer weghol en toe ek hom in ’n hoek vaskeer, mik hy ’n paar vernuftige karateskoppe in my rigting.

Die oulike skets wat Pienaar se kleinseun, Luan Pienaar (6), van die jong kransvalkkuiken op Vleesbaai geteken het.

Ek laat hom vry in ons beskutte agterplaas en vroulief dra stukkies rou hoender aan, maar dit interesseer hom hoegenaamd nie. Eers toe ek hom begin voer met repies daarvan op ’n sosatiestokkie, vreet hy gulsig. Ons begin vriende word.Daardie aand slaap hy in ’n appelboks op die boonste verdieping se onderdakstoep met die glasreling aan die noordekant. Die volgende oggend is my eerste wakkerwordgedagte aan die valkie op die voorstoep.

Ek gaan kyk – net betyds om waar te neem hoe sy ma besig is om hom te voer met ’n geelvinkkuiken wat klaarblyklik uit een van die wewerneste in ons buurman se welige palmboom gegaps is. Die twee kuier op die westekant van die stoep aan die binnekant van die glasreling. Hoe die valkkuiken uit die dieperige appelboks kon ontsnap het, en hoe die ma geweet het waar hy oornag het, bly ’n misterie.         

Maar die wonderlikste van als is: Die ma voer hom nog steeds, selfs nadat hy al hoog bokant die huise op wieke van die wind sweef.

Toe bel Kei van die bewarea en ek vertel hom van die valkie. Nee, dis nie ’n goeie plan om hom iewers te laat versorg nie. “Moenie vir hom hoender voer nie; los hom op die stoep dat sy ma hom kom voer. En nee, moet hom nie water gee nie; hulle kry hul vog uit die verskillende prooie wat hul verorber”. En dis presies wat gebeur het vir die res van daardie dag: Die ma het gereeld op die stoep kom land – dan met ’n akkedis, dan met ’n veldmuis, dan met ’n  voëlkuiken in haar kloue.

En, soos ek gemaak het met die sosatiestokkie, voer sy haar telg met groot geduld. Ons het haar gereelde besoeke “meals on wings” begin noem.Later die dag kom die Wellington-kleinseuns kuier, en die valkie interesseer hul intens. 

Gou-gou praat hul van hom as “Stoepsk*tertjie” nadat ek in ’n onbewaakte oomblik hom met daardie benaming verwens het, na aanleiding van die wit blertse wat hy oral op die stoepteëls agterlaat. Die volgende dag spring hy van die balkon af en begin die tuin onder te verken. Steeds dra sy ma kos aan. Hy slaap ’n paar nagte op die oop stoep onder. Intussen kom sy veredos fluks aan en ek merk dat hy begin agterkom dat hy vlerke het. Hy laat ons toe om bitter naby aan hom te kom.     

Op ’n goeie dag vlieg hy tot op die vensterbank van my studeerkamer op die boonste verdieping aan die oostekant van ons huis. Die kleinseuns verwonder hulle aan hom. Hulle druk hul neusies teen die ruit en hy kom nuuskierig nader om op sy beurt die menslike gesiggies van naderby te ondersoek. Luan bekyk hom sorgvuldig en maak ’n fraai tekening. Tussendeur voer die ma hom pligsgetrou. Die kleinseuns ril so ’n bietjie toe hy ’n lekker vet muis voor hul oë huitjie en muitjie verslind. ’n Dag of wat later begin hy sy vlerke sprei. 

Hy mik-mik om van die vensterbank af die dieptes in te duik, maar dan begeef sy moed hom telkens. Uiteindelik kom daar ’n vlagie gunstige wind en daar trek hy – weliswaar nie te ver nie. Toe hy op die buurhuis se dak land, skaterlag die kleinseuns oor sy lompheid. Daarna raak hy die vliegkuns teen ’n verstommende tempo baas. 

Maar die wonderlikste van als is: Die ma voer hom nog steeds, selfs nadat hy al hoog bokant die huise op wieke van die wind sweef. En as sy vir hom ’n kossie bring, maak hy sulke skril geluidjies van dankbaarheid. Dis soos buurman Bekkies Muller se hanslammers wat hy tans hier in ons dorpie versorg. Ek het ook al gaan bottel gee, en verwonder my telkens aan hul stertjies wat van vreugde swaai terwyl hul gulsig drink.“

Ag, dis maar net instink,” hoor ek iemand brom. “I beg to differ,” soos die Ingelsman sê. Daardie valkiema se opoffering is suiwer moederliefde. Stoepsk*tertjie se opgewonde geluidjies vertel van vreugde en dankbaarheid. En vergeet ook nie die hanslammers se swaaiende stertjies nie.                   

  • Pienaar is ’n niepraktiserende advokaat van Vleesbaai.           

Meer oor:  Gustaf Pienaar  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.