Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Mall of Africa is trofee vir Suid-Afrika
Die Mall of Africa in Waterfall City wat op 28 April sy deure geopen het. Die ontwikkeling van dié mega-sentrum van 131 038 m² is deur finansiering van Nedbank Corporate and Investment Banking (NCIB) se eiendomsfinansieringsafdeling moontlik gemaak. Foto: Sunday Sun

Die Mall of Africa in Water­fall City in Midrand is die grootste enkelfase-winkelsentrum wat nóg in die land opgerig is. Die waarde van die sentrum beloop R4,9 miljard.

Die grootte van dié mega-sentrum met ruimte van 131 038 m² is egter nie al wat daarvan ’n baken-ontwikkeling maak nie.

D’Anvo Jones, Pretoriase afdelingshoof van eiendomsfinansiering by Nedbank Corporate and Investment Banking (NCIB), sê die finansieringstrukture wat die ontwikkeling moontlik ­gemaak het, is ewe indrukwekkend.

NCIB se eiendomsfinansieringsafdeling het uit die staanspoor opgetree as die primêre ­finansieringsvennoot van die Mall of ­Africa-ontwikkelaar, Attacq Waterfall Investment Company, ’n volfiliaal van die genoteerde Attacq.

Jones sê die sukses van die ­finansieringstrukture waarop die ontwikkeling gebou is, is ’n regstreekse gevolg van die sterk verhouding wat reeds tussen ­Attacq en NCIB se eiendoms­finansieringsafdeling bestaan het.

“Om ’n ontwikkeling van dié grootte te finansier, verg veel meer as net toegang tot finansiering.”

Dit wys dat Suid-Afrika die vermoë, kundigheid, hulpbronne en die wil het om mega-ontwikkelings te bou.
D'Anvo Jones

Hy sê dit vereis ’n sterk vennootskap tussen ’n ontwikkelaar en ’n finansier wat gevestig is op ’n gedeelde visie, wedersydse vertroue en respek, asook die vermoë om saam te werk en buite die boks te dink om sodoende met innoverende en gepaste ­finansieringsoplossings vorendag te kom.

“Die feit dat NCIB se eiendomsfinansieringsafdeling en Attacq lank voordat werk aan die Mall of Africa begin het reeds so ’n verhouding gehad het, was van kernbelang om die ontwikkeling tot op die punt te kry waar dit nou is – die opening van sy deure vir verbruikers met ’n groot aptyt vir ’n nuwe kleinhandelervaring.”

Hy vertrou dat ’n sterk mark vir ’n sentrum so groot soos die Mall of Africa bestaan, ondanks die ekonomiese uitdagings wat die land en verbruikers in die gesig staar.

“Hoewel daar diegene is wat die lewensvatbaarheid van nog ’n massiewe streekwinkelsentrum teen die agtergrond van ’n ekonomiese afswaai bevraagteken, het ons uit ervaring geleer dat ’n kleinhandelontwikkeling met goeie toegang, diverse internasionale en plaaslike huurders en ’n verskeidenheid verbruikerservarings, al die potensiaal het om te gedy – ondanks ekonomiese uitdagings op kort tot mediumtermyn.”

Hy sê Mall of Africa voldoen aan al die vereistes.

“Die sentrum se suksesvooruitsigte word verder verhoog deur sy ligging in die hart van ’n florerende en snelgroeiende nodus vir gemengde gebruik, wat insluit sterk groei in kantoorbesetting, toenemend gesogte residensiële gebiede en ’n aanloklike gasvryheidsaanbieding.”

Atterbury het seker gemaak dat dit so maklik moontlik is om by die Mall of Africa uit te kom met die oprigting van die nuwe R160 miljoen se Bridal Veilweg-oorbrug, links bo op die foto.

NCIB se eiendomsfinansieringsafdeling was ook ’n kernrolspeler in die meeste van die ontwikkelings in Waterfall voor die koms van die Mall of Africa. Dit sluit in die voorsiening van finansiering vir bekende handelsname, onder meer Cell C, Stryker en MB Technology Distribution Centre.

In antwoord op die vraag of die sentrum ’n volhoubare ­bydrae tot die groei en ontwikkeling van die ekonomie gaan maak, sê Jones, “dit het reeds”.

Tydens die konstruksie van die Mall of Africa was daar ­gemiddeld 8 500 kontrakteurs van verskillende dissiplines op verskillende tye op die perseel en dit het 4 500 permanente werkgeleenthede geskep.

Bykomend tot die beduidende ekonomiese bydrae wat die werkskepping teweegbring, vertrou hy ook dat die blote teenwoordigheid van die sentrum vir die volgende paar dekades bestendige en volhoubare ekonomiese groei en ontwikkeling in die Waterfall-gebied sal aandryf.

“Waterfall is reeds ’n stad wat teen ’n ongekende spoed en skaal ontwikkel het en die sentrum sal dié groei in die toekoms help versnel.”

Nog ’n voordeel wat die Mall of Africa inhou, is die positiewe boodskap wat dit vir internasionale beleggers en eiendomsontwikkelaars stuur.

“Dit wys dat Suid-Afrika die vermoë, kundigheid, hulpbronne en die wil het om mega-ontwikkelings te bou.”

Hy sê NCIB se eiendomsfinansieringsafdeling hoop dat die internasionale beleggingsgemeenskap meer ag sal slaan op die talle waardevolle geleenthede wat die land aan hulle bied.

Meer oor:  Nedbank  |  Attacq  |  Atterbury  |  Midrand  |  Mall Of Africa  |  Winkelsentrums  |  Handelseiendom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.