Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Mall of Africa lok al hoe meer voete
Die Allandale-gebou, deel van Attacq se “nuwe sakekern” vir Gauteng, Waterfall City.

Daar is geen keer aan die Mall of Africa, wat in sy eerste jaar gemiddeld 1,2 miljoen mense per maand gelok het nie.

In Februarie 2018 maak PwC sy hoofkantoor in die Waterfall City-kantoorpark oop, wat beteken nóg nagenoeg 4 000 mense gaan veral in die week help om die sentrum se omset te verhoog.

Mall of Africa is op meer as 131 000 m² die grootste winkelsentrum in Afrika. Meer as 4 000 mense werk permanent in die sentrum.

Morné Wilken, uitvoerende hoof van Attacq, sê die sentrum se verhouding tussen huur en omset is van die beste van enige winkelsentrum en daar is groot potensiaal vir hoër huur in die toekoms. (Die meeste huurkontrakte vir winkelsentrums word vir drie tot tien jaar gesluit, hetsy teen ’n vasgestelde bedrag of met huurstygings ingebou.)

Attacq besit 80% van dié enorme winkelsentrum in Midrand, noord van Johannesburg, en Atterbury die res.

Wilken sê Waterfall City is op koers om die “nuwe sakekern” van Gauteng te word. Die gebied het ook woonontwikkelings en kantooreiendom.

Premier Foods, Group Five, Novartis, Massmart, Cummins en Cell C het reeds na Waterfall verhuis; PwC Tower word begin 2018 voltooi en Deloitte sal in die eerste kwartaal van 2020 in die River Creek-gebou intrek.

Die maatskappy, wat in 2013 genoteer het, het Dinsdag sy resultate vir die boekjaar tot einde Junie uitgereik.

Wilken sê die afgelope jaar was ’n “oorgangsjaar” vir die maatskappy, wat in 2005 uit Atterbury gestig is. Die maatskappy het eiendom in Siprus en Serwië verkoop, volgens Wilken omdat hulle gevoel het hulle het nie die nodige plaaslike kennis nie.

Morné Wilken, uitvoerende hoof van Attacq.

Attacq het sy belang in die eiendomsfirma MAS verhoog, wat hom groter blootstelling gee aan Europese winkelsentrums.

Attacq het die afgelope jaar sy Kumasi-winkelsentrum in Nigerië geopen. Hy het nou sewe winkelsentrums in die res van Afrika – in Nigerië, Ghana, Zambië en Namibië – en gaan vir eers nie meer sentrums oopmaak nie. Die sentrums het wel elkeen ruimte vir uitbreiding.

Wilken sê hulle ervaar tog dat al hoe meer mense in die res van Afrika winkelsentrums besoek, hoewel hulle steeds ook informele markte besoek.

“Ons vind wel winkelsentrums in Afrika moenie te groot wees nie – die ideale grootte is 17 000 m² tot 19 000 m².”

Attacq se Suid-Afrikaanse portefeulje bly die hart van die maatskappy. Dis nou nagenoeg R18,1 miljard werd, waarvan winkelsentrums 58,6%, kantore 33,8%, ligte nywerhede 5,2% en hotelle 2,4% verteenwoordig. Teen die einde van die boekjaar het net 3% van sy totale beskikbare ruimte leeg gestaan.

Benewens Mall of Africa besit die groep onder meer die MooiRivier Mall, Brooklyn Mall en ’n belang in die Eikestad Mall in Stellenbosch.

Attacq beoog om oor ’n jaar sy eerste dividend van nagenoeg 73c per aandeel uit te keer.

Attacq is besig om homself in ’n eiendomsbeleggingstrust (reit) te omskep, wat na verwagting in sy 2019-boekjaar (wat in Julie 2018 begin) sal realiseer.

In syfers

Die maatskappy se netto batewaarde per aandeel het met 3,2% tot R12,84 gestyg.

Sy netto rente-inkomste het met 17,9% tot R1,3 miljard gestyg.

Die maatskappy se bedryfswins het met 35% tot R793 miljoen gedaal.

Meer oor:  Attacq  |  Eiendomme  |  Mall Of Africa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.