Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Markoorsig: Planne, sertifikaat belangrik

Verkopers, kopers en agente – neem kennis! ’n Uiters belangrike en toenemende vereiste in die suksesvolle afhandeling van enige eiendomstransaksie is die beskikbaarstelling deur die verkoper van ’n stel volledig goedgekeurde bouplanne en ’n wettige, ooreenstemmende okkupasiesertifikaat uitgereik deur die plaaslike munisipaliteit.

Of jy ’n agent, koper of verkoper is – vergewis jou van die status quo van die eiendom en maak pro-aktief seker dat daar wel goedgekeurde planne en ’n okkupasiesertifikaat is.Foto: iSTOCK

Waar almal dit nog altyd eens was dat die drie belangrikste faktore by die koop van ’n eiendom ligging, ligging, ligging is, is die drie belangrikste oorwegings deesdae waarskynlik ligging, goedgekeurde planne en ’n wettige okkupasiesertifikaat.

Met die voorgestelde nuwe Eiendomspraktisynwetgewing asook die nuwe Spluma-regulasies (Spatial Planning and Land Use Management Act), wat tans reeds in Mpumalanga van krag is, gaan die skroewe styf gedraai word. Dit kan beteken dat daar in die nabye toekoms goedgekeurde planne, deelplanne (indien en soos van toepassing) asook okkupasiesertifikate uitgereik moet wees en bewys daarvan, aan sowel die oordragprokureurs as verbandregistrasieprokureurs, gelewer word. Dit, voordat die transaksie by die akteskantoor ingedien kan word.

Elke stadsraad het sy eie by-wette en elke individuele munisipaliteit stel sy eie vereistes op – onder meer indiening by die akteskantoor met goedgekeurde bouplanne soos reeds in Mbombela die geval is. Tshwane se bywette vereis nog nie dat ’n eiendom nie oorgedra mag word sonder goedgekeurde bouplanne nie, maar die banke kan wel in die leningsgoedkeuringvoorwaardes vereis dat goedgekeurde planne en okkupasiesertifikate deur die verkoper verskaf moet word.

Dit is ’n tendens wat ons beslis in die praktyk reeds drasties sien toeneem.

Die uitreiking van okkupasiesertifikate neem gelukkig heelwat vinniger met as ’n beginselmaatstaf twee tot vier weke.

Sommige banke het reeds begin om nie die registrasie van verbande op die eiendomme toe te laat sonder goedgekeurde planne, deelplanne (indien en soos van toepassing) en okkupasiesertifikate nie, aangesien die voorsiening daarvan in sommige van hul verbandvoorwaardes as ’n spesiale voorwaarde vir waar­borg­lewering en registrasie vervat word. Uiteraard, met verreikende tydsaspek- en koste-implikasies sou die verkoper nie reeds oor die na verwysde dokumentasie beskik nie.

Hier in Pretoria help dit ook glad nie om te argumenteer en te probeer wegkruip agter “Tshwane het destyds afgebrand en my planne is daarmee heen” nie. Dit is nie die munisipaliteit se verantwoordelikheid om te sorg dat daar van elke eiendom planne moet wees nie, maar wel die geregistreerde eienaar s’n.

Belangrik is om daarop te let dat enige boustrukture soos motorafdakke, insluitende skadunetafdakke, stoorkamers, swembaddens, Wendy-huise, lapas en stoepe, ingesluit en aangedui moet word in die goedgekeurde plan-ne.

As die verkoper pro-aktief wil sorg dat sy verkoopstransaksie suksesvol binne die normale tydvak van om en by drie maande afgehandel word, moet daar dadelik werk daarvan gemaak word as daar nie goedgekeurde planne is nie, want die optrek en goedkeuringsprosesse kan van twee tot drie maande of selfs tot ses maande duur as dit ’n gekompliseerde proses is met byvoorbeeld oorskryding van boulyne of van geregistreerde serwitute – met rampspoedige gevolge deurdat min kopers bereid sal wees om só lank te wag voordat oordrag kan plaasvind.

Die uitreiking van okkupasiesertifikate neem gelukkig heelwat vinniger met as ’n beginselmaatstaf twee tot vier weke.

Dus – of jy ’n agent, koper of verkoper is – vergewis jou van die status quo van die eiendom en maak pro-aktief seker dat daar wel goedgekeurde planne en ’n okkupasiesertifikaat is. Anders kan spyt te laat kom . . .

Meer oor:  Huisgids  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.