Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Meeste verkoop nou kantore oor gelddruk

Finansiële druk is die grootste rede waarom eienaars van kommersiële eiendom hul eiendomme verkoop, wys FNB se jongste peiling onder eiendomsmakelaars.

Die sentrale sakekern in Sandton.

John Loos, eiendomstrateeg van FNB Commercial Property, sê die tendens het al in die tweede kwartaal se peiling sterk deurgekom toe die staat van inperking ingestel is, en dit het in die derde kwartaal voortgeduur.

Die peiling onder eiendomsmakelaars in Kaapstad, Johannesburg, Pretoria, Durban en Port Elizabeth wys byna 57% van eienaars verkoop hul eiendomme om na goedkoper persele te skuif weens finansiële druk. ’n Jaar gelede was dié persentasie nog op 46,8%.

Die ander belangrike redes vir verkope is om nader aan die mark te wees (26%) en om beter toegang tot vervoer, logistiek en pendelroetes te hê (21%), wys die jongste peiling.

Mense wat verkoop om groter en beter persele te betrek, het van 22% ’n jaar gelede tot 9% gekrimp.

Die peiling wys die drie kusstede het minder gelddruk op verkopers, vergeleke met Gauteng. In Pretoria wil 72% van die verkopers padgee oor hulle nie meer hul plekke kan bekostig nie, teenoor net 46% in Port Elizabeth.

Loos meen die peiling wys die ekonomiese herstel ná die inperking sal stadig wees. Dit word ook bevestig deur die baie minder huurders wat ’n goeie naam het by verhuurders teen einde Julie, vergeleke met Maart, al was die inperking teen einde Julie al aansienlik slapper.

Die inperking het baie kantoorwerkers genoop om van die huis af te werk en die kantoorsektor van die eiendomsmark herbedink sy sakemodel. Baie ondernemings lok nou hul werkers terug kantoor toe. Eienaars van groot kantooreiendom probeer mense oortuig die groter tendens om van die huis af te werk, beteken nie die dood van die kantoor nie.

Ridwaan Loonat, eiendomsontleder by Nedbank, sê kantoorruimte is hier om te bly, want dit bewaar die maatskappykultuur, help om talent te lok, ondersteun mentorskap en moedig samewerking aan.

Loonat bevestig wel dat die kantoorsektor die meeste druk weens die inperking ervaar het. Maar wat huurinvordering betref, het die subsektor tog verbasend veerkragtig gebly.

Loonat verwag wel ’n hibriede model sal ná die Covid-19 pandemie ontwikkel waar maatskappye die tendens van werk-van-die-huis-af sal kombineer met plaaslike en hoofkantore. “Hulle sal kantore anders ontwerp om sosiale afstand te verseker, en hulle sal badkamers en lugversorging verbeter, en kontakpunte met hoë verkeer tot die minimum beperk.”

Paul Kollenberg, hoof van kantoorbestuur by Growthpoint, meen kantore sal plekke word waar mense kan kom inprop vir span- en korporatiewe kultuur, en waar spanne inprop vir kreatiewe denke en probleemoplossing. Kantore sal steeds relevant bly in hul rol as sake-ruimtes, glo hy.

Meer oor:  John Loos  |  Peiling  |  Kantore
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.