Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Mense sal wel weer wil gaan fliek, glo verhuurders

Al het dit makliker en geriefliker geraak om tydens die inperkings sommer maar flieks op Netflix of Showmax te kyk, wil mense tog nog stroom na die fliekteaters wanneer ’n nuwe James Bond-fliek sy opwagting maak.

Amelia Beattie, uitvoerende hoof van die eiendomsfonds Liberty Two Degrees. Foto: L2D

Die eiendomsfonds Liberty Two Degrees (L2D) is dus nie te bekommerd oor Ster-Kinekor wat tans in sakeredding is nie. L2D het ’n baie klein blootstelling van sowat 1% aan Ster-Kinekor, met sowat 11 000 m² se ruimte wat aan die fliekteatergroep verhuur word.

Maar dit is in van L2D se topklas-winkelsentrums soos Sandton City en Eastgate in Johannesburg, verduidelik Amelia Beattie, uitvoerende hoof van L2D. Sy glo Ster-Kinekor sal so ver as moontlik werk om sy beste bates te kan behou waarin hy heelwat belê het.

Dít terwyl ander eiendomsfondse soos Redefine effe meer pessimisties is en begin kyk na opsies oor hoe om van die persele wat hy aan Ster-Kinekor verhuur, vir ander doeleindes te kan gebruik.

L2D is soos van die ander eiendomsgroepe ook bemoedig deur die relatief sterk herstel in die eiendomsektor in die vierde kwartaal van verlede jaar.

Besoekergetalle aan sy winkelsentrums was in die boekjaar tot einde Desember 30% laer as in die vorige boekjaar en huurders het hom teen einde Desember R96,4 miljoen se agterstallige huur geskuld teenoor R30,8 miljoen ’n jaar gelede.

Sy wins uit bedrywighede was dus 48,8% laer terwyl bedryfskoste met R2,6 miljoen gestyg het.

Maar L2D het volgens José Snyders, finansiële direkteur, uit sy pad gegaan om sy huurders deur die moeilike tyd van inperking by te staan. Gevolglik kon die leegstaansyfers op ’n minimum gehou word. Sy besettingskoerse in winkelsentrums is op 95,3% gehandhaaf, en ná die jaareinde het dit al tot 96,8% verbeter.

Niks is so ontmoedigend vir ’n inkopieganger om deur ’n winkelsentrum te stap en te sien elke tweede winkelvenster is met papier toegeplak nie, sê Beattie. L2D het dus soveel as R120 miljoen se huurverligting aan huurders gebied en tot 70% van sy huurooreenkomste is heronderhandel.

Selfs die restaurante in van L2D se sentrums het sterk gestaan te midde van die inperking. Beattie sê dat die restaurante by Nelson Mandela Square in Sandton byvoorbeeld steeds goed ondersteun is en herstel het omdat sy meen hulle het al ’n instelling geword onder hul getroue klante.

Sy verduidelik ook dat dit nie noodwendig sleg is om ’n leegstaansyfer van rondom 3% te hê nie. Dit gee ’n winkelsentrumeienaar die buigsaamheid en vermoë om te kan aanpas by veranderings of om nuwe huurders en produkte te kan inkry. L2D hou wel sy leegstaansyfer baie fyn dop.

Die groep se verhouding van leningswaarde-tot-eiendomswaarde was teen die jaareinde op 20,5% teenoor 16,1% ’n jaar gelede. Maar volgens Beattie is dit steeds gerieflik onder die bedryfsmaatstaf van 35% danksy verstandige bestuur van die balansstaat.

L2D het ’n verspreiding vir die volle boekjaar van 32,33c per aandeel verklaar, teenoor die vorige jaar se 60,43c.

Meer oor:  Liberty Two Degrees  |  Ster-Kinekor  |  L2d  |  Handelseiendom  |  Genoteerde Eiendom  |  Flieks  |  Winkelsentrums  |  Rolprente  |  Fliek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.