Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Min gaan geld hê vir huiskoop

Die waarde van Suid-Afrikaners se vaste eiendom gaan in die nadraai van die Covid-19-krisis nie herstel tot die vlak van voor die pandemie nie, sê John Loos, eiendomsekonoom van FNB.

Rentekoerse het die afgelope tyd gedaal, maar dit sal meer as uitgewis word deur werkloosheid en laer salarisse. Huurgeld sal nes huispryse onder druk kom. Foto: iStock

Dít bemoeilik sake vir mense wat weens finansiële druk wil inkort, veral as die waarde van die eiendom wat hulle wil verkoop, nou laer is as die uitstaande bedrag op die verband.

Aan die ander kant bied dit geleent­hede vir diegene met kontant in die hand, sê Erwin Rode, eiendomskenner van Rode en Genote.

Loos sê daar gaan in die afsienbare toekoms min mense wees met geld of toegang tot krediet om eiendom te koop, en baie verkopers.

Data van die kredietburo Tenant Profile Network (TPN) toon die persentasie van residensiële huurders wat hul huur betyds betaal, het al einde verlede jaar gedaal tot 81%, van 86% in 2013. In die eerste kwartaal van vanjaar het dit tot 78% gedaal, wat toon mense het al voor die viruskrisis begin swaarkry, sê Loos.

In 2009, ná die wêreldwye finansiële krisis, het dit tot 71% gedaal.

Peter Mennen, regshoof van TPN, het op RSG Geldsake gesê in April het ’n derde van residensiële huurders nie hul volle huur betaal nie. 16% het géén huur betaal nie.

Dit plaas verdere druk op verhuurders om hul eiendom te verkoop.

Rode sê daar is verskeie ander oorsake vir die slegte ekonomiese vooruitsigte oor die volgende paar jaar. “Een hiervan is dat sodra die ekonomie probeer kop optel, Eskom die kop sal afdruk.”

Voeg daarby die impak op Suid-Afrika van die wêreldekonomie wat net so swak is weens die virus en dus byvoorbeeld uitvoer van kommoditeite demp, en dit is duidelik dat huispryse in absolute waarde gaan daal, sê Rode.

Rentekoerse het die afgelope tyd gedaal, maar dit “sal meer as uitgewis word deur werkloosheid en laer salarisse. Huurgeld sal nes huispryse onder druk kom.”

Dit bied ’n kans vir diegene met kontant in die sak om huise teen redeliker pryse op te raap, sê Rode.

Hy waarsku ook ál hoe meer huiseienaars gaan in die benarde posisie verkeer dat hul huis minder werd is as die uitstaande bedrag op hul verband, en weens hul finansiële toestand gedwing word om te verkoop. “My beste raad aan dié mense is om spoedig en proaktief met die bank te gesels.”

Loos sê solank huiseienaars aanhou om hul verbandpaaiemente te betaal, sal dit nie ’n probleem wees as die waarde minder as die uitstaande verband is nie. Mfundo Mabaso, hoof van FNB se huisleningsafdeling, bevestig dit. “FNB sal nie die voorwaardes van die ooreenkoms verander op grond van die eiendomswaarde nie.

“Die bedrag van die lening, paaiemente ensomeer is gegrond op die hoeveelheid krediet wat aan die kliënt toegestaan en uitbetaal is, die geregistreerde verbandbedrag en wat terugbetaal is tydens die duur van die lening.

“As die waarde verander, sal die bank geen stappe doen nie, mits die terugbetalings volgehou word.”

Rode sê diegene wat die paaiemente op ’n strandhuis nie langer kan bekostig nie, het natuurlik dieselfde probleem. “Die normale raad is om te verkoop, maar in die doodsvallei van ’n resessie vind min transaksies plaas; gevolglik sal jy heel waarskynlik gedwing word om te verkoop teen ’n laer prys as waarteen jy dit onlangs gekoop het.”

Hy sê pryse van huise in vakansiedorpe is wisselvalliger as dié van primêre woonhuise, want vakansiehuise is ’n luukse en is die eerste waarop mense in geldnood besnoei.

“Weer eens ’n geleentheid vir mense met geld in die sak.”

Meer oor:  John Loos  |  Huiskoop  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Huismark  |  Huispryse  |  Vlak 4  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.