Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Modulêre voordele van skeepshouers
Foto: Pixabay

Skeepshouers is nie meer iets wat jy net in die vervoerbedryf sien nie, want deesdae word ook daarmee gebou. Leon Breytenbach van die Rawson Property Group se kommersiële afdeling stel ondersoek in.

Toe skeepshouers in die 50’s ontwikkel is, het dit die vervoerbedryf getransformeer.

Niemand kon egter voorsien watter impak dit later op die boubedryf gaan hê nie.

In 1998 het die konsep van met skeepshouers bou die eerste keer in Suid-Afrika verskyn toe die Hoërskool Simonstad ’n nuwe koshuis nodig gehad het.

Die skeepsredery Safmarine het 40 gebruikte skeepshouers geskenk en ’n koshuis vir 120 kinders is gebou.

Intussen het skeepsvraghouers toenemend gewild in die residensiële en kommersiële sektor geword omdat dit lank hou en goed bestand is teen die elemente.

Daar is wêreldwyd voorbeelde van kantoor- en woonstelkomplekse wat uit skeepshouers gemaak is.

Hoe gemaak?

Skeepshouers is ’n logiese alternatief vir konvensionele kommersiële geboue.

Dit lyk soos Lego-blokke en is daarom baie doeltreffend as jy ’n eenvoudige, modulêre gebou wil ontwerp en dit dan met ’n verskeidenheid ander materiaal wil kombineer.

Mense dink egter dikwels dat dit ’n goedkoper vorm van bou is, maar dit is nie noodwendig die geval nie. Skeepshouers word van metaal gemaak, wat beteken dat dit goeie geleiers van hitte en koue is.

Die houers kort dus voldoende insulasie, sowel as verhitting- en verkoelingstelsels voordat mense daarin kan woon.

Skeepshouers het ander afwerkings as tradisionele strukture nodig, en jy moet ook vir sekere professionele en ander dienste opdok.

Die voordele

Skeepshouers hou lank – selfs in moeilike klimaatstoestande. Dit kan maklik en sonder te veel moeite van een plek na ’n ander geskuif word.

Produksie word nie onderbreek nie en só hou dit die boukostes laag. Jy bou ook vinniger met skeepshouers en daarom is die konstruksietydperk aansienlik korter.

Geboue wat uit die houers gemaak is en goed ontwerp, afgewerk en goed geleë is, bring ’n uniekheid na die mark vir moderne kommersiële eiendomme. Dis dalk ’n aantreklike alternatief vir huurders en het ekologiese voordele.

Net in Amerika alleen is daar jaarliks 5 miljoen ongebruikte skeepshouers. Om dit te smelt en te herwin gebruik baie elektrisiteit.

As die houers egter gebruik word om mee te bou sal die behoefte aan ander boumateriaal soos bakstene en hout afneem.

Skeepshouers is ’n logiese alternatief vir konvensionele kommersiële geboue.

Wees versigtig

Gaan die bouregulasies wat in jou woongebied geld, noukeurig na om te verseker dat skeepshouers as boumateriaal toegelaat word.

Kry ’n goeie argitek of ontwikkelaar om jou te help.

Goeie ontwerp is uiters belangrik om die eenhede aan mekaar te verbind, natuurlike elemente uit te skakel én steeds stabiliteit aan die struktuur te verleen.

Alles moet heeltemal waterdig wees en daarom is kundigheid vir die ontwerp- en bouproses nodig.

Toe mense aanvanklik met skeepshouers begin bou het, was die gedagte dat dit vir lae-inkomstebehuising geskik is. Dit is egter nie meer die geval nie.

Ontwerpers, argitekte en ingenieurs het saamgespan om ongelooflike strukture te bou wat ’n regmatige plek langs ander eiendomme kan inneem.

Skeepshouers bied ’n kreatiewe alternatief vir die bou van klein winkels of geboue soos kantore en hotelle.

Dit is geboue wat vinnig opgerig en maklik in stand gehou kan word.

Meer oor:  Skeepshouers  |  Vervoerbedryf  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.