Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Moeilikste jaar nóg vir Growthpoint
’n Kunstenaarsvoorstelling van die Silo-ontwikkeling by die V&A Waterfront in Kaapstad. Growthpoint besit 'n 50%-belang in die Waterfront.

Uiters wisselvallige finansiële markte, ’n stygende rentekoersomgewing en gedempte ekonomiese groei, plaaslik en internasionaal.

Norbert Sasse, uitvoerende hoof van Growthpoint.

Dié faktore het die afgelope boekjaar die moeilikste jaar nóg in sy 15 jaar by Growthpoint gemaak, sê Norbert Sasse, uitvoerende hoof.

Hy verwag nie dat dinge voortaan makliker gaan raak nie, veral nie in die lig van die dreigende afgradering van staatskuld tot rommelstatus nie.

Ten spyte van die omstandighede, het dié eiendomsbeleggingstrust (reit) sy dividend in die jaar tot einde Junie met 6% opgestoot tot 183,8c per aandeel, in ooreenstemming met sy vooruitskatting.

Sy jaarlikse inkomste-uitkerings aan aandeelhouers het met 19,8% tot R5,1 miljard gestyg, die eerste keer dat dit die R5 miljard-kerf oorskry het, sê Sasse.

Hy sê ’n ooraanbod van handelseiendom (wat alles van winkelsentrums en kantore tot nywerheidseiendom insluit) maak dit tans moeilik om huurgroei te kry, maak nie saak waar in die wêreld jy is nie.

“Aanvanklik het die aanbod die vraag net in die kantoorsektor oorskry, maar dit het nou ook oorgespoel na die sektor vir kleinhandeleiendom toe, terwyl daar stééds nuwe winkelsentrums gebou word.”

Moeilike tyd vir verhuurders

Dit het ’n uiters mededingende verhuringsmark tot gevolg, waar eiendomseienaars wat desperaat is om hul huurders te behou, laer huurgeld sal beding en selfs so ver sal gaan as om ander se huurders te steel, sê hy.

Huurkontrakte in alle eiendomsektore raak ook korter en die norm is nou tussen drie en vyf jaar, met ’n gemiddelde van 3,4 jaar.

Aanvanklik het die aanbod die vraag net in die kantoor-sektor oorskry, maar dit het nou ook oorgespoel na kleinhandel-eiendom...
Norbert Sasse van Growthpoint

Growthpoint het in die oorsigtyd daarin geslaag om sy leegstaansyfer op 5,7% te handhaaf, dieselfde as in die vorige boekjaar. Hy het dit reggekry deur kommersiële ruimte van 1,5 miljoen m² uit te verhuur, soortgelyk aan die totale sentrale sakegebied van Sandton.

Waterfront blink weer uit

Die uitblinker die afgelope boekjaar was die V&A Waterfront in Kaapstad, waarin die groep ’n belang van 50% hou.

Die V&A het 8,5% tot Growthpoint se totale uitkeerbare inkomste bygedra. Die vertoning is aangedryf deur ’n 13%-toename in die handelsdigtheid (omset per vierkant meter) en jaarlikse groei van 22% in kleinhandelverkope, danksy die swakker rand, ’n toename in toeriste en ’n verbeterde huurdersmengsel.

Hy sê die sukses van die V&A het die aanvraag na ruimte van top-ondernemings aangevuur, wat beduidende bou-aktiwiteit tot gevolg gehad het. Growthpoint se kapitaalbydrae het R420 miljoen beloop en die groep het hom tot ’n verdere R483 miljoen vir projekte verbind.

Ontwikkeling in die Silo-gebied is meestal voltooi en die fokus het nou na die Kanaal-gebied toe geskuif om verdere inkomste-genererende bates te skep.

“Teen dié tempo sal die groep binne die volgende drie tot vyf jaar nuwe geleenthede moet ondersoek om nóg grond in die gebied aan te skaf vir verdere ontwikkeling.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.